Toegangsbeheer

Freddie koop in sy vyftigste jaar vir hom ook ´n 4×4. So ´n regte jappie een. Die ding is vol krulle en draaie en tierlantyntjies dat die 4×4 byna daaronder wegraak. Daar is niks van sy gewone plein en plat en reguit menswees in dié ding verteenwoordig nie.Die 4×4 is so gekleur dat dit na ´n was vra as daar net ´n grondpad naby is. Dis ´n diep maroon. Freddie het dus nie nodig om vir modder te betaal nie. Vir die skoonmaak betaal hy maar, want hy het ´n erge rugpyn wat hom sy lus om te ry ontneem wanneer hy dié nuwe speelding was. Self het hy dit ´n eerste was gewas om al die moontlike gebreke op te spoor. Toe sê hy vir sy vrou dat dit al keer is wat hy dit sal doen. Nou spring sy in om skoon te maak, en daarvoor moet hy onnodig met haar gaan rondry. Hy soek sy roetes uit juis om die ding vuil te smeer sodat sy nie lank gaan aanhou om ´n drive as betaling te eis nie.

Alles werk lektrieks en as hy eers in die ding sit, voel dit of hy net daar wil bly.

Jy draai net aan ´n knop om na 4-wiel aandrywing oor te skakel. As jy stilhou en daai knop nog verder draai, skakel dit na "low range" oor. En in daai donkie gear klim hy oral waar daar vastrap is.

Soos dit met speelgoed maar is, wil hy met die ding speel. Daarom gaan kamp hulle vir ´n naweek. Dis ´n lieflike plek met baie berge en baie sand. Die plekkie lê teen die rivier, en hy het daar grootgeword. Hy ken die eienaar al van kindertyd en hy betaal vir sy verblyf in die rondawel. ´n Ander broer kom ook van die stad af om die naweek saam te geniet. Nog ´n broer kom van die familieplaas oor vir die aand.

Vrydag-aand braai en kuier hulle met ´n vislyn of drie in die water. Hulle kan die lyne dophou, maar steur hulle nie veel aan die byte wat daar wel is nie.

Hulle het hard en arm grootgeword. Daarom kan hulle alles wat hulle doen geniet. Niemand kla nie. As iets nie na wense is nie, maak hulle dit reg. As hulle dit nie na wense kan kry nie, aanvaar hulle dit en maak die beste moontlik daarvan. Hieroor kan hulle juis mekaar se gesêlskap ook geniet. Daar word nie van ander mense gepraat nie, maar van probleme en oplossings vir daardie probleme.

So gebeur dit dat Freddie vir Katad en Nools vra: "Weet julle hoekom ons so baie poep?"
"Nee." Seg hulle.
"Wel, my teorie is dat Mamma nie kon voorbly om vir tien kinders, ´n man, haarself en nog drie onversorgde plaaswerkers brood te bak nie. Daarom het ons baie bonesop gekry toe ons kinders was, en ek dink daar is steeds hewige naskokke want daardie bonesop was dikwels taamlik aktief."

Die vrouens en kinders het so half eenkant gesit, maar kon die gesprek volg. En ook die rede vir die rigting van die gesprek. Toe haak een van hulle af: "Ek het altyd geweet dat julle nie ´n poep uitgevind het nie, maar is oortuig dat dit julle was wat hom vervolmaak het."

Saterdag, douvoordag toe jeuk Freddie om sy 4×4 te beproef. Hy weet van ´n stuk diep sand oorkant die rivier, maar dis annerman se grond. Omdat hy ook annerman ken, besluit hy om tog maar sonder toestemming daar in te gaan, al kamp daar ander mense. Hy wil mos darem met sy speelding brêg!

Nog voor die ander uit die vere is, is hy daar weg. Toe hy daar kom, begroet ´n "boom" hom.

Dis ´n yslike stomp hout wat aan een kant tussen twee pale met ´n pen dwarsdeur vas is sodat dit kan skarnier om op te lig. Dié ding is so ´n bietjie baie uit balans. Toe hy dit probeer oplig, gebeur daar niks, en hy wil ook nie te hard vat met sy pynrug nie, want netnou kan hy niks verder van die naweek geniet nie.

Hy gaan sit wydsbeen oor die kort punt met die hoop dat sy tweehonderdpondpens meer krag as sy afrug kan uitoefen. Dit werk amper. Die ander punt lig net-net. Maar hy sit ongemaklik want hy moes so half opskuif sodat sy kroonjuwele onder hom is. Daarom sit hy maar so half op sy hande.

Terwyl hy so sit, kom daar ´n dametjie aangeloop wat haar vroegmôre swem gaan vang het. Hare nat. Bikini eina. Lyfie wat enige ou, vyftig of nie, twee, nee, tien maal sal laat kyk.

Freddie was nog nooit skaam om te praat nie. Of om hulp te vra nie. Veral nie as dit kan lei tot kennismaak met so ´n oogsteler nie.
"Môre meisie! Sien jy my penarie? As jy nou aan daai kant die dêm paal oplig, kan ons hom seker regop maak staan?"
"Môre Oom."
"Ag jirre! Hoekom is ek tog so vroeg gebore laat hierdie mooi mens vir my "Oom"?" wonder Freddie.

Intussen het sy die paal hier halfpad oor die pad met die een hand van onder begin lig. Dit lyk so maklik. Sy lig so hoog sy kan, staan selfs ´n tree nader aan die spilpunt om dit hoër te lig.

Op daardie punt moes dit vir haar gevoel het of die paal verder onder Freddie se gewig sou lig. Daarom los sy en staan ´n paar tree weg.

Vir ´n sekonde of twee hang Freddie daar soos op ´n wipplank. Toe kry die gewig van die paal die oorhand. Eers stadig, en toe al vinniger. En die meisie staan, en Freddie weet hier kom stront.

Toe die anner punt die stop slaan, toe is dit asof Freddie se gewig nie enige briek op sy momentum gehad het nie. En Freddie se tweehonderdpondpens help ook nie om sy kroonjuwele te beskerm nie.

Dit voel of hy gaan uitpaas, maar ongelukkig gebeur dit nie. Hy kan nie sy pyn wegsteek nie.
"My eiers!", is al wat hy floutjies kan uitkners terwyl hy soos ´n dooi ding van die paal afgly om verder op sy knieë te staan en bid.
"Kan ek oom help?" kom dit van die mooi meisie, maar al waarvoor Freddie wens is dat sy moet verdwyn, terwyl hy tog wonder of haar hande nie dalk lafenis sal kan bring nie.

Terwyl sy nog so staan en kyk, vind Freddie genoeg krag om orent te beur. Hy staan soos ´n bul wat geknip is. Kan nie besluit wat beter gaan wees nie. Wydsbeen of knyp-knyp. Soos die pyn stadig vanuit die omgewing van sy lewer afsak na die eintlike lokasie, sy juwele, begin hy na die 4×4 terugsukkel. "Blêrrie moedswilligheid", mompel hy.
"Skuus oom. Ek het nie bedoel om oom seer te maak nie." En Freddie kan hoor dat sy dit bedoel.
Met die inskuif agter die stuur, voel Freddie dat daar iets nie reg is by die agterkant van sy broek nie. "Tog net nie dit ook nie, ´n 4×4 ryer beskyt hom mos nie," dink hy by homself.

Teen hierdie tyd is dit nog net ´n geklop wat voel of sy juwele sukkel om uit hul omhulsel te breek, en hy klim versegtig uit om te kyk. Daar is net ´n taai merk op die sitplek.

"Oom, oom moenie worry nie, dis net boomgom wat aan oom se broek afgesmeer het daar van die stomp." Freddie knik net sy kop, verdwyn in die 4×4 en draai op sy spoor om.
"Hoe kan ´n man dan nou onder sulke omstandighede in jou kop iets kry om oor te praat?"

skrywer: Izak Ferreira

Lewer kommentaar

Leave a Reply