Rika en Louise

Ná haar vertoning in As die Kat weg is…. sal niemand weer met dieselfde oë na Rika Sennett kan kyk nie. Want die snobistiese Louise (die rol wat Rika vertolk) bly in jou kop vassteek. Op ‘n manier ken almal van ons ‘n Louise. En tog is daar (gelukkig) net een vrou soos sy op hierdie planeet.

Ja, jy skree van die lag vir Louise met al haar dinge in As die Kat weg is…. Sy is ‘n skaamtelose snob en baie uitgesproke. En boonop sorg sy dat mense baie goed verstaan dat sy haar klere nét by die ontwerper Simon Rademan laat ontwerp.

In As die Kat weg is…. beplan Louise se suster, Marie Pieterse (Lizz Meiring) ‘n tweede wittebrood vir haar en haar man, Neels (David Clatworthy). Wanneer Louise egter haar intrek in hulle dupleks-woonstel neem, omdat sy vermoed haar man Sarel (James Borthwick) het ‘n verhouding met sy sekretaresse, Jennifer (Natasja Jacobs) – besluit die twee susters om eerder saam op vakansie te gaan….

Rika Sennett het glad nie bekendstelling in die bedryf nodig nie. Dié boorling van Bloemfontein het reeds in Desember 1972 as ‘n professionele aktrise en aanbieder begin werk en sedertdien het sy ‘n magdom produksies op haar kerfstok.

Haar teaterloopbaan het met Adam’s Spek-tacular (Adam Leslie) begin. Sy het saam met Pieter- Dirk Uys en Robert Kirby (revues) by die Markteater gewerk en het ook in ‘n wye verskeidenheid genres in Afrikaans en Engels opgetree. Hoogtepunte van die meer as 50 produksies waarin sy opgetree het, sluit in Arms and the Man (G. B. Shaw), ‘n nominasie vir die beste aktrise vir Koopman van Venesië (Shakespeare), ‘n Maand op die Platteland (Turgenev) en As die Turksvy blom (Barillet en Gredy). Natuurlik was daar ook Die Kersietuin (Chekhov), Gesplete Tong en Harts Tog: Reisverhale van die Hart (Rika Sennett se eenvroustuk).

Sy het in agt rolprente opgetree, waarvan Snip en Rissiepit (Elmo de Witt) en Die Square (Manie van Rensburg) die hoogtepunte was, vyftien televisiereekse onder andere as aktrise in reekse soos Agter elke man en Egoli vir Franz Marx Produksies. En as aanbieder in Laat waai!, Uit die wakis en Goeie Môre Suid-Afrika (4 jaar).

Boonop het sy ook agter die mikrofoon bekendheid verwerf. Sy is ‘n opgeleide vertaler by SABC oorklanking, doen heelwat stemwerk, het buitemuurse dramaklasse by Helpmekaar Kollege gegee, was dialoogafrigter by Egoli, het toneelstukke help skryf en vervaardig (Tot die dood ons skei was genomineer vir Beste Verhoogstuk by die KKNK op Oudtshoorn) en sy is ‘n Associate Member of the Imperial Society of Teachers of Dancing (Classical Ballet – Cecchetti Method).

In As die kat weg is…. is Louise met die losbandige Sarel (gespeel deur James Borthwick) getroud. Maar dié twee het meer as net ‘n verhooghuwelik in gemeen. Hulle is in die werklikheid óók getroud en het twee dogters Kate (19) en Hannah (17).

****

Eksklusiewe onderhoud met ontwerper Simon Rademan oor sy kliënt Louise

Vraag: Hoe lank is Louise al een van jou kliënte? Wat is haar persoonlike styl?

Louise het my kom sien vir haar trourok, dink dit was die week voor haar man, Sarel, haar gevra het om te trou. Sy was smoorverlief en kon nie uitgepraat raak oor hoe hy haar figuur waardeer nie.

Sy was mal oor die manier hoe ons werk en die komplimente wat sy van almal ontvang, veral van haar suster Marie.

Sy hou veral daarvan dat ons ‘n patroon slegs een keer maak en materiale spesiaal vir haar soek wanneer ek in die buiteland is. Haar styl is “ietwat oordadig”, maar dit pas haar persoonlikheid (EN figuur) uitstekend! Sy ‘haat’ Burda-, Simplicity- en Vogue-patrone, en MOET net eenvoudig die dienste van ‘n bekende couturier (stilis en modeontwerper) hê.

Vraag: Is baie van jou kliente soos Louise?

Louise is uniek, maar sy probeer nogal hard om in te skakel by dié wat ook gereeld die modehuis van Simon Rademan besoek. Oor die algemeen is my kliënte gemaklik met hulself en raak hul kalm as ek met hulle werk.

Ek het altyd ‘n kalmeerpil nodig wanneer Louise by my is (moet dit asseblief nie vir haar sê nie, hierdie onderhoud is vertroulik, né?). Dis asof sy die goedkeuring van ander soek met die dra van my uitrustings en dit is nie hoekom mens ‘n ontwerper moet besoek nie.

Vraag: Is dit vir jou ‘n voorreg om vir Louise klere te maak?

Ja beslis! Ons het almal vir haar baie lief geword. Sy het juis vanoggend gebel vir ‘n nuwe klerekas wat haar man, Sarel, haar beloof het. Soms raak ek bekommerd wanneer sy so baie klere op een slag bestel, want sy tree soms emosioneel en impulsief op. Sy het eenkeer haar man van ‘n affair verdink en toe het sy sommer ‘n fortuin by my kom spandeer op ‘n nuwe “image”.

Vraag: Hoekom het jy die spesifieke styl vir Louise uitgekies?

Louise raak altyd opgewonde oor die ander bekende persoonlikhede wat ons klee. En dan wil sy soms dieselfde rokke hê. Natuurlik op die voorwaarde dat dit “anders” moet lyk. Sy (en dit lyk my die laaste tyd haar man, Sarel ook) boer op my webblad en bestel goed van prentjies af. Ek dupliseer nooit iets nie, en hoe meer ek dit vir haar sê, hoe meer dring sy aan op iets wat Miemie, Lindie, Sonja, of Brumilda aangehad het.

Sy kla ook gereeld dat Sarel altyd seks wil hê tydens 7de Laan en dat sy nie meer weet wat die celebs dra nie, want hy hou haar so “besig”.

Ek moet dus op hoogte bly en tussen ons twee (Louise en ek) doen ons dan ‘n glasie wyn (sy maak soms ‘n bottel klaar – afhangende van haar mood), blaai deur boeke, teken, skinder oor haar sus, Marie en Neels se vreemde verhouding en – voilla!

Vraag: Hou jy van Louise?

Ja, baie.

Sy is eerlik en sê presies wat sy dink. Ek het nog altyd vroue bewonder wat dít kan doen en terselfdertyd sag, vroulik, warm en passievol kan wees.

Vraag: Wat sal jy NIE vir Louise aantrek nie?

‘n Langbroek.

Ek sê dit ook op my webblad: ‘n vrou se elegantste look sal nooit ‘n langbroek wees nie! En Louise is die laaste waarvoor ek een sal aantrek. Wanneer ek wel vir ‘n kliënt ‘n langbroek gee, is dit omdat sy daarvoor vra en goed lyk daarin. My verantwoordelikheid as ontwerper is dan “goeie standaard, goeie materiaal, goeie passing”.

Vraag: Hoeveel verskillende uitrustings het Louise in As die Kat weg is … gedra?

Louise dra vier van my spesiaal-ontwerpte uitrustings.
1. Die Cruella de Ville-look – ‘n Jas bo-oor ‘n aand-tweestuk.
2. Die lugwaardin-look – met hope bykomstighede, alles in ligblou, behalwe die skoene en handsak in wit.
3. Die neglige-voorkoms – ‘n vollengte nagjurk met ‘n japon in koningsblou.
4. Die elegante, maar sexy look – (Louise is ‘n bietjie oud – oeps- al daarvoor.) Ek het dit ses jaar gelede al vir haar gemaak.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar