Romeo en Julia

Oor die afgelope drie eeue het William Shakespeare se Romeo and Juliet ‘n teatrale baken van romantiese liefde geword wat geslag ná geslag die verbeelding aangryp. Die storie van die verblindende liefde wat die jong Romeo en Juliet soos ‘n weerligstraal tref, is welbekend. Hul liefde word bemoeilik deur hul strydende families, die Capulets en die Montagues en ‘n burgeroorlog wat dreig om Verona te laat skeur. Die twee besluit om in die geheim te trou, maar net daarna breek die geweld weer los en die minnaars word geskei. Misverstande, die wanhoop van jong liefde en die inmenging van hul families lei tot ‘n tragiese afloop en hulle sterf in mekaar se arms.

Die temas van onmoontlike liefde tussen histories vyandige partye en die offer wat ‘n jonger geslag bring om die heersende orde te bevraagteken en ondermyn, is deur die eeue in talle gedaantes omvorm, elk met ‘n spesifieke aanslag en insig. Die onlangse sukses van die Baz Luhrman rolprentweergawe met Claire Danes en Leonardo DiCaprio het byvoorbeeld die klassieke teks opnuut vir ‘n jonger gehoor toeganklik gemaak.

Die veelbekroonde Belgiese digter, romansier en dramaturg Peter Verhelst het ‘n groeiende internasionale reputasie ontwikkel vir sy snydende, poëtiese en ongenaakbare insig in die groot klassieke tragedies. Binne Verhelst se oeuvre is die mens ‘n selfvernietigende masjien wat in ekstreme en sensuele taal verwoord word. Verhelstse verwerking van die Oresteia, AARS! (Anatomiese studie van die Oresteia), is in 2001 en 2002 met groot welslae in Suid-Afrika opgevoer as loodsproduksie van die produksiemaatskappy Vleis, Rys & Aartappels. Verhelst se Romeo en Julia (Studie van ‘n verdrinkende liggaam), die tweede toneelstuk uit sy pen, is in 1999 vir dertien akteurs geskep. Dit het ‘n kontemporêre aanslag wat die fascistiese impulse wat uit die aanhang van ‘n partriargale orde ontwikkel, tot op die been oopvlek. Die behoefte om sin te gee aan ‘n wêreld wat dit afwys, asook die onmag wat hieruit vloei, is ander belangrike temas. Die mens se eeue oue stryd op die glyskaal tussen orde en chaos word die gegewe vir Verhelst se mistieke, eietydse verhaal wat ewe tuis is in 2005 as in die 16de eeuse Verona.

Vertaling, ontwerp en regie: Marthinus Bassson Produksie: Vleis, Rys & Aartappels . Beligtingsontwerp: Albert Snyman
Met Jana Cilliers, Antoinette Kellermann, Dawid Minnaar, Mbelelo Grootboom, Danie van Rensburg, Stian Bam, en Jannie Gagiano

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar