Die oggend se asem stink na vuurmaakhout. Die son breek sukkel-sukkel deur die rookmis. Alles lyk nog dieselfde – net groter. Ek kyk op my horlosie. Baie herinneringe leef nog steeds hier, tussen die sinkhuisies en die hopies as, ter nagedagtenis van die vorige aand se vuur. ´n Pandoer sit rustig op ´n krat, ´n goedkoop versnitwyn in die hand. Elkeen van hulle het sy eie verhaal, maar die bekendste is seker die een waarin ek die hoofrol vertolk… ´n Albaster kom tot stilstand voor my voete. Ek buk, tel dit op en gooi dit doer oor die sinkdakke.
"Nou vi’ wat doen jy dit, Kanna?" ´n Gespierde seun kom staan langs my. Agter hom kom ´n meisie aan in geskeurde jeans en ´n verbleikte pienk T-hemp. Haar hare staan wild. Die seun s´n ook. Ek kyk reguit voor my.
"Jossie, Meraai, wat soek ons nog hier? Kyk hoe lyk dit- kyk hoe lyk ons. Die Distrik smoor als morsdood." Hulle lyk verward. Dis seermaak-woorde van ´n mens se geboorteplek, jou home.
"Kanna, wat praat jy nou? Ons is mos hêppie…"
Ek draai skielik om, my stem hard: "Hêppie? Is jy hêppie, Jos? Ons is honger. Ons stink! Daar moet iets beter da’ buite wees. Kom ons gaan soek ´n anner plek- ´n ordentlike plek- waar ons ons koppe uit die mis kan stoot." Hulle babbel senuagtig- wil weet waar ons kan gaan en dink aan wie vergeet moet word.
"Nou bly dan verdomp hier en vrek! My ma is dood- of vergeet julle? Vir my pa is Polsmoor home- juis daarvoor. Ek loop. Vergaan of vertrek- besluit gou." Daar gly ´n silwer druppel oor Meraai se bruin wang. Ek duik vinnig my eenman-kaia binne, waar daar ´n ma hoort, maar geen is nie.
Meraai se bewerige stem volg my, koue woorde, maar waar: "Kanna, jy vergeet. Ek het nog ´n ma. Dalk maak ek dit hier…" Ek luister hoe sy wegloop. As ek uitkom sien ek die traanspoor in die sand wat sy agterlaat. Jossie druk my skouer hard. Hy’s ook alleen, nes ek. In een hand tel ek al my aardse besittings op, alles waarmee onse God my vertrou het. Dan draai ek my rug op die wêreld van rook en stof, my onbekwame ma, en met die son in ons oë, durf ons die kronkelende paadjies aan. Tree vir tree beweeg ons onder die versmorende dampe uit en asem vir die eerste keer in jare die vars, onskuldige Kaapse lug in.
Ons rus in die donker dieptes van die berge met voëlgesange wat ons sus. Die volgende oggend bestaan ons geselskap uit drie. Geruisloos het iemand in die nag by ons aangesluit, geklee in vuil jeans en ´n pienk T-hemp. Ons omhels lank -seker om ons trane weg te steek- maar sê min. Ek sien die rou kneusplekke op haar wang. Saam trap ons met kaal voete hierdie vreemde land plat. Die loop gaan swaar, die pad is lank en lelik gesinkplaat, maar ons sing terwyl die wind ons verder lei. Ek ruik nog die rook.
Dan skiet ons paaie uitmekaar soos ´n druppel wat op die grondpad neerpletter. Jossie gaan berge toe en Meraai jag die son verder, na plekke waar besies sing en kraaie gaap. My hart trek my na die vreemde oseaan, wat in soveel reisigers se stories al ´n rol gespeel het. Op ´n kol vra hulle my paspoort. Somtyds ry ek, as ´n Samaritaan besluit om sy barmhartigheid buite die kerk te bewys, oor duine en ´n oseaan van sand. Tot by die kus. "Baai van Walvisse" noem hulle dit. Ek maak my tuis en soek my geluk. Ek kry haar ook- Emma met haar sagte blas vel en lang krulle. Verder oes ek die seëninge wat die liewe Heer in ons see geplaas het en sorg vir die swetterjoel kleintjies, elkeen met ´n perfekte krulkoppie, wat om my voete maal. Toe ruik ek rook…
Haar voete was vol blase van die stap, haar sole rou. Haar grys rok hang aan flenters. Haar oë is leeg en dieselfde kleur as haar rok.
"Ek’s Maria, Jossie se vrou," het sy haarself voorgestel en op ons stoepie inmekaar gesak. Drie uur en seker sewe doppe later kom sy by.
"Kanna, dis Jossie. Hy’s dood." Ek steier. Sak in ´n stoel neer. Dan vertel sy verder.
"Dit was drank, Kanna… kon niks doen nie… my geslaan, Kanna… dokters sê dis sy lewer, Kanna." Net gedagtes, brokkies inligting wat sy gegee het wat nou nog in my kop maal. Drank. Jossie se pa het ook gedrink. Sy ma dood gebrand. Toe homself versuip.
"Nee Anna, dit wassie die bottel nie. Dis die Distrik. Hy’t dit gedoen- smoor ons almal dood."
Ek het van die begrafnis gehoor. Kon nie self gaan nie. Dis groot sukkel om jou hele kroos oor die grens te kry sonder moeilikheid. Maria het ´n maand later weer opgedaag, hierdie keer met al haar goed. Ons het haar genooi om by ons te bly- die huis was groot genoeg. Ons was gelukkig. Jossie was net nog ´n storie wat ek in die Distrik se boks opgesluit het. Vergete. Verlore. Dit was ´n goeie tyd: net ek, Emma, Maria en die kinders. Toe ruik ek weer rook.
Die jean was afgeskeur, tot ver bo haar knieë. Sy’t ´n nuwe t-hemp aan- ´n bloedrooie wat baie styf pas. Ek het haar die duin af sien kom, daai aand toe ek die rook ruik. Kruppel het sy geloop, haar mond rooi geverf. Die toppie kon nie die letsels op haar arms wegsteek nie- hulle was nuut. Dit was in die verlede net die gesig. Ons het lank omhels. Toe vertel sy alles. Tussendeur hoes sy. Sy probeer die bloed wat sy ophoes met ´n sakdoek wegsteek.
"Longonsteking," het sy gesê. Daai aand moes die ambulans haar kom haal. Maar op haar doodssertifikaat het iets anders gestaan, vier hoofletters. Die dokter het die woord gesê, maar dit was lank en ek het dit vergeet- nes Jossie en nou Meraai, altwee in die boks weggesluit. Hy spoel weer die bloed van sy hande in die koue Kaapse see af. Ja, die rook versmoor en die Distrik moor weer.
Hy was op die nuus. Ek het gaan ruik, maar het net vis en die see herken. Kon dit nie verstaan nie. Ek moes uitvind. Ek moes huistoe.
Die lendelam huisies wieg in die wind. ´n Albaster rol tot voor my voete. Ek tel dit op en gee dit vir die seun aan wie dit behoort. Hy’t wilde kroeshare. ´n Meisie in ´n vuil jean en blou T-hemp volg. Ek knyp my oë vinnig styf toe en draai my kop weg. Die pandoer steek ´n pyp op. Ek probeer hard vergeet. Die eerste oggendstraal kielie die sinkplate. Hy behoort al hier te gewees het. Ek kyk weer op my horlosie. Sy bles kop is die eerste ding wat oor die randjie verskyn. Dan sy gesig. Hy’s netjies geklee. Hy stop reg voor my. Vir die eerste keer vandat ek hier is verlaat die steenkoolrook my neusgate- die reuk van Polsmoor wat dig om hom hang, pla my nie. "Ek het dit gemaak, Pa. Ek het die uit Distrik ontsnap. Hy het geen houvas op my nie- jy het geen houvas nie. Ek is vry."
skrywer: Wynand Spruyt
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
