Nagtegaal teksprys finaliste vir 2009

Die entoesiasme en standaard van toneeltekste wat inskryf vir die Nagtegaal teksprys bewys dat Afrikaanse teater, ten spyte van finansiële beperkings en wanhoop oor teaters wat leegloop, aan die lewe gehou word deur hoopvolle en talentvolle dramaturge.

Die keurders (Denise Newman, Hennie van Greunen en professor Nico Luwes) het weke spandeer om deur die 42 inskrywings te werk. Weer eens is alle tekste anoniem en volgens die voorgeskrewe kriteria beoordeel ten einde ‘n kortlys saam te stel van vyf finaliste wie se tekste intensief en individueel deur ‘n paneel van akademici, regisseurs en skrywers ontleed en geslyp word.

Die 5 finaliste, in geen spesifieke volgorde nie, is:

· Self deur Leon Kruger

· Die Stuk deur Johan Botha

· Sonderlinge deur Daleen Kruger

· Mara Wie? deur Kobus Burger

· Kaptein Geluk deur Wikus du Toit

Van die ongelukkiges wat net-net uitgeval het, is:

· Offer deur Wiebke Mikula

· Die regte antwoord deur Martie Preller

· Een glas oog deur Anna Visser

· Formalien deur Carien Susan Smith

· Betesda deur Nicola Hanekom

Die slypskoolnaweek word hierdie jaar vanaf 16 tot 18 Oktober vir die tweede maal aangebied. Gedurende die slypskool sal elkeen van die finaliste op ‘n individuele rotasiebasis die geleentheid kry om met elkeen van die 3 beoordelaars, asook met die regisseur Juanita Swanepoel en twee fees organiseerders nl professor Dorothea van Zyl (Woordfees) en Brett Pyper (KKNK) in gesprek te tree oor sy / haar bepaalde teks.

Na die slypskoolnaweek het die finaliste ‘n verdere 2 weke om aan die tekste te werk, voordat die finale inskrywings voorgelê moet word.

Die wenstuk word op in November aangekondig en die prys sal oorhandig word by die Woordfees se bekendstelling. Daarna sal die wenstuk ook op die Woordfees debuteer en daarna optree by Absa KKNK in Oudtshoorn, Innibosfees in Nelspruit, Die Volksbladfees in Bloemfontein en Aardklop in Potchefstroom. Dit gaan ook op kleiner feeste en in ander dorpe en teaters opgevoer word.

Lewer kommentaar

Leave a Reply