Die Boer teater restaurant in Durbanville, wil net vir hierdie Corona virus, in die woorde van hul goeie vriend Wicus van der Merwe, sê: “Loop ja, jou ma.” Ons gaan nie terugsit en kyk hoe ons teater motbolle en spinnerakke vergader nie.  Ons het ‘n verhoog en ons gaan hom gebruik! 

Op Donderdag 11 Junie stel Die Boer teater sy eerste vertoning op ons splinternuwe digitale platform- Die Boer- by die huis, bekend.  Ja, in die gemak van jou lazy boy en slippers voor die TV of by die werk op jou smartphone  of saam met jou gesin voor die kaggel kan jy inskakel by Die Boer by die huis.

Ons skop af met een van Suid-Afrika se legendes: Koos Kombuis en saam met hom, die erg bedrewe baskitaarspeler, Schalk Joubert met die show:  Koos in Kwarantyn.   Hierdie produksie is gebore buite “wedlock” in “lockdown” spesiaal vir Die Boer. En die twee vriende was so opgewonde om uit die huis te kom en weer saam musiek te maak, dat ons hulle beswaarlik onder bedwang kon hou. Sommer daar voor die kroegtoonbank begin die gesels, kitare word uitgehaal en mettertyd beland hulle darem op die verhoog.  Grendeltyd het ook ‘n nuwe lied of twee vir Koos geïnspireer en boonop het hy begin bekfluitjie speel! Soos Koos self sê: “Nou nie so goed soos Bob Dylan nie, maar amper.”

Nou hoe gemaak om te deel in hierdie unieke konsert? Kaartjies vir Koos in Kwarantyn kos R100 en is beskikbaar by www.webtickets.co.za  Vanaf Donderdag 11 Junie om 18:00 kan jy na die konsert kyk, soveel keer jy wil, vir vyf dae.  Soos Koos sê: “Hier is nou waarde vir geld … jy kan ‘n aand met my spandeer in die gemak van jou eie huis sonder om geld uit te gee op petrol!”

Dankie aan Van Loveren wyne vir die ondersteuning van die produksie op die digitale platform.

En van nou af kan jy uitsien na vertonings met ‘n eiesoortige Boer-geur. Op 18 Junie word Backstage met Marion bekendgestel en dan volg daar kunstenaars soos o.a.  Sandra Prinsloo, Valiant Swart & Gian Groen, Dowwe Dolla & Wicus van der Merwe en nog vele ander. Wees op die uitkyk vir meer inligting oor Die Boer- by die Huis shows in die media, op ons sosiale media en ons webtuiste- www.dieboer.com

Lewer kommentaar

Leave a Reply