Oom Hansie kuier by die bure

Oom Hansie se ou Peugeot bakkie loop alte lekker op die grondpad en hy is in sy skik met die vordering wat hy maak. So dan en wan maak ´n diens tog ´n verskil aan die ou bakkie se draf. So ´n kwartier van die plaas af, regoor Oom Karel se ingang, swik die bakkie skielik agter en drawwe mank-mank verder soos ´n hiëna met een besondere kort agterpoot."Kwits" roep oom Hansie by die venster uit "is dit nou nodig in hierdie tye?" Maar daar is geen genade nie en oom Hansie en Jonas bekyk die pap wiel, al asof dit die taak makliker gaan maak. Vlekkie voeg daad by die onuitgesproke woord en lig sy been teen die misdadige wiel. Oom Hansie haal die gemodifiseerde melkkan agter van die bakkie af en dra dit saam tot agter die naaste rosyntjiebos (die melkkan se bodem is netjies afgegrind en omgeklink, spesiaal ontwerp vir sy nuwe doel) en Jonas haal solank die domkrag agter die bakkie se sitplek uit en begin die noodwiel afkatrol.

"Jonas!" roep die rosyntjiebos. "Baa.. meneer?" Jonas steek sy kop om die rosyntjiebos.

"Kwits Jonas, wil jy nou kom help hurk?" Jonas deins onwillekeurig effe terug, die sonde wat hy teenoor oom Hansie gepleeg het, ook nie heeltemal duidelik nie.

"Jack solank die bakkie op en ruil om die wiel, ek wil bietjie dink!"

"Goed baa…meneer" en Jonas sluip beteuterd terug na die bakkie toe. Hy rol klippe voor en agter al vier wiele, draai die wielmoere verby die eerste vasbyt losser, skuif die domkrag stewig onder die agteras in, wen op en haal die pap wiel af. Dié sit hy agterop die bakkie vir geselskap later. Dan plant hy die noodwiel en draai die moere weer stewig vas.

Oom Hansie verskyn van agter die rosyntjiebos. "Nou toe lat ons ry" sê die Oom terwyl hy sy broek vasmaak. Dan knoop hy gulp toe en stryk haastig aan bakkie toe met die melkkan.

"Toe toe toe vat die melkkan en klim op"

Hy klim in, sit die bakkie in rat, skakel aan en los die koppelaar. Die Peugeot raas, maar hy bly staan op een plek.

"Hygent hert der jagt ontkome! Jonas, moenie vir my sê jyt die klippe voor die wiele vergeet nie!"

Jonas spring af en maak seker dat hy die klippe so wegrol dat Oom Hansie mooi kan sien die goed is nou ver van die wiele af. Na die ou siel weer die bakkie bestyg het, probeer die Oom weer. Niks. Oom Hansie sit die bakkie in trurat en probeer weer. Die bakkie raas, maar staan. Die uitdrukking op die Oom se bakkies het Jonas laas op ´n wit gesig gesien toe hy by die rivier afgekom het op die predikant en die hoteleienaar se vrou.

"Is die klippe agter die wiele weg Jonas?"

Jonas klim af en maak seker dat die klippe nie vanself teruggerol het nie.

"Die kleppe es weg baa…meneer"

Al wat mens nou kan doen is om hom te laat opstyg, dink oom Hansie, trek sy hoed stewiger oor sy ore, trap die regterpedaal heel plat en pluk die handrem op en af. Behalwe vir die oorverdowende enjinproteste, niks.

"Kwits, dis seker weer die clutchkabel of iets. Jonas wag jy hier, ek gaan gou bel daar van Karel af."

Oom Hansie spring uit, trek sy rugbykouse op en begin aanstryk na die naaste plaaswoning, Vlekkie kort op sy hakke. Vandag gaan hy daai mannetjie van die Peugeot garage sy fortuin vertel.

Na ´n lank en onvriendelike gesprek met die garage, sit hy en Oom Karel op die stoep en bespreek die Peugeot se voor- en nadele in detail. In die verte word die stofwolk van die dorp se kant af ´n bakkie en die twee sien hoe die man van die dorp by die Peugeot stilhou en begin peuter.

"Ou Hansman, wat is Jonas se haas – kyk hoe hol hy daar af in die pad" merk Oom Karel op.

"Nee wat ou Karel, die ou siel het seker solank laat Siena koffiewater opsit – ek is juis so dors – wag hier kom die garagemannetjie."

Die garagebakkie stop voor die stoep en so ´n ghrieserige jafeltjie steek sy kop by die venster uit.

"Mirrag oom" groet die man "het oom ´n pap wiel gehad?" Oom Hansie knik sy kop "Ja, hoekom, wat skort?"

"Oom moet die jack onner die agteras uithaal as Oom klaar is, anners gat die bakkie nie loop nie"

skrywer: Bert van der Walt


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar