Kort op die hakke van Pichi Keane (sy/hulle) se bekroonde debuut drag kabaret Ripe ‘n Ready, is Soetsappig – ‘n eerlike blik op lewe as a genderqueer kunstenaar vasgevang in vroulike vorm – eersdaags te sien in Maart. Die fopdosser het in 2023 opslae gemaak by die Nasionale Kunstefees in Makhanda waar sy ‘n Standard Bank Silver Ovation Award opgeraap het – tesame met vele feesgangers se harte. Later in dieselfde jaar is daar met hul drag kabaret Ripe ‘n Ready ook ‘n toer van die Tuinroete voltooi, en alle venues is uitverkoop. Nou is sy opgewonde om haar eerste Afrikaanse kabaret aan te pak.
Wulps, woelig en wawyd wakker, Pichi skerts en sing oor liefde, gender, en queer wees in ‘n tyd waar almal wonder wat in jou broek sit. Soetsappig is eg kabaret, met staaltjies oor Pichi se ervaring as vroulike fopdosser en liedjies van verskeie musiekgenres wat saamgesnoer word soos Pichi probeer om die patriargie uit te pluis en feminiteit te ontlont met, onder andere, ‘n oorspronklike toonsetting van DJ Opperman se ‘Sproeireën’ en Appel se ‘Wys My Jou Lemoene’.
Pichi Keane het begin optree as haar drag persona in 2019, toe sy in Hong Kong deelgeneem het aan ‘n mentorskap program as deel van die Eaton Hotel se Women’s Festival. Daarna het sy tussen gesondheidsbeperkings deur by heelwat LGBTQ+ geleenthede opgetree as kunstenaar en emcee, selfs by die amptelike 2021 Hong Kong Pride Afterparty. As opgeleide sanger en akteur, vind Pichi verskeie elemente om mee te speel in haar solo vertonings. Een van hul persoonlike hoogtepunte van Ripe ‘n Ready was die een-oog slang burlesk nommer as Eva in die Paradys.
Vroeg in 2024, het Pichi besluit om haar fokus te rig op inhoudskepping van inklusiewe seksopvoeding op haar sosiale media platforms, en sy wil graag haar stem gebruik om kwessies wat die queer gemeenskap affekteer aan te spreek.
Selfs tussen al die gewaagde grappies deur, is daar altyd ‘n aspek van uitreik na die menslikheid in elke gehoorlid. Geen onder 18s word toegelaat as gevolg van die inhoud van die vertoning, o.a. kru taalgebruik en seksuele temas.
‘Soetsappig’ is wél vir jou as jy queer, kinky, of nuuskierig is, maar jy sal dit ook geniet as jy ‘n stoute sin vir humor besit.
Suid-Afrikaanse gehore kan selfs dalk ‘n kaalgatperske gewaar in Soetsappig op die planke by Die Boer restaurant-teater om Saterdag, 9 Maart 2024 teen 8:30nm. Kaartjies beloop teen R150pp en belangstellendes kan bespreek deur 021 979 1911 te bel of by www.dieboer.com.

