Opentoe

Opentoe is ‘n komedie van idees vir twee narre en ‘n danser.

 

Die geordende Pool en sy ongedissiplineerde kollega Molleander knoop hulself in die eise van ‘n monumentale opdrag: Hulle moet onsterflike aanhalings uit al die grootste boeke van die mensdom opdiep, dit uitknip en bewaar vir die ewigheid.

Die spertyd kom nader en dit gaan doller as kop-af. Hulle werk in groeiende chaos en konflik, hulle knip en plak en maak amok in ‘n biblioteek wat hulle tronk geword het. Hulle droom van hul beloning, ‘n tropiese vakansie by die see. En heeltyd bly hulle bewus van ‘n “spook”, ‘n onsigbare wese wat hulle arbeid ontwrig, boeke skuif en rondsnuffel in hul werksaamhede.

Dis die eerste keer dat Nigel Hannah, ‘n veteraan van die balletverhoog en deesdae hoof van die dansafdeling by die Pro Arte Alphen Park Kunsskool in Pretoria, saam met akteurs aan ‘n Afrikaanse komedie gaan werk. Hannah vertolk die rol van die onsigbare Muse in die mondering van ‘n kelner wat die narre se werk ontwrig.

Die titel Opentoe is ‘n nuutskepping en samestelling van twee kontrasterende woorde, “oop” en “toe” en verwys na ‘n ontmoeting van teenoorgestelde sienings in die persoonlikhede van die twee narre, en die uiteenlopende ervarings wat boeke meebring; hoe dit vir jou wêrelde kan oopmaak, maar hoe boeke vir ander weer ontoeganklik en dus ‘toe’ sal bly. Boeke kan inlig, opvoed, ‘slimmer’ maak, oorstelp, verbyster, verveel, verwar, mislei of ontgogel.

Die premiere van Opentoe, ‘n nuwe toneelstuk deur Schalk Schoombie, skrywer van Samoerai, wat op Aardklop 2008 vol sale getrek het, vind by die nuwe Woordpoortfees in Pretoria plaas.

Opentoe
Opentoe

Met gesoute akteurs James Borthwick en André Stolz, en die bekroonde balletdanser Nigel Hannah.

Woordpoort 2009

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply