Die Ontmoeting

"Wie is jy, en wat doen jy hier?"Julle noem my Gabri-El, die boodskapper."

"Ek het al gehoor van jou, maar wat is die boodskap?"

"Jy moet skryf."

"Wat moet ek skryf?"

"Alles wat jy dink."

"En as ek dink ek moet niks skryf nie?"

"Dan skryf jy niks, totdat jy weer aan iets dink om te skryf."

"Waar begin ek?"

"Waar dink jy?"

"By die begin?"

"En dit is." probeer hy my by die antwoord uitbring.

"Hier?" wonder ek hardop.

"Hier kan enige plek wees op ´n tydslyn wees wat vir ewig strek na sy oorsprong en sy einde en tog is dit nie ´n sirkel nie."

"Is ek onderweg na êrens waar die toekoms, hede en verlede alles een is?"

"Dis moontlik."

"Dan wil ek in die toekoms begin."

"Nou goed, maar dan sal jy moet wag en onthou, jy moet skryf wat jy dink en nie probeer profeteer nie. Daarom sal baie dinge nie meer toekoms wees as jy daaraan dink nie. Begin by wat jy ken en onthou."

"Ek onthou die verhaal van die toring van Babel."

"Waarom."

"Die idee van verskillende tale en hulle ontstaan interesseer my baie en alles daarvan het by die verwarring by Babel begin as ek reg onthou. Sal dit baie voorbarig wees as ek jou vra om vir my uit te vind of God die idee van baie tale by die mense gekry het? Ek bedoel, jy is dié Gabri-El. Al wat ek wil weet, is of daar so baie tale sou gewees het as die mense nie besluit het om almal in een toring bo op mekaar te bly nie. Dit laat dink my aan ´n blok woonstelle in ´n dorpie waar ek gebly het – Potch Towers in Potchefstroom. Dit was nie eers tien verdiepings hoog nie en hulle noem dit ´n toring! As jy so ´n plat gebou ´n toring wil noem, moet dit mense verwar. Nou wonder ek maar net hoe hoog die toring op die ou einde was en of die hoogte daarvan God regtig gepla het. Ek het ´n vermoede dat selfs al het God die mense laat begaan die toring tog nie so buitengewoon hoog sou wees nie. Maar vind vir my uit oor die tale."

"Hoekom wil jy weet?"

"Want as God sy idee van so baie verskillende tale by die mens gekry het, dan bewys dit dat die mens God se kreatiwiteit positief stimuleer – al is dit meeste van die tyd om reg te maak waar die mens verbrou het. Ek bedoel, dis verstommend hoe God probleme as geleenthede kon sien sodat sleg goed kon baar."

"Jy sal jou antwoorde kry, maar doen eers wat jy moet en skryf oor dinge soos jy dit sien. Die Paradys het gelyk soos Moses dit gesien het, maar ook anders. Vir dié wat die Bybel op die aarde gelees het, was dit genoeg. Daar bestaan geen aardse taal wat die Paradys in sy volheid kan beskryf nie en Moses het ook nie oud genoeg geword om dit te kon doen nie. Hou ook in gedagte dat daar alreeds een storie oor die toring van Babel is. ´n Herhaling daarvan het op julle aarde (of dit wat daarvan oor is) bekendgestaan as plagiaat en diegene wat hulle daaraan skuldig gemaak het, is kriminele genoem.

"Ek onthou dit."

"Dan wil ek jou net inlig dat die idee asook die manifestering daarvan nie saam met al die boeke op die aarde vernietig is nie."

Ek begin dink. Hierdie is my eie gedagtes oor die toring van Babel.

Dis interessant dat Babel verwarring beteken en Die Bybel soms baie verwarring veroorsaak het. God se idee met Die Bybel was om verwarring te verhoed. Daar was genoeg in die Bybel om te glo en verstaan, maar die mens was voortdurend op soek na dinge wat hy nie kon of nodig gehad het om te verstaan nie. So het dit gebeur dat Die Bybel teen die einde van die vorige aarde (soos ons dit geken het) meer verwarring geskep het as wat dit dinge vir mense duidelik gemaak het. Was dit nie sonder uitsondering die geval dat alle goeie dinge die teenoorgestelde uitwerking gehad het as dit waarvoor dit bestem was nie? Kyk net wat het die mensdom met dinge soos geld, seks, kos, wyn en musiek aangevang. Hulle het alles wat goed was in monsteragtige afgode verander. Dis duidelik dat hulle die teenoorgestelde van goed tot in sy uiterste vorm wou ervaar en uit sy ongewilligheid om daarmee tevrede te wees, moes hy alles wat goed was omswaai om vir homself te sien hoe dit aan die ander kant is. Dit was vir hulle onmoontlik om in die goedheid van dinge te glo – dit moes eers sleg gemaak word sodat hulle ´n maatstaf kon kry om dit aan te meet. En toe die mense begin om die Bybel te gebruik vir ander redes as waarvoor dit aan hulle gegee is, het die verwarring net nog meer chaotiese afmetings aangeneem – relatief vroeg al nadat die eerste geskrifte die lig gesien het. Ek dink aan die fariseërs se geklets oor dagreise en eindelose pogings om Christus op niksseggende tegniese punte uit te vang. Watter vleis om te eet en wat nie. Is lang hare reg of verkeerd? Moet vroue hoede kerk toe dra of nie? Mag hulle preek? Klein doop of groot doop en wat van herdoop? Ek dink terug aan die teoloë se eindelose argumente oor die uitverkiesingsleer. Was die sondeval vir God ´n verrassing, of het Hy dit beplan? Kan Moslems en Boeddhiste hemel toe gaan? Hoe het Noag al die aarde se diere op die ark gekry en boonop twee van elk? Hoe kon ´n waarsegster dit regkry om Samuel op te roep om met Saul te praat as hy eintlik in die hemel (of hel???) moes wees? Waarom kom die apostels se gegewens nie presies ooreen oor Jesus se doen en late as hulle almal deur die Heilige Gees geïnspireer is nie? Is die spreek van tale reg of verkeerd? Hoeveel vrae was daar nog? Te veel, en wees verseker, daar was verwarring, want selfs diegene wat gesê het "Here!,Here!", het vergeet dat Hy ´n God van liefde is en bo en behalwe die een groot opdrag wat hy aan hulle en alle mense gegee het, wou hulle nog oordeel ook, dit terwyl hulle nie eers regverdiglik uitspraak in hulle eie howe kon lewer nie.

Die mense het begin om ´n toring te bou wat tot in die hemele sou strek, maar voordat dit die hoogte van tien verdiepings kon bereik, het God hulle planne en die gevare daarvan raakgesien. Wat moes hy doen? Hy moes speel vir tyd, nie om Homself te red nie, maar om die mensdom van homself te red, want Hy het geweet dat niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik sou wees nie en Hy het gesien dat hulle die vermoë het om hulleself te vernietig – net soos ´n babatjie met iets gevaarliks in sy hand. Die mens wou in beheer wees van alles, behalwe homself. In plaas van straf vir sy arrogansie kry die mens ´n wonderlike geskenk van God. Die geskenk is ´n oorvloed van tale. Dit was nie die laaste van sy geskenke nie. Hy het selfs sy eie Seun gegee en uiteindelik het Hý sy lewe gegee en keer op keer het Hy sleg met goed beantwoord om reg te maak waar die mens verbrou het.

Maar na sy eerste mislukte poging het die mens nooit opgehou om sy toring te bou nie. Hierdie keer het dit ongekende hoogtes bereik. Die mens het begin om lewende ewebeelde van homself te maak en hy het begin besluit oor onskuldige lewens se bestaansreg. Hulle het dodelike bomme gemaak wat nasies sou vernietig en hulle het so magsbeheb geraak dat party mense hulle siele daarvoor aan die donker magte verkoop het. Die mens het begin doen wat selfs God nie wou waag nie – nie omdat Hy nie kon nie, maar omdat Hy Homself kon beheer.

En hier sit ons in ´n skip op pad na wie weet waar. Ek glo net God weet. Die swart gat kom onheilspellend nader en ons hoop almal vir ´n Ararat aan die ander kant. Hierdie keer is daar nie net een ark nie, maar baie en die reën was nie waterdruppels nie, maar missiele wat die aarde in vlamme laat opgaan het. Dis net dat daar geen Noag of Moses onder ons is nie. Ons is aan genade oorgelaat. Ek hou op dink.

Ek voel my oë stadig oopgaan en ek sien hoe die laaste van die vloeistof uit my kapsule dreineer. Dit is ´n oplossing van sintetiese voedingstowwe waarmee die kapsules waarin ons lê, gevul is. Ek maak my oë oop en sien dat die kleur van swart na ligbruin verander het, wat beteken dat ons miljoene kilometers deur die heelal geswerf het. (Die kleur van die oplossing raak stadig ligter soos wat ons liggame die voedingstowwe in die oplossing absorbeer.) Ek maak die skuifdeur van my kapsule oop en ek kan voel hoe my hartklop versnel. Uit die hoek van my oog merk ek die datum op die digitale almanak van die skip. Dit wys 2069:06:14:14pm. Die sintetiese oplossing het my dus vir sestig jaar aan die lewe gehou, want die skip het die aarde in die jaar 2009 verlaat na ´n onbekende bestemming. Elke passasier se kapsule is geprogrammeer om te dreineer sodra die inhoud daarvan ´n honderd jaar oud is. Ek veronderstel dit is om meer van die voedingstowwe aan die jonger passasiers beskikbaar te stel as ons dalk op ´n plek te lande sou kom waar hulle krag en energie benodig sou word. Dis ironies is dat dit ´n lewende honderjarige moes wees wat almal moes "wakker maak" indien hulle by ´n veilige bestemming sou uitkom. As jy lewe teen die tyd wat jou kapsule dreineer, is jy dus gelukkig. Ek bedoel – hoeveel lewende honderdjariges is daar nou eintlik en selfs al is daar een, sal hy in ´n toestand wees om die ander wakker te maak? Vir my was dit bietjie van ´n waagstuk, maar so ook die hele reis in ´n skip sonder kaptein wat so ver as moontlik die heelal in gestuur is. Ons is nie toegelaat om enigiets aan boord te bring nie. Die gevaar van kontaminasie was te groot en buitendien het daar nie veel op die aarde oorgebly om saam te neem nie. Ek is bly ek het nie vroeg in die reis honderd geword nie. Die oorsaak van my dood sou ongetwyfeld verveling gewees het. Ek moet sê ek voel beter as wat ek gedink het ´n honderdjarige behoort te voel. Ten minste weet ek ek is op die plek waar ek veronderstel is om te wees, skip nr. AZA-667. Dit moes eintlik AZA-666 gewees het, maar bygelowigheid het gemaak dat sy ontwerpers hom ´n ander nommer gegee het. Die AZA staan vir Azania wat vroeër as Suid-Afrika bekendgestaan het en toe tog sy naam verander gekry het deur mense wat hulle met hart en siel beywer het om name te verander – van straatname tot tot die name van provinsies en lande. Sommige het selfs probeer om die aarde se naam na Nothrea te verander. Ek veronderstel No. Three sou darem ´n bietjie onoorspronklik gewees het en ook te veel van ´n bekentenis dat hulle probleme ondervind het om te onthou presies waar die aarde pas in die chronologiese opeenvolging van die planete in die Melkwegstelsel. Threa is immers net ´n herrrangskikking van die letters wat "Earth" uitmaak. Die 667 staan vir die seshonderd-en-ses-en-sestigste van etlike duisende van soortgelyke skepe wat gebou is. Ek wonder wat van hulle geword het. Terwyl ek nog besig is om te wonder oor die ander skepe, hoor ek ´n gesoebat wat my totaal verslae laat. Hoewel ek nie ´n woord daarvan verstaan nie, is dit vir my verreweg die mooiste taal wat ek ooit gehoor het. Die sinergie van vreemde klinkers en medeklinkers en klanke waarvoor daar nie name is nie laat my roerloos in verwondering lê en luister na die persoon van wie dit kom. Ek sit stadig regop en wonder waarvandaan die geluide kom wat klink asof dit ´n kind se stem kan wees. Die weerklank van die geluide in die skip en die feit dat ek my ore vir byna sestig jaar nooit gebruik het nie, maak dit moeilik om te bepaal uit watter rigting daardie onverstaanbare klanke kom. Ek kyk om en omtrent drie meter agter my merk ek hulle op – ´n man wat lyk asof hy in sy veertigs kan wees en ´n pragtige dogtertjie van omtrent agt. Hulle lyk heel normaal, maar tog is daar iets anders aan hulle voorkoms. Hulle lyk so, so ongelooflik. dan tref dit my – gesond! Hulle stap stadig nader en die man kyk my reguit in die oë. Hy gee my ´n kledingstuk wat lyk soos ´n kleed om oor my naakte liggaam te trek. Sonder dat hy sy mond oopmaak, hoor ek hoedat hy my vriendelik verwelkom en gelukwens terwyl hy my aan die arm na buite begelei. Die son skyn helder en ek trek my oë op skrefies om aan die lig gewoond te raak. Terwyl ek so staan, dink ek aan die droom wat ek gehad het terwyl ek in my kapsule was.

"Dit was nie net nog´n droom nie", antwoord hy weer sonder om sy mond oop te maak. "Gabri-El het aan baie van julle opdrag gegee on te skryf wat julle dink. So ook Rapha-El, Micha-El en Ari-El."

"Maar waarom?" wil ek weet.

"Hoofsaaklik sodat julle kan weet waarom julle hier is en hoe julle hier gekom het. Jy weet, vir julle mense is dit baie erg om dinge nie te weet nie. Dit kan die lewe hel maak, as jy weet wat ek bedoel."

Ek wonder so stilweg hoe hy my gedagtes oor my droom kon lees.

"Hier ken almal almal se gedagtes en ja, jy is honderd jaar oud en in die hemel."

"Hoe weet jy dis wat ek jou volgende wou vra?" vra ek verbaas.

"Omdat jy die vierduisend-en-eerste een is wat ek kom haal en julle wonder almal oor dieselfde ding. Daar is omtrent nog ´n honderd-en-veertigduisend van julle op die skip wat ek moet verwelkom en ek wed jou hulle gaan my ook almal dieselfde vraag vra. Ons wag nie altyd soos in jou geval tot iemand honderd word voordat ons hom wakker maak nie. In jou geval het dit net so uitgewerk dat jy by ons aansluit op jou honderdste verjaardag – nie dat dit hier veel beteken nie. Sommige van julle moet nog opdragte uitvoer wat julle by die boodskappers gekry het. Partymaal is daar sommer baie van julle op een slag wat by ons aansluit."

Dan begin die vrae by die honderde in my kop opskiet, want vir die eerste keer voel dit asof ek die geleentheid het om van hulle beantwoord te kry.

"’n Duisend vrae en ek hoor nie een Wat is jou naam? nie. Ek voel seergemaak!"

Ek steek vas in my spore en voel soos iemand wat sy maniere op die aarde vergeet het. "Wat is jou naam?" vra ek skaapagtig terwyl ek al sien hoe ek bloos. Hy begin stadig glimlag totdat dit oorgaan in ´n lag. Ek begin lag, eers huiwerig en dan met bietjie meer oorgawe. Dit verander in ´n oor en weer gelaggery waar elkeen se volgende uitbarsting meer onbeheersd raak as die vorige totdat ons plat op die grond gaan sit en met ons hande op ons bene slaan van lekkerte. Dit raak so erg dat ons rûensagteroor gaan lê en die grond hard met ons voetsole stamp. Dit neem ´n goeie tien minute om te bedaar en al wat ek sien is die dogtertjie wat haar kop stadig skud en glimlaggend iets in daardie ongelooflike taal sê en net doodluiters aanstap.

"Wat sê sy?" wil ek weet.

"Sy sê iets wat as dit met jou taal vergelyk word min of meer dieselfde beteken as julle grootmense."

Die laggery begin weer van voor af.

Na omtrent nog vyf minute kom ons weer tot bedaring.

"Dit voel goed om vir die eerste keer in sestig jaar weer te kan lag, of hoe?" sê-vra hy.

"Die laaste paar jaar op aarde het ons nie baie gelag nie en ek kan nie onthou dat ons dit ooit heeltemal met soveel oorgawe gedoen het nie," antwoord ek.

"Dis omdat julle julle sou doodlag."

Ek sien die humor in sy opmerking en ek moet myself bedwing om nie weer van voor af te begin nie.

"En hier kan mens nie doodgaan nie?" wil ek vinnig weet.

"Nee, nie soos op die aarde nie."

"G´n wonder julle lyk so gesond nie, maar voor ek weer vergeet, wat is jou naam?"

"Jy kan my Vrede noem totdat jy ons taal aangeleer het. Dan sal jy my naam kan sê."

"Sal ek ooit so kan praat?"

"Sekerlik. Niks is onmoontlik nie. Ek praat met jou in jou eie taal in jou gedagtes omdat dit ver tekort skiet aan die taal wat ons hier praat. Jou taal is hier soos ´n soort babataal. Dat jy in die hemel, of Paradys is, beteken nie dat daar niks meer oorbly om na te streef nie. Om die waarheid te sê, hierdie is die eerste van sewe sulke plekke en waar jy uiteindelik gaan opeindig hang in ´n groot mate van jouself af. Hier sal jy egter nooit ontevrede wees nie en selfs al eindig jy by die hoogste van die hemele, sal jy gereëld by al die ander besoek aflê omdat jou vriende oral is. Jy sal nog sien wat oneindig goed beteken en wat dit is om goed aan goed te meet. Ons Vader gee steeds aan elkeen die geleentheid om meer en meer soos Hy te word. Hy is nie kleinlik of selfsugtig nie. Jy onthou seker nog dat ek gesê het hier weet almal wat almal dink? Dit is omdat ons grootliks in die geesteswêreld leef en op daardie vlak kommunikeer. As enigiemand nood sou ervaar, sou dit op daardie vlak wees en omdat ons gedagtes so in harmonie met mekaar is – julle sê ons is op dieselfde golflengte, is daar altyd meer as genoeg van ons wat jou sal help as jy ´n probleem het. In die begin van die engeleryk was almal nog onervare en selfs al het ´n derde van hulle Lucifer te hulp gesnel, was sy probleem as t’ware te groot vir hulle en het hy hulle na die doderyk meegesleur. Daarna het die sondeval gekom en baie engele is toe na die aarde gestuur om mense teen die bose magte te beskerm. In daardie tyd het van die hemelwesens ook kinders by die mense gehad en toe het gevolg die sondvloed en daarna die episode oor die toring van Babel wat jou so baie interesseer."

"Die hemel lyk nie so verskillend van die aarde nie," merk ek terloops op.

"Jy’s reg, maar jy het nog net begin om dit te ervaar. Jy sal spoedig sien dat jy jouself moeilik ´n meer volmaakte plek kan indink. En tog hou dit nooit op nie. Dis selfs moeilik om die ander ses hemele in ons taal te beskryf, net soos dit moeilik is om die Paradys waaruit die mens verban is in julle taal te beskryf."

"Wat is die lekkerste van die hemel?" wil ek weet.

"Om ons Vader te dien, en dit doen ons deur mekaar te dien en te help, want ons is almal uit Hom. Godsdiens is naastediens – die grootste gebod en die tweede wat daaraan gelykstaan. Ons sê altyd as iemand in die hemel gestraf word, sal hy daarvan weerhou word om te dien. Dit is egter baie onwaarskynlik dat jy dit hier sal sien gebeur. Almal hier is sulke vrate as dit daarby kom om ander te help. Julle het dus almal die geleentheid gehad om hemel op aarde te hê. As julle maar net mekaar kon liefhê."

"Maar ek voel nog nie volmaak soos ek verwag het om te voel as ek eendag in die hemel is nie," merk ek op.

"Dit is omdat jy nie volmaak is nie. Ons is altyd baie besorg oor nuwelinge en die naaste wat jy hier aan ´n argument sal kom, is wanneer daar ´n nuweling aan iemand toevertrou word. Dit is amper soos om ´n ´n hondjie aan een van jou kinders te gee en vir die ander te probeer verduidelik waarom hulle nie ook elkeen een mag kry nie en om hierin regverdiglik te handel, verg baie wysheid. Ja, selfs hier is daar iets soos ongeduld, maar dis meer soos’n soort gretigheid om vir iemand tot diens te wees."

"Wie gaan my help?" wil ek weet.

"Die dogtertjie wat jy netnou gesien het."

"Dit het vir my geklink asof sy jou smeek om iets. Wil sy eintlik iemand anders hê?"

"Nee," antwoord Vrede met ´n glimlag. "Sy het sommer van die geleentheid gebruik gemaak en my te gevra vir nog een of twee van julle."

"En?"

"Ek het vir haar gesê sy sal haar hande vol hê."

"Ek sien, maar sy lyk nog so jonk?"

"Ek weet, maar sy het hier grootgeword. Sy was ´n aborsiebaba. En onthou tyd gaan hier baie stadig verby. Mense word groot en selfs oud hier, maar daar is nie iets soos siekte en siektetoestande as gevolg van ouderdom nie. Jy gaan ook nie hier dood nie, maar jy word weggeneem na ´n ander plek as jy gereed is. Gaan soek jou meesteressie, sy het nog baie om jou te vertel. En jy het ´n storie om te skryf."

"Haar ouers mis baie," merk ek op terwyl ek afbuk om ´n mooi klippie op te tel.

"Ja, om vir ewig te wonder wat kon gewees het, dít was hulle hel."

Hy stap so ´n paar treë en dan draai hy om. Hy lig sy regterhand om totsiens te sê.

Is dit my verbeelding, of sien ek ´n litteken op sy hand?

skrywer: Gerdus Loubser

Lewer kommentaar

Leave a Reply