There is no production (… of is daar?)

Die regering se departement van gesondheid gaan die R67 miljoen wat hulle nie kon aanwend om VIGS te beveg nie, weggee. ‘n Kollega – noem hom maar Sipho, vertel my so ‘n paar jaar gelede hy doen gereeld VIGS-teater. En verdien so R5 000 ‘n week. Ek simpatiseer – my kollegas wat VIGS-teater doen, kry ook maar soveel. En dis min as jy die spelers, motors, petrol en ‘n swetterjoel ander logistieke kostes moet dek.

Nee, hy kry R5 000 per show! Net hy! En hy doen soms twee per dag. Tik my om met ‘n veertjie. Hoe die departement van gesondheid dan nie die miljoene kan uitgee nie is duidelik. Sipho sou by ons ‘n miljoenêr geword het. Binne maande. Ons werk elke dag. Week na week. Jaar in en jaar uit.

Nee wat. Stry maar die stryd vir die behoud van Afrikaans by Laerskool Mikro; by Stellenbosch en elders.
Stry oor die twee Xhosa padwerkborde by die Melkbos-pad na die N7, stry oor die groepie Xhosa kinders wat die Afrikaanse skool in Atlantis in Engels laat stilstaan.

Stry oor die Wes-Kaap Imbizo – waar my pleidooi op ses of sewe terreine deur een leuen van hul omstrede Adv (lees Die Son) van die tafel gevee word; en deur die goedkeurende stilswye van sy kollegas. Wat my laat dink –

Stry oor kinderverkragtings, stry oor VIGS, stry oor vrouemishandeling, kindermishandeling, bendes, swak selfbeeld, uitsigloosheid.

Stry oor die nasionale imbizo – waar Xhosas, Engelse en Afrikaanses soos een man vra waar die oor en die beurs is wat moet kyk na ons kulture. Ek dien op hul versoek my vrae skriftelik in sodat almal op die dag ‘n kans kan kry om te weeklaag. Die Dr se departement antwoord my vrae maande later – deur die algemene brosjure vir wat hulle doen en nie doen nie, aan my te e-pos.

Stry oor daar byna geen skool meer is waar my kinders Xhosa kan leer nie. Watter sirkus lê voor nou dat dit verpligtend word.

Stry omdat die Lotto nie eens een van ons teaterlegendes se poppekas – wat hy vir laerskole aanbied, wat opheffingswerk is, en wat seker soos manna met konfyt en kaas moet wees, steun nie. Wat nie eens my liefste, eerlikste bruin of swart kollegas uit die diepste deel van Khayelitsha, steun nie.

Stry maar. Dan kyk ons wie hoor. Dan belê ons in ‘n oor wat verstaan waarvan jy praat.

En nog ‘n paar sentimente later, nog so een of twee toneelstukke wat ‘n hartsnaar raak, nog goeie TV-reekse wat die trots aanwakker, en elke Afrikaanse ou staan tou om die kultuur te ondersteun. En ondersteun ons iemand soos Ivor Price wat Dr Jordan antwoord op sy gemaklike Jordan-styl met die afmaak van belangrike dinge – soos my nege vrae op die imbizo. Maar soos wyle Pierre Marais, radio-omroeper, sou sê: “Hoe nou die Afrikaanse kultuurkloutjie by die nasionale regering se VIGS-oor bring?”

Snaaks die R67 miljoen beland nie by Love Life nie. Dis hulle wat die weggooi-tydskrif in die Sunday Times doen. Wat wie lees? Hulle het ook groot advertensieborde, ‘n reuse klanktrok – hulle het selfs by die jeugfees op Oudtshoorn so vier jaar gelede, ‘n verhoog gehad waarop hulle eerder Amerikaanse musiek gespeel het as fokofpolisiekar. Ons VIGS-musiekproduksie in Afrikaans, Engels en Xhosa moes vinnig van daai verhoog af indien ons nie ons ore uitgeblaas wou hê nie, dit nog voor ons na optredes kon ontruim.

Wel hoe groter geld, hoe groter lawaai, hoe dikker die tydskrif, hoe volopper die gratis kondome, hoe meer sukses, raai ek.

Teater met verfrissende storielyne, pragtige musiek, en aangrypende spel (humor en tragedie) word dag in en dag uit aangewend om euwels te beveg wat dreig om groot dele van die Kaap te versmoor. Terselfdertyd bewys dit diens aan die gemeenskap deurdat dit teater bevorder; en teatergehore ontwikkel. Dis ‘n riem onder die hart dat die Nasionale Kunsteraad seker eers die kat uit die boom kyk om seker te maak van die sukses van die soort werk. Want dis die enigste verklaring waarom hulle nog nooit enige van die projekte ondersteun het nie. Hulle wil seker een van die produksies self sien; dis seker hoekom ons op een van ons ses of sewe aansoeke om ‘n produksie te ontwikkel, die antwoord gekry het – hulle befonds ons nie want “there is no production!”

Weet die burgemeester as sy die bouwerk vir nog ‘n jaar sal laat stol, dit al so vier jaar gestol sal wees, en omdat dit so ‘n jaar sal neem om te voltooi, dit nog drie jaar sal neem voor die wit, bruin en swart plakkers by Melkbosstrand ‘n winter binnenshuis sal kan deurbring.

Soos Ivor Price sê – die minister moet bietjie luister – ander mense as die whiteys kla tog ook. Almal kla in alle tale – ek dink dis net oor Afrikaans so ‘n mooi taal is, en die minister dit verstaan en selfs na aan die taal grootgeword het, dat hy die stem hoor uitstaan?

So dis nie te sê as niemand niks doen nie – is daar no production nie. Dit mag dalk net so lyk …Albert Maritz

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar