Agteros en Blinnesambok

Kerneels Willemse het besluit om ´n nuwe blaadjie om te slaan. Kom wat wil, vandag sál daar kerk toe gegaan word. "Kom Dolla! Ons gaan laat wees," jaag hy sy vrou aan."Start solank die kar, ek sit net gou lip-stick aan," skreeu sy terug vanuit die slaapkamer.

"Daar is mos ´n spieëltjie agter die sonskerm. "Maak nou gou!"

"Ek wens hy wil relax. Wat’s hy so getense? Dis net kerk, nie ons troue in die Methodists toe hy sy naam so met die Engels geruk het nie," dink sy terwyl sy haarself vir oulaas in die spieël bewonder. "Die pad is te sleg en jy sê self die kar se shocks is klaar!" skreeu sy terug terwyl sy haar grimeermiddels haastig in haar handsak gooi en vir vir klein Neelsie op haar heup tel.

"Sy’s eintlik flippen mooi, al het sy bietjie dik geraak na die baby en al kan sy soms bietjie vain wees," dink Kerneels as sy die huis se voordeur sluit en kind-op-die-heup met haar hoëhakskoene nadertrippel. "Jy’s mooi genoeg sonder make-up. Te veel laat jou goedkoop lyk."

"Ek lyk g´n cheap nie," kap sy venynig terug.

"Aag toe, Dolla, ek speel net met jou. Jy weet ek maak jou net bietjie kwaad. Ek like mos ´n bitch. Maar ons moenie laat wees nie. Ek hoor die Potch-mense is baie la-die-da."

"Fok hulle almal. Ek gaan t´rug Welkom toe as hulle my kak gee."

"Toe nou, dis nou genoeg. Neelsie gaan net soos jy begin praat. Ons is arm, maar darem feitlik ordentlik," probeer hy haar kalmeer en hy sidder as hy net daaraan dink om naby sy skoonma te bly. "Ja-nee, ou Poppy is nie mak nie. Drie mans kon haar nie tem nie," dink hy by homself as hy die warmgemaakte Citi Golf se toere opjaag om sy ongeduld te kenne te gee.

"OK, OK, ek´s in," sê sy nadat sy die kind op die agtersitplek neergelê het en saam met hom agterin klim. Sy slaan die deur met al haar krag toe.

Kerneels gee haar een skewe, vuil kyk oor sy skouer as sy sy trots so mishandel en trek met tollende bande weg. Hy stop net betyds sodat hy nie sommer die plothek oopry nie. Dolla klim uit om die hek oop te maak en sorg hierdie keer met die uitklim én die terugklim dat sy die deur baie beskaafd toemaak, want sy ken daardie kyk. Kerneels is baie erg oor sy kar. Hy trek haastig weg en ry veels te vinnig vir so ´n slegte grondpad en boonop met ´n kind aan boord, maar hulle is laat vir kerk en hy wil nie ´n slegte indruk skep nie. Hy wil sommer reëlings vir volgende Sondag se doop tref. Hulle kan dit nie meer uitstel nie. Ou Poppy sê juis as hulle nog so ´n rukkie wag, kan Neelsie sommer self tot by die doopvont stap. Op pad kerk toe bespreek hulle Kerneels se nuwe werk by die Ford Garage en altwee is dit eens dat dit beter is as om op die myn by Welkom te werk. Hulle neem hulself opnuut voor om ordentlik voor Neelsie te praat, want die sielkundige op die radio het gesê mens kan die kind confuse en Emsie Schoeman sê ook dis slegte maniere om jou taal te mix. Hulle besluit ook dat dit beter is om buite op die plotte te bly, want die huise is goedkoper daar. Daar is ook meer ruimte vir Kerneels se private jobs. En deur die hele gesprek sukkel Dolla met haar grimering. Hulle sien al Potchefstroom toe die motor sy eerste sluk gee. Die Golfie sluk nog so twee keer voordat dit tot stilstand kom.

"Wat´s fout, Kerneels," vra Dolla benoud.

"Dis weer daai blerrie petrolguage. Hy wys nog half, dan’s die juice al klaar," kerm Kerneels.

"Ek het jou gesê jy moet eers kyk na die kar voor jy sukkel met die private jobs. En vir wat gooi jy nie petrol in die kar nie. Jy weet mos die ding loop nie op fumes nie. Dit kry jy nou daarvan as jy my die heeltyd aanjaag. Nou gaan ons laat wees deur jou agterlosigheid," vryf sy dit in.

"Moet net nie panic nie. Kyk solank of jy nie ´n kar kan stop nie. Miskien is dit net die filter wat vuil is. Dis baie moontlik met hierdie stofpaaie," probeer hy haar van sy rug afkry.

"En as ek hom gestop het, wat dan?" vra sy kwaad.

"Dan vang ons ´n lift tot in die dorp. Ons kan die dominee of iemand vra om ons te help as die kerk uitkom."

Kerneels is nog besig om te praat toe hulle ´n voertuig teen ´n verbysterende spoed in die pad sien aankom. Dolla trippel tot byna in die middel van die pad om seker te maak dat die bestuurder sal sien dat hulle in die nood is. Sy lig beide haar arms en swaai wild met haar deurskynende plastiekhandsak om sy aandag te trek. Toe sy sien dat hy nie spoed verminder nie, moet sy haar litte roer om uit die pad te kom. Hy swaai uit om haar te mis en kry dit net-net reg, maar hy los haar in ´n stofwolk wat so dig is dat Kerneels haar vir ´n paar oomblikke nie kan sien nie. Toe die stof uiteindelik gaan lê, is Dolla asvaal, deels van die stof en deels van skok. "Ek sal jou kerriekop en sproetgevreet onthou!" skree sy woedend agterna toe sy uiteindelik tot verhaal kom.

Abrie Maree sien iets voor hom in die pad en kyk of hy kan uitmaak wat die registrasienommer is van die motor wat langs die pad staan. "Nee wat, hou maar verby. Dis Vrystaatse tappets," besluit hy as hy net die FS agter die registrasienommer van die Golf uitmaak. Die volgende oomblik sien hy vir Dolla, maar swenk skerp na regs as hy sien dat sy nie van plan is om pad te gee nie. Sy vinnige blik op haar kort, poeierblou rompie wat styf om haar vol heupe span en haar hoëhakskoene en visnetkouse laat hom besluit dat sy oordeel oor die mense reg was en hy hou verby. "Is jy befok in jou kop, vroumens?" skree hy hardop as hy vir haar moet uitswenk.

Dolla besluit die idee om in die pad te gaan staan, is veels te gevaarlik en sy gaan staan hand-op-die-heup by Kerneels waar hy doelloos aan die Golfie vroetel. Hy het die hele petalje aanskou en hy sukkel om sy lag te hou as hy daaraan dink dat dit lyk asof Dolla haar onderlaag bo-oor haar grimering aangesit het. Haar poeierblou rompie is ook nou meer poeier as blou en haar wit bloesie was ook al witter. "Wat’s fout, Baby," vra hy gemaak ernstig as hy opkyk wanneer die gewig van haar blik op hom te swaar word.

"Daai rooikopdoos het my nou net amper in my moer in gery en jy staan en maak kamtig kar reg!"

"Kalmeer nou maar, ek sal die volgende een probeer stop," paai Kerneels.

"Jy’s fokken reg," antwoord sy kwaad en gaan sit weer langs Neelsie. Kerneels bly maar stil, want hy sien Dolla is nou baie ontsteld. Hy hou van haar as sy kwaad is, maar net tot op ´n punt. Dan word sy soos haar ma en dit is nie ´n mooi gesig nie.

Vyf minute later gewaar hulle weer iets in die pad. Hierdie keer jaag die persoon darem nie so vinnig nie. Inteendeel, hy ry so stadig dat dit wraggies lyk of hy gaan stop. Nie Kerneels of Dolla, wat weer haastig uit die Golf klim, doen verder moeite om die bestuurder se aandag te trek nie, maar dan versnel hy skielik en die bestuurder kyk anderpad terwyl hy verby ry.

"Seker een van hierdie windgat Wes-Transvaal boere," sê Kerneels as hy die vierwielaangedrewe voertuig agternastaar. Dolla gee die man die vinger en Kerneels maak iets uit van stuck-up en asshole.

Dominee Daniël van der Walt ry in sy Toyota Land Cruiser en luister na die slotgesang van die vroeë oggenddiens as hy iets in die pad gewaar. Hy tel sy verkyker op en kyk sommer so in die ry of hy kan uitmaak wie dit is. Hy verminder drasties spoed sodat hy nie beheer oor die voertuig moet verloor terwyl hy deur die verkyker kyk nie. Hy ken nie die mense langs die rooi Golf met die Vrystaat registrasienommer nie en dink by homself dat dit darem sleg sal lyk as die herder van die gemeente ná sy kudde by die kraal sal aankom. Om seker te maak dat hy nie miskien herken sal word nie, kyk hy anderpad en neem hom voor om die mense te help as hy van die kerk af terugkom. Dit is nou te sê as hulle nog daar is. Hy kyk in sy truspieëltjie en hy is seker hy sien hoedat ´n vrou ´n obsene teken wys.

"Neelsie is baie dors. Ek het gedink ons sal sommer iets in Potch vir hom kan kry om te drink," sê Dolla mismoedig.

"Miskien moet ons maar dorp toe stap. Dis darem nie meer so ver nie. Kyk, mens kan darem al tot daar sien," antwoord Kerneels.

"Jy’s seker mal! My voete sal dit nooit hou met die high heels nie en ek kan nie kaalvoet loop nie. Die klippe sal my seermaak," sê Dolla.

"Ek kan jou ook nie alleen hier los nie. Dis te gevaarlik," antwoord Kerneels.

Net toe gewaar hulle weer iets in die pad. Hierdie voertuig beweeg nog stadiger as die vorige een en die twee staan en verkyk hulle aan die vreemde gedoente terwyl Neelsie luidkeels begin huil. "Hokaai!" sê ´n goedige ou swartman op die bokwa as dit langs Kerneels en Dolla tot stilstand kom. "Klim maar op, Baas. En die nôi met die kind ook. Waarheen kan ek julle vat?" wil hy weet.

"Ons is eintlik op pad kerk toe, maar ek weet nie mooi waar dit is nie," antwoord Kerneels.

"Ons sal hom kry," sê die drywer. "Daar hang ´n watersak onder die wa. Ek hoor die kleinbaas hy huil al van die dors."

Kerneels leun oor en haak dit af. Dolla gee vir Neelsie ´n bietjie water en hy word dadelik rustiger.

"Kom Agteros, kom Blinnesambok!" beveel die drywer die twee osse en hulle begin self aan te stap sonder dat hy ´n sweep hoef te klap. Hulle ry ´n hele rukkie en uiteindelik kom hulle voor ´n kerk tot stilstand.

"Snaaks genoeg, dis ons kerk hierdie," dink Kerneels. Hy kan nie onthou dat hy aan die ou swarte genoem het dat hy aan hierdie kerk behoort nie. Boonop was hy verlede jaar laas met hulle moettroue in die kerk en dít in sy skoonma en Dolla se kerk op Welkom. Kerneels bedank die drywer en hy help Dolla van die wa af en die twee van hulle met Neelsie op Dolla se heup sluip om die kerk tot hulle ´n sydeur vind met ´n bordjie daarop wat sê MOEDERSKAMER. Kerneels maak die deur stadig oop en bespied eers die wêreld voordat hy dit stadig binnetoe waag. Hy gee vir Dolla die teken dat alles veilig is en sy waag dit ook suutjies na binne en gaan sit met Neelsie op haar skoot. Kerneels gaan sit langs haar en hulle is net betyds om die opsomming van die dominee se preek oor die luidspreker te hoor. Hy praat oor die ryk, jong man en hoe jy nie God én Mammon kan dien nie en hoe dié wat eerste is, laaste sal wees en hoe dié wat die minste is, die meeste sal wees. Net voor die slotgesang en uitspreek van die seën herinner die dominee die gemeente aan die aanddiens en dat die skrifgedeelte Lukas 10:25-37 sal wees met ´n enkele verwysing na Mattheus 5:7. Die deurkollekte sal gaan vir barmhartigheidsdiens. As daar enige nuwe intrekkers is, sal hy hulle ongelukkig nie vandag kan ontmoet nie. Hulle moet asseblief gedurende kantoorure met die skriba in verbinding tree om ´n afspraak te reël.

Abrie Maree gaan haal ´n leë kollektebordjie in die konsistorie en stap flink en regop voor die gemeente verby na die binnedeur van die moederskamer. Daar is ´n deur wat die konsistorie en moederskamer met mekaar verbind, maar Abrie gebruik dit nooit. Hy sorg altyd dat hy iets in die diakoniebank moet gaan haal en dan stap hy oor na die moederskamer. Gewoonlik maak hy die deur heeltemal oop sodat so veel as moontlik van die gemeente kan sien wie die mense in die moederskamer is. Baie keer is dit laatkommers wat te skaam is om hulle gesigte te wys. Hy wonder wie dit is wat hy vanmôre gaan vang en hy flerts die deur met ´n oormaat selfvertroue oop. Hy kyk reg in Dolla se vaal gesig vas. Hy onthou die wilde bos blonde hare en vir ´n paar oomblikke verander hy in ´n soutpilaar. "O fok!" is al wat hy kan uitkry en hy klap die deur so hard toe dat Neelsie hom boeglam skrik en onbedaarlik aan die skree gaan. Die orreliste hou vir ´n oomblik op speel en Dominee Daniël word wreed uit sy meditasiesessie geruk en kyk Abrie vraend aan. Dié maak hom met ´n vinnige drafstap na die konsistorie uit die voete terwyl die ander diakens skouerophalend na mekaar kyk. Buite die kerk spring Abrie nog met kollektebordjie en al in sy wit Jetta en jaag huis toe. Hy dink al aan verskonings vir sy ongewone optrede en besluit dat dit beter sal wees as die gemeente hom nooit weer sien nie.

"Dis daai fokken kerriekop!" sis Dolla as Kerneels haar begriploos aankyk en hy reageer net betyds as sy wil opspring om agter Abrie aan te hardloop. Hy pluk haar ferm terug op die bank en Neelsie hou stomp op met huil as sy ma so skielik weer gaan sit.

"Nie in die kerk nie, Dolla," waarsku Kerneels en kyk haar kwaai aan. "Onthou, ons is nie common nie."

Buite die kerk wag die bokwa met Agteros en Blinnesambok nog steeds. Die drywer sit eenkant onder ´n akkerboom se koelte en wag. Kerneels stap oor na hom toe en vra of hy maar weer ´n lift kan vang tot by sy kar, want die dominee is blykbaar baie besig.

"Die priester is klaar weg," antwoord die drywer.

"Hoe weet jy?" vra Kerneels.

"Ek het gesien."

"Waarmee ry hy?" vra Kerneels verder uit.

"Ek kon nie sien nie," antwoord hy.

"Kan sien, kan nie sien nie. Watter een is dit nou?" vra Kerneels ongeduldig.

"Altwee," antwoord die drywer. "Ek is blind, maar ek is met die helmet gebore. En die osse is ook my se oge. Vat hierdie leë kan en gaan koop petrol by die garage op die hoek." Kerneels kyk vir die eerste keer mooi na die drywer se oë en sien dat altwee dof is. Hy huiwer effens om die leë JIK-bottel te vat en die drywer hou dit nog ´n bietjie verder uit. Kerneels gryp die kan en hardloop oor die straat waar Dolla nog met Neelsie staan en wag. "Gee my die geld in jou handsak," beveel hy Dolla.

Sy oorhandig vir Neelsie aan sy pa en haal die geld haastig uit haar deurmekaar handsak. Dan plaas sy die kind terug op haar heup en gee die geld net so gefrommel aan Kerneels. Gewoonlik stribbel sy teë as hy geld van haar vra, maar iets sê vir haar hierdie is nie een van daardie kere nie.

Tien minute later is Kerneels terug met die JIK-bottel vol petrol en die drie Willemse’s en hul drywer vat die pad plotte toe aan teen ´n rustige pas.

"Hoe het die osse aan hul name gekom?" vra Kerneels terwyl die gemeentelede hulle nog agterna staar.

"Agteros is Agteros omdat hy altoos agter is, en Blinnesambok was eers Voorslag. Toe eendag toe slaan ek Voorslag se oog uit met die sweep se voorslag van kwaadgeid. Daai dag het ek blind geword, toe doop ek vir Voorslag Blinnesambok."

"En jou naam?" vra Kerneels.

"Hulle noem my Dawid. Dawid Baster. My ma was ´n vrou van anderkant die water en sy was ook met die helmet gebore."

´n Halfuur later gooi Kerneels petrol uit die JIK-bottel in die Golf en hy dink daaraan dat dit darem ´n gawe toeval is dat ´n 5-liter JIK-bottel se tuit presies in die opening van ´n Golf se brandstoftenk pas. Na drie keer se probeer vat die motortjie en is hulle gereed om te ry. Hulle groet vir Dawid en bedank hom hartlik. Dawid sê hy is bly hy kon hulle help en hulle moet mooi na hulself kyk. Hy tel die JIK-bottel op en glimlag breed terwyl hy met sy wysvinger op die letters J, I, K wys. Kerneels wonder vir ´n oomblik wat dit sou beteken. Hy doen ´n vinnige drie-punt draai en ry terug plot toe.

Hy ry omtrent een kilometer toe hy ´n Toyota Land Cruiser met ´n oop enjinkap langs die pad sien staan. "Ek sweer dis daai poepol van netnou!" dink Kerneels hardop toe hy nog omtrent honderd treë van die voertuig af is. Hy ry nader en gaan stop reg agter die trok. Daar kom ´n man met ´n netjiese kerkpak onder die enjinkap uit en hy groet Kerneels beleefd. Kerneels is ook nie seker of dit die persoon is wat vroeër by hulle verbygery het nie en groet maar terug. Hy vind egter bevestiging van sy vermoede toe die man sy rooi Golf met Dolla en Neelsie op die agtersitplek raaksien. Hy het lank laas so ´n verleë trek op iemand se gesig gesien. Kerneels ignoreer maar die gebeure van vroeër en vra: "Wat’s fout, my Oom?" "Ek wens ek het geweet," antwoord Dominee Van der Walt. Hy besluit die mense met die rooi Golf en die Vrystaat registrasienommer is seker net verbygangers wat hom in elk geval nie ken nie en hy waag dit om bietjie meer informeel te wees. "Toe ek weer sien toe kook die blerrie bakkie. Ek het ´n boerderytjie net so tien kilometer van hier en ek wou vandag bitter graag tussen my ou skapies en besies deurbring. Jy weet, dit maak ´n mens se siel so rustig, maar nou gebeur daar sulke goed met ´n mens."

Kerneels besluit hierdie persoon se stem klink darem baie bekend en dit vat hom so ´n rukkie om hom te plaas. "Jy’s nie dalk ´n predikant op Potch nie?" vra Kerneels reguit terwyl hy hom in die oë kyk vir enige tekens van oneerlikheid.

"Nee – eh – ja. Ek bedoel – ja-nee. Ek preek soms daar," stotter die dominee as hy besef dat dit ´n growwe fout sou wees om te lieg as Kerneels meer van hom weet as wat hy vermoed het.

"En wie is julle, en van waar, as ek mag vra?" probeer hy so formeel en ordentlik as moontlik.

"Ons is nuwe intrekkers van Welkom. Kerneels Willemse," stel hy homself voor met ´n glimlag. "Ons was vanoggend in ´n kerk met so ´n rooikopdiakentjie. Jy preek nie dalk daar nie?" sê Kerneels en hy begin geniet homself, want dinge begin nou sin maak. Die dominee wonder of dit wys sal wees om die rooie broer Abrie ´n ruk lank die kerk te belet, maar besef dat hy homself die kerk sal moet belet om uit hierdie verknorsing te kom. Noodgedwonge erken hy maar dat dit sy gemeente is en hy beloof dat hy Kerneels-hulle sommer aan huis sal besoek. Dit sal nie vir hulle nodig wees om ´n afspraak by die skriba te reël nie. Hulle kan ook maar vir Neelsie volgende Sondag bring vir sy doop.

"Ek sien die radiator-fan se belt het gesnap," merk Kerneels terloops op. "Ek hoop nie hy het ge-overheat nie," sê hy terwyl hy wonder wie van die dominee se gesig of die Land Cruiser se enjin die warmste is. "Ek sal kyk of ek ´n spare by die huis het," sê hy. "Verwag my oor so twintig minute, dan fix ons gou die outjie." Die predikant is eintlik verlig om ´n rukkie van Kerneels ontslae te wees. Die vernedering was een te veel.

In die motor verduidelik Kerneels vir Dolla wat nou net gebeur het. Dolla wil haarself net begin verlekker toe Kerneels sê: "Nee, jy hou jou bek. Jy sê fokkol. Niks!"

Dolla kyk vir Kerneels oopmond met groot vraende oë aan.

"Kan jy nie sien nie, dis die blindesambok. Vandag bliksem hy al wat leef en beef. Ons het almal al deurgeloop en ek sweer dit het iets met daai twee osse en Dawid Baster te doen!" sê Kerneels met ´n stemmetjie wat hoër en hoër gaan.

"Ek weet darem nie," protesteer Dolla. "Ek glo nie aan sulke shit nie." Net toe sien hulle vir Abrie waar hy omtrent regoor Kerneels se plothek in die veld langs sy wit Jetta staan. In sy haas om by die huis te kom het hy ´n oordeelsfout begaan met die draai in die pad en in ´n sloot te lande gekom.

"Dolla, jy hou jou in en jy kry nie lekker nie," waarsku Kerneels, maar dis totaal onnodig. Sy is reeds oortuig.

"Dis weer die fokken osse se curse," is al wat sy sê.

Dawid Baster ry rustig op sy bokwa en hy maak sy kolossale Braille Bybel by *Lukas 10:25 oop. Hy lees tot by vers 37 en daarna lees hy Mattheus 5:7. Sy groot maag skud op en af soos hy lag as hy dink aan die predikant wat vanaand oor hierdie gedeeltes moet preek. Vanaand sal die Willemse’s die volle preek aanhoor. Gelukkig vir die priester sal hulle weer in die moederskamer sit.

skrywer: Gerdus Loubser

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Man, het ek nou hierdie kortverhaal geniet en dat die diaken karakter my naam het en dat ek in Potch geswot het maak dit nog “stranger”

    Abrie Maree
    El Paso, Texas, USA

Lewer kommentaar

Leave a Reply