Dit is Sondagoggend, die derde oggend wat die haan nie kraai nie en Oom Hansie se nerwe raak nou rou geskuur. Iets sal gedoen moet word aan die saak, en hy besluit om nog bietjie te lê sodat hy beter oor die saak kan dink. Hy onthou nou hoekom hy eintlik so skuins die dinges in is vanoggend – by gistermiddag se rolbal het die hoofdiaken se vrou op sy hoed loop sit en sy en haar gevolg het hulle simpel gelag daaroor. Die hoed het hy mos destyds by ´n Afrikaanse Jood gekoop wat so van dorp tot dorp sy negosieware gesmous het. Hy wat Hansie is sal nie van hom ´n bespotting laat maak nie. Newwer.Steunend trek die Oom sy broek aan, haak die kruisbande oor en stap buitentoe waar daar teen hierdie tyd geen teken van die haan meer is nie. Hy stap om die huis na die hoenderhokke toe en struikel oor Vlekkie wat kort kort onder sy voete is. "Hygend hert der jagt ontkome" skreeu hy en skop na Vlekkie, maar Vlekkie het lank reeds die skop in Oom Hansie se oë gesien en betyds padgegee. By die hoenderhokke merk Oom Hansie dat die haan wel daar sit, boonop op die buiteband met die kos in. Die haan se bek gaan oop, maar daar kom geen geluid uit nie.
"Gespuis! Dis van al die gerondjagery in die nag lat jy so hees is."
Op pad terug huis toe brom hy onvergenoegd onderlangs tot in die kombuis waar hy krap in die medisynelaai. Oom Hansie haal die bottel Vicks Medi-Nite uit en stap met vaste tred terug hoenderhok toe. Nodeloos om te sê word Oom Hansie se besoek aan die hoenderhok met ´n senuagtige geskarrrel begroet en die haan laat blyk dadelik dat hy nie van plan is om hom maklik te laat vastrek nie. Die fout wat die haan uiteindelik maak is om sy waardigheid te kies bo sy vryheid. Hy is nie tevrede met die situasie nie en probeer onder Oom Hansie se arm uitfladder, maar die Oom klem hom stewig vas. Oom Hansie skat so twee lepels Vicks Medi-Nite in die haan se keelgat af en los hom dan om ´n wilde draai deur die hok te hardloop, die waardigheid nou vergete. Daar is ´n beroering onder die henne en almal kloek-kloek besorg na hul slaapplekke. Hulle weet al dat die haan weldra sy wraak sal neem en dan ontgeld hulle dit.
Terug by die huis drink Oom Hansie die laaste bietjie koffie in sy enamelbekertjie, spoel hom uit en gaan haal die koos in die kamer. Die word ook versigtig uitgespoel buite onder die kraan en onderstebo neergesit om uit te droog tot vanaand.
Later, nou uitgedos in sy kispak, sit Oom Hansie die hoed op sy kop en vat die bakkie se sleutels. Vlekkie wag reeds agterop die bakkie, hy gaan mos altyd saam kerk toe. Oom Hansie klim egter weer uit en stap terug huis toe.
Toe hy weer by die huis uitkom, hou hy ´n pakkie omhoog "Ou Vlekkie, dis mos die goed wat neef Karel voor sy dikdermoperasie moes drink, of hoe?"
Na die diens versoek die dominee die gemeente om by die kerksaal aan te doen waar koek en tee bedien sal word vir die hoofdiaken se vrou se verjaarsdag. Oom Hansie wag geduldig naby mevrou hoofdiaken en toe sy haar koppie tee vir ´n oomblik neersit, staan hy ongemerk nader en vroetel in sy sakke.
Nadat die dominee en sy vrou asook die hoofouderling en sy vrou toesprake gelewer het en lofliedere aangehef het, kry mevrou hoofdiaken ook ´n spreekbeurt. Haar man knip die koordlose mikrofoontjie aan haar snyerspakkie se baadjielapel. Sy bedank almal teenwoordig en die predikantsvrou en die susters wat haar so mooi ondersteun ensovoorts en so meer. Oom Hansie staan naby die eetgoed en glimlag kort-kort vriendelik vir die susters wat hom aangluur as hy ´n koeksuster of frikkadelletjie inryg, of iets na Vlekkie toe aangee.
Die volgende oomblik storm mevrou hoofdiaken in die helfte van ´n sin by verhoog af en by die deur uit. Terwyl die gemeente, soos die Egiptenare van ouds toe dit paddas begin reën het, vraend rondkyk en wonder wat aangaan, verskaf mevrou hoofdiaken onwetend die antwoord. Met die finale draai wat haar maag gegooi het, het sy die mikrofoon aan haar lapel vergeet, selfs toe sy kreunend kommentaar lewer op die welluidende byklanke in die agtergrond.
"Ooo jirretjie, amper skyt ek in my rok!" Die dominee stik in sy tee en die kinders begin onbedaarlik lag. Geskokte diakens vertrap mekaar om die luidsprekerstelsel afgeskakel te kry, maar verleng net die gemeentelike lyding.
"Hehehehehe. Haar toespraak het alle verwagtings oortref. Hehehe. Kom Vlekkie." sê Oom Hansie en stap bakkie toe terwyl hy sy hoed stewig op sy kop sit.
skrywer: Bert van der Walt
