"…en maak seker dat die hoenders toe is sawens Siena!" maan Oom Hansie deur die ou Peugeot bakkie se venster voordat hy in ´n stofwolk wegtrek. As dit ´n Amerikaanse film was, het die bande geskreeu op die grond. Oom Hansie is vroegoggend al op pad om op sy kleinneef, Sakkie, se wildsplaas daar anderkant Tolwe te gaan kuier. Die bakkie is gepak met sy bagasie en ´n paar kaste bier (volgens Sakkie lewer SAB nie af daar in daardie deel van die bosveld nie, maar Oom Hansie vertrou nie die vrede nie). Al hierdie negosie is stewig toegewikkel in ´n ou weermag grondseiltjie wat hy laas daar by die Skou opgetel het. Soort van.
"Ja-nee Vlekkie, hierdie naweek gaan ons lekker kuier. Ou Sakkie kan mos lekker gesellig raak so om die vuur. En daai dogters, Ai man. Hehehe. Ou Sakkie praat miskien bietjie snaaks, maar hy het ´n goeie boerehart. "
Vlekkie, duidelik nie lus vir hierdie deel van die gesprek nie, wikkel deur die gat waar die agtervenstertjie was, en maak hom tuis tussen die voue van die pakkaas agterop.
Die Oom draai heeltemal om in sy sitplek en raas agtertoe: "Kwits Vlekkie, jy moet net nie staan en water afslaan teen die koffers nie!" Toe die bakkie se linkerwiele die teerpad verlaat, ruk hy sy kop weer vorentoe en pluk die bakkie terug op die pad. Met die rukslag het sy valstande momentum behou en met ´n sierlike trajek tot teen die voorruit getrek en tussen die pedale te lande gekom op die vloer.
"Jiwwepie pof! roep die Oom. "Hyfenp hewp dew jafp ompome!"
Na ´n paar draaie oor die pad het hy die tande in die een hand en vee dit af teen sy kakiehemp voor hy dit hygend terugprop om hortend te raas.
"Kwits Vlekkie, jy sal ons mos verongeluk!"
Die adrenalien hou hom dus wakker tot daardie aand toe hulle so teen skemer op Sakkie se werf stilhou en die groot vuur agter by die lapa opmerk. Sakkie is dadelik by en groet met ´n stewige handdruk. Kort voor lank is die hele gesin buite en Oom Hansie groet Sakkie se beeldskone vrou en pragtige dogters met hernieude ywer.
Laat die aand, toe al die boerderysake bespreek is, en die meeste wereldprobleme opgelos is, vra Sakkie of hy al die Oom vertel het van sy probleme met die krokodille. Sonder om te wag vir ´n antwoord val hy weg.
"So pak die krikkedille mos my wild, Oom. Nou Oom sien, ons sikkel maar met die goete en dag toe nee ons sal maar met mening inklim. Ekke organise toe daar by ou watsenaam van die kommando se seun toe mos nou ´n stuk dinamiet. Ons blaas toe daai krikkedille mos toe nou moer toe Oom Hansie. Moer toe. Maar een van die goet, seker die oupa, raak toe mos slim en klim in ´n gat in die rivierwal. Dan vat hy die diere so met koerillaoorlog Oom. Gryp hier en dan weer daar. Oom sallie glo hoet ons gesikkel nie. Ek en die ka.. werkers kap daai wal op mit die pikke, maar niks. Naadrant het ek toe ´n dropper en ekke buig die mos nou soos ´n vishoek. Ons maak toe ´n vark met draad vas aan die dropperhoek en laat sak die ding in die rivier in met ´n kabel aan die trekker, Oom sien.
So gryp die krikkedil mos toe die hoek en ek skrou vir die ka.. vir Simon hy moet trek. Hy start daai trekker en trek, Oom. Hy trek, maar Oom sal my nie glo nie, daai krikkedil skop vas. Die trekker kry toe naadrant so paar voet op die krikkedil, Oom sien. En die ding se hele lyf is al by die water uit, maar hy skop so vas lat daar sikke slote in die wal sit. En met die draai Simon om om te kyk wat gaat aan. En toe die krikkedil hom sien, toe storm die krikkedil hom. En hy beginne jaag met die trekker, so by so laat ons hom eers twee dae later kry."
"En die krokodil?" vra Oom Hansie.
Sakkie skud sy kop. "Nee oom, die krikkedil is weg, net die kaal hoek het ons so aan die kabel agter die trekker gekry"
"Smaak my Simon het so ver gejaag, die krokodil het seker heel weggeslyt agter die trekker aan."
skrywer: Bert van der Walt
