Oom Hansie sien uit die hoek van sy oog hoe die hoofouderling, oom Willem, op hom afpyl vanuit die parkeerterrein. "Hygent hert der jagt ontkomen, dis elke Sondag se storie" mompel Oom Hansie by homself. As oom Willem hom vroeg raakloop voor kerk, kom hy by niks uit nie, want van ontslae raak van die ouman is geen sprake nie. Oom Hansie hou hom blind en swenk weg na die kerksaal, maar oom Willem sien dat sy teikengeselsie hom gaan ontvlug en kies kortpad tussen die jasmynheining en die kerk.Anderkant die leivoor, haak oom Willem se voet vas aan ´n klip en hy ploeg kop eerste in die heining in, waar hy op sy hande en knieë te lande kom. Hy staan ´n volle tien sekondes so handeviervoet en kyk na sy hoed, bril en pyp op die grond voor hom. Dit was ´n fout en hy verstaan dit eers beter toe die eerste perdebye hom in sy nek en op sy ore begin piets. Oom Willem spring op en nael in die rigting van die kerk.
Oom Hansie het gaan stilstaan toe hy die valslag hoor en hom eers verkneukel oor oom Willem se sitvlak wat soos ´n baal wol by die heining uitsteek.
"Hehehe – dis nou van wil strontpraat – hehehehe" Hy merk egter gou dat oom Willem se opstaan geseënde ondersteuning gekry het en onthou dan eers van die perdebye in die jasmynheining. Vlekkie het reeds die pad saal toe gevat.
"Ooo donnertjie tog!" knoop Oom Hansie voor hy omvlieg kerk toe, kerklike gebondenheid en broederskap eers vergete.
"Sluit oop die kerk broer, sluit oop! Dis ´n demoniese aanval!" roep oom Willem waar hy in volle vaart die grasperk vat. Maar Oom Hansie het reeds koers verander kerksaal toe, want, het hy met die omspringslag onthou, die sleutels van die kerk is in sy sak en hy sal met geen wil op aarde betyds kan oopsluit nie.
Met hul waardigheid nou heel vergete, stryk Oom Hansie aan, oom Willem kort op sy hakke soos ´n haan wat agter ´n nuwe hen op die werf aanpronk. Oom Hansie hoop dat hy die saal kan haal voor oom Willem, sodat hy regdeur kombuis toe kan werk waar hy ´n blik insekdoder aanhou. Hy het egter nie rekening gehou met die deel van die nes wat vanuit die staanspoor agter Vlekkie aan in die rigting van die saal geswerm het nie, maar sien aanstons sy fout toe die voorhoede hom takel.
"Vlekkie, die goed is mal" skreeu hy en spring kortom. Toe die agterhoede hom pak vind hy darem die nodige inspirasie om sy knieë hoër op te tel en sy voete verder vorentoe te sit. In volle vaart merk hy ook dat die predikant van die pastorie se kant af kom en hy skree: "Maak die sproeierkrane by die hek oop dominies"
"Wat?" vra die jong predikantjie deur die wind. Hulle is nooit op kweekskool geleer van tuin natspuit op ´n Sondag nie, en dit nogal voor die erediens.
"Maak die bliksemse sproeiers oop dominies!"
Die predikant soek haastig vir die kraan, draai oop en dink by homself dat dit te koddig is dat die koster en hoofouderling so voor kerk drawwe. En dit nogal in die sproeiers.
Na kerk sit die Oom sy wonde en lek. Die stoep is minstens koeler as die voorkamer. Dis nie soseer tant Soufie wat Oom Hansie so frustreer nie, eerder haar maniertjies. Tant Soufie en oom Jopie van Witwortelfontein, die plaas langs Oom Hansie s´n, kuier hier, en Oom Hansie haat elke oomblik daarvan. In die eerste plek verpes hy dit dat albei die oumense skynbaar niks het om te sê nie, iets wat hom op sy senuwees maak, en verder hou hy nie veel van hulle nie. Trouens, Oom Hansie kom agter dat hy nie van baie mense hou nie. Hy het netnou in die kerk gesit en dink aan die mense van wie hy hou, maar hy het naderhand bietjie vaak geraak. Seker die hitte.
Tant Soufie hou die koppie tee met haar regterhand vas en waai kort-kort ´n denkbeeldige vlieg bo die koppie, met haar linkerhand weg. Oom Hansie sit elke keer wanneer hy en die oumense kuier, met verwondering en staar na tant Soufie se makabere ritueeltjie. Hy het al haar ritme en patroon mooi uitgekyk. Sy waai drie of vier keer oor die koppie, laat sak die hand vir so vier sekondes en waai dan weer nuwe vlieë.
"Meneer, die kos es reg" roep Sina vanuit die kombuis.
Oom Hansie, verlig oor die novus actus interveniens spring op en nooi vriendelik: "Nou ja mense, kom laat ons ´n stukkie gaan eet, kom oom Jopie laat ek help met die kierie."
Na ete gaan sit die drie weer op die stoep, maar hierdie keer is Oom Hansie gewapen met ´n vlieëplak, wat hy onder die riempiesbank insteek. "Sienaaaaa!" roep Oom Hansie "maak jy tee?" "Ja meneer".
"Jong ek sal mos nooit gewend kan raak aan die verdomde gemeneer van die volk nie" sê oom Joop in ´n sin wat ongewoon lank is vir ´n man van sy verbale vaardighede. "Shame" dink Oom Hansie "dertig veertig jaar onder die ou vliegdekskip (hier onderbreek die Oom homself met ´n kort hehehehehe) is seker ook nie bevorderlik vir ´n man se praatwerk nie"
Nadat hy die teeskinkbord gehou het, sit Oom Hansie oorgehaal en wag. Tant Soufie het skaars die eerste vlieg weggewaai of Oom Hanse is by met die plak, en hy slaan wild en wakker om tant Soufie. Die opwinding is vir Vlekkie te groot en hy begin blaf.
"Wiewatdedonner" skree oom Jopie toe hy vervaard opspring uit sy stoel waar hy net weer ingedut het. Die poep wat hy los met die opspringslag het Vlekkie heel verbouereerd en hy gee pad van die stoep af, sy naels gly-gly op die rooigepoleerde sement. Hy het al te veel die skuld gekry vir vreemde geluide en hy weet wanneer dit tyd is om spoedeisend op te tree met ´n taktiese vertrek.
"Hoe sê jy Pappa?" beveel/vra tant Soufie.
"Askies mense" spring oom Joop vinnig in voor hy weer daardie kyk kry.
"Nou ja, amper vergeet jy jou maniere ne" waai tant Soufie die laaste vlieë bo haar koppie weg en glimlag vriendelik vir hulle gasheer.
skrywer: Bert van der Walt
