‘Net ‘n Bietjie Liefde’, vra Danie Niehaus

deur Haydee Morgan

Grapmaker en storieverteller, natuur- en sportmens, rolmodel en aktiewe lid van verskeie liefdadigheidsorganisasies waaronder Kinderwelsyn en die Hartstigting van Suid-Afrika. So groot is sy passie vir kinders dat hy fiets trap tussen Kaapstad en Port Elizabeth om te help met fondsinsameling. Tussendeur skryf en sing Danie Niehaus, mis hy sielevrinne soos Tolla van der Merwe en maak hy planne vir ‘n bosbestaan met die nuwe vrou in sy lewe, Anélia Marais.

Onthou jy die liedjies “Niks is dan mooier” en “Sweef soos ‘n Arend”? Minneliedere wat onpoëtiese mans vir hulle vroue aangevra het tydens versoekprogramme. Maar Danie skroom nie om die snykant van die liefde ook aan te spreek nie. Dit maak sy musiek eg, eerlik en bo alles, baie persoonlik. Sy eerste Afrikaanse album in ses jaar, Grys Gebiede, is tydens dié jaar se KKNK vrygestel voor vol sale.

Waarop slaan die (neutrale) titel? Is dit ‘n halfwegstasie? Kan tog nie Danie Niehaus in ‘n doodloopstraat met musiek wees nie?

“Self kan ek dit nie beter stel as jy nie. Inderdaad ‘n halfwegstasie in my lewe, as mens én musikant. Maar ‘n doodloopstraat nooit. Van meet af was my musiek nooit verteenwoordigend van die Suid-Afrikaanse mark nie en gevolglik steur ek my nie veel daaraan nie, ek doen wat ek wil doen en laat my weë nie deur serebrale erosie gebaan word nie. Ek volg die bekendstelling van my nuwe album met geamuseerde belangstelling, veral omdat dit lynreg bots met die gewilde hoofstroom Afrikaanse musiek. Ek was nog nooit ‘n voorstander van die sogenaamde alternatiewes nie want selfs nou in my gevorderde jare sou ek my meer alternatief ag as enigeen van die oues (wie se skeppendheid platgeval het die oomblik toe die politieke winde uit hul seile is) of die jonges wat skynbaar nou eers die FAK-handboek ontdek het. Die res van die “oplewende Afrikaanse mark” se verlammende doef-doef techno (nou al bietjie outyds) kan eerder vergelyk word met ‘n hó-hó-tipe onderarmkrap-bobbejaanmusiek en vir dié weg het die bobbejaan ‘n kierie nodig. Die res is ‘n tipe oem-tsjie-klank wat ek noem “besproeiingsmusiek” en waarvan die water my vlam net so gou blus. Selfs al wil mens boeremusiek toe neig, verkies die mark nie ‘n volwaardige professionele boeremusiekklank nie, maar ‘n tipe ‘ek-het-ook-iewers-op-‘n-werf-‘n-standerd-agt-band-gehad’-kakofonie met ‘n monotoon-breindood-baskitaar-aanslag. Ek staan verstom en besef hoe ver verwyderd my en my mark se smake en beoordeling is. Ek wil dit nou finaal sê en klaarkry – dat ek die afgelope aantal jare diep beproef was deur die dood van albei my ouers, asook goeie vriende soos Chippy van der Merwe, Tolla van der Merwe en Koos Meyer. Boonop ‘n egskeiding en liefdesverhoudings wat my by dié halfwegstasie in my lewe gebring het. Dit het intense deurworsteling met myself geverg maar met dankbaarheid kan ek sê dat ek nou die “Groen Vallei” (een van die snitte op my nuwe cd) betree het. Dis ‘n plek van kalmte en besinning waar perspektief, rustigheid, aanvaarding en duidelikheid aan die orde van die dag is.”

Danie Niehaus
Danie Niehaus
Is dit dan makliker om oor party liedjies te praat as ander? Hoe persoonlik is die album en watter liedjie(s) praat die hardste oor jou?

“Dis beslis makliker om oor party liedjies te praat. Soos die meeste skrywers van ernstiger liedjies is daar altyd iets van jou eie raamwerk daarin te bespeur, sommige is bloot die gevolg van ‘n soort vakleerlingskap, maar die meeste is een of ander refleksie van my lewe of filosofie van die tyd. Nogal ontblotend as mens daaroor dink, amper soos ‘n skilder. Die liedjie “46664” verwys na Mandela se gevangenisnommer en Robbeneiland reg voor my huis in Bloubergstrand waarna ek al vir jare staar. Ek het die eiland al verskeie kere besoek en besluit om ‘n nie-politiese lied te skryf oor die geheimsinnigheid en genadeloosheid wat die plek omhul. Die liedjie “Vrydag die 13de” weer verwys na ‘n besoek aan Montevideo in Uruguay waar ek en my seun Taro (tans in Wallis) op besoek was en amper alles verkeerd geloop het. ‘n Baie persoonlike liedjie dus hoewel ek dink “Die Wêreld Weet”, “Grys Gebiede” en “Die Groen Vallei” praat die hardste met en oor my.”

Mark Knopfler was onlangs in Londen te sien met die bekendstelling van sy nuwe album, Shangri-La (“.this is all the Heaven we’ve got right here, it’s about getting the most out of the here and now.”) Knopfler sê mense wil liedjies hulle eie maak, omskep in iets privaat. Ek het dit ervaar by radio: liedjies soos “Jy is vrou”, “Sweef soos ‘n arend”, “Ons is musiek”, “Niks is dan mooier”, “Simone” en “Vir wat was” van die mees populêres, veral op versoekprogramme. Mense identifiseer met jou musiek. “Sweef soos ‘n arend” was een jaar onder OFM se top 100 liedjies in Bloemfontein al het die liewe Kerkorrel daarna verwys as ‘n ‘pot stront’.

“Ek ag die ouer musikante soos Mark Knopfler, Phil Collins en Eric Clapton ver verhewe bo vandag se nuwer garde wat betref egtheid, deernis, musikale vermoëns, deurwinterdheid en die vermoë om liedjies te omskep in iets privaat waarmee mense nogtans kan vereenselwig. Vir my is die groter bonus as mense iets persoonliks in my musiek kan ervaar en dieselfde emosies ondervind as dit waaruit die liedjies geskep is. Met Grys Gebiede wil ek terugkeer na my roots, en daarmee bedoel ek ‘n terugkeer na my studentejare toe daar nog nie sintetiseerde klanke was nie maar net die aardse klank van pick-kitare en folk-musiek. Die CD se hele aanslag is een van ‘n eiesoortige tipe folk/rock waar kitaarklanke met twee- of drievinger-snaarpluktegnieke deurmekaar vleg. Dit is waarmee ek aan die bedryf bekend gestel is. Lank lewe folk!”

Die groen Kabouterman en Mkomazana – ‘n Danie Niehaus legende?

“Die groen Kabouterman is ‘n fiktiewe duiwelsmannetjie of kobold wat jou folter en laat glo jou musiek is minderwaardig en het nie ‘n plek in die wêreld van toonkuns nie. Maar op die plaas Mkomazana in die Drakensberge (waar die album opgeneem is) het ek en my kollega Don Clarke (self nie ‘n cum-student in die kuns van selferkenning nie) ons beskeie musikale pogings laat geld en die muse vrye teuels gegee. As dit danksy my ‘n tipe urban legend raak, dan was ek minstens verantwoordelik vir een of ander musikale legaat. Maar pasop vir die groen musikale Kabouterman! Het Johannes Kerkorrel hom nie dalk ook raakgeloop nie?”

Die onderhoud gaan draai by radio en ek vra Danie hoe hy voel oor radio blootstelling in die algemeen want sommige kunstenaars kla (gereeld) in die gedrukte media oor te min (of geen) lugtyd op die kommersiële radiostasies. (Hulle gee RSG darem krediet). Die hartseer is hulle grootste bewonderaars en publisiteitskonsultante, gemeenskapsradio, kry nooit vermelding nie. Waar is die musikante (en akteurs) wat buite die ateljees van dié ‘liefdadigheidsorganisasies’ gaan erken (want dit is blykbaar nie mode nie) hoeveel albums en vertonings verkoop as gevolg van die toewyding van groen joernaliste en uitsaaiers wat werk sonder betaling en vir die liefde van die saak.

“Ek het nog altyd my mening gelug sonder om te skroom, maar dit kan mens duur te staan kom. As voormalige werknemer van die ou SAUK (nou SABC) weet ek hoe min lugtyd beskikbaar is vir Afrikaanse en plaaslike musiek. Vandat dié uitsenders geprivatiseer en verswart het, het my SAMRO-tantieme met meer as die helfte afgeneem. Die enigste senders wat ‘n poging aanwend, is gemeenskapsradiostasies soos Radio Rosestad in Bloemfontein waar ek nou die aand ná ‘n vertoning vir ‘n uur lank gesit en gesels het. By RSG sou dit my derduisende rande gekos het. Gemeenskapsradio verdien voorwaar groter erkenning, ondersteuning en borgskappe. Dit is nog al waar oorspronklike kunstenaars se werke openbaar gemaak word tensy jy bereid is om tot in die worsmasjien van die groter musiekmaatskappye gemanipuleer te word. Ek sê die publiek moenie meer lisensiegelde betaal nie. Laat die SABC op die harde manier leer.”

Danie se eerste kersalbum Kerslantern, is in November verlede jaar vrygestel. Hy was moeg om hoofsaaklik na Boney M kersopnames op radio te luister en hoop Kerslantern met sy nuwe skeppings soos Mynie Grové se “Kersfees Emakhaya” (Kersfees by die Huis) en sy en Beekman se eiesoortige vertolking van haar liedjie, “‘n Sonneblom uit Bethlehem” vind nog eendag goeie byval. Benut radiostasies dié album benut en beplan hy ‘n opvolg?

“Ondanks die relatief min nuwe Kersalbums op die mark, het radiostasies my Kers-CD skaars benut. Ek dink die rede was die gelyktydige bekendstelling van EMI se CD met die land se voorste kunstenaars soos Steve Hofmeyr en kie. Daar is gepraat van ‘n halfmiljoen rand se TV-veldtogte en nou ja, geld maak geld. Ek was manalleen nie daarteen opgewasse nie hoewel die reaksie van die pers meer positief na my CD met Kersduette en nuwe skeppings oorgehel het. Ek sal dit maar hierdie Kersfees weer uitreik en hoop vir die beste.”

Dan is daar die Sun City konserte en Danie se bewonderaars wat wonder oor sy gereelde afwesigheid?

“In reaksie daarop kan ek net meld dat ek op onverklaarbare wyse die afgelope paar jaar in skadu gehul was by optredes waar my voormalige werkgewer, Media 24 (toe Nasionale Pers) die botoon gevoer het. Ek verwys na Huisgenoot se Skouspel, KKNK, Aardklop, die Volksbladfees, die Gariepfees en andere. Dit is moontlik net toevallig, want ek dink my bydrae as joernalis was betekenisvol genoeg om nie die oorsaak hiervan te wees nie. Ek was immers al voorheen by genoemdes (selfs die eertydse UKKASIE-fees) betrokke as solosanger of as lid van Drie van die Bestes. Miskien is dit die stortvloed van nuwe Afrikaanse sangers en hulle TV-blootstelling, die afguns teenoor die alumni of bloot maar net omdat ek nie verteenwoordigend van die massa is nie. Ek glo ek het Media 24 die harnas in geja met my uitsprake in die media dat die gratis tentoptredes by feeste tot kuns se ondergang lei, maar ek glo hulle het dit nou self begin besef. Ek is vanjaar darem weer vir ‘n Huisgenoot-optrede by KKNK genader (dankie Ilse!) en genadiglik was ek op die kortlys van die (Steve-?) skouspel by Sun City maar is toe meegedeel dat ek weer ge-langlys is. So loop hy maar. Steve doen minstens iets reg en ons moet dalk by hom en sy bestuurder Louis van Wyk leer hoe werk bemarking regtig.”

En met sy range beweeg hy gemaklik tussen ligte opera, country en ligte kontemporêre musiek. Ek wou by Danie weet of hy al ooit ‘n album oorweeg waar hy net op een van dié genres konsentreer?

“Ek voel gevlei as resensente skryf dat ek in alle genres kan rondbeweeg en eintlik ‘n goedbewaarde geheim is. Dit is inderdaad so dat ek die heeltyd eksperimenteer en nie in ‘n bewese veld bly nie. Dit is maar my aard om nie gekompartementeer te wil word nie. Daarvoor is my siel te vry en ondersoekend. Soms kom ek naby daaraan om in een genre te werk soos my voorlaaste CD La Romantica, ‘n klassiekerige poging. Ek ag myself nie ‘n watse sanger nie, maar voel darem nie te sleg as ek sien wat wel in die mark werk nie. Suid-Afrika het seker die mees oningeligste musiekluisteraars ter wêreld, maar dis mos leeuwêreld hierdie (of is dit nou Bloubul-wêreld?)”

Danie en tenoormaats Mathys Roets en Kevin Leo is almal uitstekende sangers en ‘n trio wat op meer as een vlak net eenvoudig werk. Die albums se eklektiese liedjies bied enorme uitdagings aan elkeen. Ek wou by Danie weet hoekom.

“Die drie funksioneer nou al ‘n hele klompie jare al het ons ook maar ons sarsie skouerskuurdery gehad. Ons werk net lekker saam en ek wil dit toeskryf aan die eerlikheid en spontaneïteit van die groep. Ons sing ‘n wye verskeidenheid van dit waarvoor ons lus het en word ook nie voorgeskryf deur die publiek nie. As iets werk, is dit bloot toevallig en is ons maar te dankbaar. Die klassieke liedjies het as ‘n grap begin en so het ons onwetend al hoe groter uitdagings aan onsself begin stel.”

Nou wat van musikante en hulle orkeste (of die afwesigheid daarvan) tydens optredes. Jy skryf jy sou graag, as die fondse daar is, van ‘n orkes tydens solo optredes gebruik wou maak?

“Drie van die Bestes maak van ‘n orkes gebruik, ook lekker instrumente soos saksofone. Dit is ‘n duur pakket maar goed so! Nou is ons nog net agtien jaar agter die res van die musiekwêreld. Waar in die lewe het jy gesien internasionale sangers werk met back tracks? En as swak rugbyspelers soveel kan verdien, kan die sangers ook seker. Dit bly mos maar vermaak. Dit is ‘n sonde dat ‘n handvol verwaande Afrikaanse sangers die publiek se sakke leegjaag, maar nie bereid is om ‘n orkes te gebruik of ‘n orkeslid of twee saam te oorweeg nie. Mooi so Anton en kie. Op daardie punt sal ek julle altyd ondersteun. As ek eendag oud is gaan ek ook my eie orkes hê.”

Afrikaanse sangers is nie een groot gelukkige familie nie en ook goed so, want die aanname dat daar, op grond van taal, ook eenheid ter sprake is, is tog ‘n gruwelike fout?

“Ja, Afrikaanse sangers is beslis nie een groot familie nie hoewel daar onderling ‘n paar saamwerkbare clans is. Die bedryf is egter so klein dat nydigheid grootliks aan die orde is en kunstenaars oor niks anders as mekaar, kan kekkel nie. Al is Afrikaans ‘n minderheidsmedium is musiek die enigste universele taal en behoort daar nie ‘n plafon in Afrikaans te wees nie. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Italiaans wat floreer of jy nou die taal kan praat of niks van die klassieke weet nie. Ek vermoed politieke druk het van Afrikaanse ouers na hul kinders deurgewerk en vandaar die skielike “bevryding” van FAK-liedjies onder die Afrikaanse studente en die “nuutheid” van ‘n Zoid onder die tieners. Die Afrikaner ken egter nie die begrip eenheid nie en die aanname dat daar op grond van taal eenheid ter sprake is, is inderdaad ‘n gruwelike fout. Dit het meer te doen met groepsdruk en wat vir nou die hiep, hiep, hoera is. Dit drink lekker saam, dans lekker saam en sing lekker saam, maar dis klakkelose onkuns wat gestroop is van enige groei. Ikabod!”

Kabaret is een nóg een van Danie se liefdes. Daar was Liewe Sally in 2001 en in 2003 die revue Frankie en Freddie saam met die Noordwes Kinderkoor waarin musiek van Frank Sinatra en Freddie Mercury verwerk is. Maar hulle is few en far between.

“Hoewel ek baie van kabaret hou, is daar ‘n voortdurende gestryery onder Afrikaanse kunstenaars oor wat kabaret werklik is. Daarom hou ek my maar beskeie oor dié musiekstyl. Met Liewe Sally het mense uit die teater geloop weens my rebelsheid oor “goue koeie”. Ek moet bieg dat my aanslag ietwat kru was en skryf dit toe aan die Grys Gebied waardeur ek toe beweeg het. Miskien moet ek my in sulke tye eerder toespits op welsynsprojekte waarby ek nou al jare lank betrokke is. Een daarvan gebeur juis nog hierdie winter wanneer ons met rubberbote die Bergrivier tussen die Paarl en Velddrif aandurf ten bate van die Kankervereniging. In die verlede het ek selfs fietstogte tussen Kaapstad en Port Elizabeth aangedurf ten bate van Kinderwelsyn of tussen Kaapstad en Oudtshoorn vir die Afrikaanse Stigting.”

Danie en Anelia
Danie en Anelia
Saam met die nuwe album, ook ‘n nuwe liefde want Danie het na ‘n verhouding van vier jaar, op 2 Julie verloof geraak aan Anélia Marais.

“Sy is ‘n plaasnooi van die Limpopo met ‘n liefde vir die veld en jag, was ‘n bekwame vroueskut op haar dag. Ons is albei buitelugmense. Altwee van ons het provinsiale kleure in atletiek en is gereeld in die veld of op die see op my boot. Ons deel ook ‘n liefde vir musiek. Hoewel ek snorkelduik, het ek ietwat van ‘n sielkundige blok oor haaie ontwikkel ná ‘n nare ondervinding jare gelede saam met ‘n vriend op ‘n duikvakansie langs die suidooskus. Tydens vakansies in Sodwana en Zanzibar het Anélia my weer omgehaal om te skubaduik en nou is ek, soos sy, gek daarna. Haaie laat my polsslag nog steeds aansienlik vinniger klop. Self jag ek nie meer nie, maar is versot op die veld en sal enige dag om ‘n doringhoutvuurtjie wil sit. Ons is juis op soek na ‘n klein plasie waar ons uiting aan dié gevoelens kan gee. Anélia het ‘n B Com-graad in sport en bemarking en was betrokke by die bankwese en Supersport. Sy is ‘n puik bemarker en kommunikeerder en het besluit om voltyds my sake te hanteer. Ek het haar baie nodig omdat kunstenaars as ‘n reël nie juis goeie administratiewe mense is nie. Bowendien het sy ‘n groot bydrae gelewer om my weer positief te stem ná die dood van goeie vriende soos Tolla van der Merwe. Dit was ‘n baie moeilike tyd in my lewe.”

“Soos ‘n halwe hart … in ‘n koue hand
Soos ‘n ou legende sterwend in die sand
O ek kan net raai, maar ek kan nie sê
Hoe wyd die grys gebiede voor ons lê”
– uit Grys Gebiede

Dana Niehaus
Dana Niehaus
En jy kan nie van Danie Niehaus praat sonder om aan pa Dana te dink nie. ‘n Enigmatiese mens met ‘n teenwóórdigheid, nes Danie. ‘n Man met ‘n groot hart. Krieketkommentator, akteur (tv-reekse soos Net ‘n bietjie Liefde), kosbare plate met sy kinderstories (én stem) staan versigtig weggepak in my kas. Dana het twee goue plate gekry vir die verkope van sy jakkals-en-wolf stories. Een Niehaus op viniel, ‘n ander op laser.

“Ek wens so my pa het nog gelewe sodat ek iets saam met hom in die vermaaklikheids wêreld kon aanpak. Ons het net liggies daaraan geraak, maar ek beoog om wel sy ou kinderplate op CD oor te sit. Niemand wil egter nou pa staan vir die opnames nie, want hulle het hom nooit ‘n sent vir sy goue plate betaal nie en weet dat ek hulle gaan aanvat daaroor. En glo my ek gaan! Dis weereens ‘n refleksie van ons musiekmaatskappye se gebrek aan integriteit en hul geneigdheid om kunstenaars te misbruik vir eie gewin. Miskien kan ek tog met moderne tegnologie van sy opnames red en ons stemme saam verewig ter herdenking aan sy dood tien jaar gelede op 12 Oktober 1995.”

Ons is nog lank nie uitgepraat nie, maar die onderhoud is reeds te lank vir publikasie daarom sluit ek die onderhoud af met Danie se hartsdinge: ‘n plek in Suid-Afrika, teater, kos, ‘n tydperk of ervaring in sy lewe (hetsy op verhoog, op toer, vakansie, enigiets).

“Van my gunsteling plekke in die land is Mykonos by Langebaan waar ek ‘n boot voor anker het, die boom-savanna en diere van die Limpopo-bosveld en die inheemse bosse van die Outeniquaberge. Ek lees min en as ek dit doen, is dit iets oor die geskiedenis van ons land of sy mense. Ek kom hopeloos te min in die teater, maar kan Lord of the Dance uitsonder as een van my gunstelinge. Die lewe is tog so kort en dit voel soos gister wat ek nog ‘n BA-student op Potchefstroom was. Dit was beslis die lekkerste en mees kommerlose tyd van my hoogs eksperimentele lewe. Ek mis my ouers (pa Dana en ma Ans) en my kindervakansies op Boknesstrand aan die Kaapse Ooskus, die vreugdevolle toere saam met my kommediant-vriend Tolla van der Merwe. Ons het darem soveel pret saam gehad. Gelukkig staan sy seun Wicus nou sy plek amper vol. Ek is glad nie ‘n koskenner nie en eet doodgewone kosse soos cowboy-kos (mielies, ertjies, eier en maalvleis gemeng). Ek hou van my glasie droë rooiwyn of brandewyn langs ‘n doringhoutvuur en sit gereeld my goeie ou pêlle so en verlang.”

(Die onderhoud is einde Junie, begin Julie 2005 met Danie gevoer.)

Lewer kommentaar

Leave a Reply