deur Ferdi Wheeler

Anneke Brink streel met haar vingerpunte oor haar weerkaatsing in die spieël. “Ek is nog mooi,” dink sy.

Dis die geborge lewe, sê haar vriendin, Myrtle. Geen kind of kraai nie en geen sorg nie. Mooi opgepas. Maar alleen. Nie dat die alleenheid haar so juis gepla het nie.

Soms het sy iemand se oog gevang. Soms het iemand haar oog gevang. Die

akademie was vir professor Anneke Brink egter alles. Maar nou het daar ‘n sterretjie op die horison van haar lewe verskyn.

Theun de Vries het haar onmiddellik as ‘n verfynde mens getref, al moet sy erken dat haar eerste indrukke op ‘n afstand verkry is. Die geleentheid was ‘n dekaansaand vir nagraadse studente. Sy’t half verveeld rondgesit. Tot haar aandag so terloops op hom gevestig het.

“Hy’s aantreklik né!” het Myrtle meteens langs haar gesê en met ‘n breë glimlag langs haar neergeplop.

Sy’t gebloos en half selfverergd haar oë neergeslaan.

“Ja, die liefde darem, né!” het Myrtle volgehou. “Gaan maak kennis, vrou!” het sy gepor.

“Ag, jy’s laf!” het Anneke gesê, opgestaan en haar leë koppie neergesit. “Op my ouderdom … “

“Hy’s self nie meer ‘n kuiken nie, hoor. Het glo laasweek hier uit Leuven saam met die dekaan aangeland. Maar toemaar, jy sal hom seker weer sien,” het Myrtle terglustig bygevoeg.

Sy’t heeltemal uit haar aard by die dekaan vroeg apologie aangeteken en vertrek. In die kar het sy vir ‘n oomblik stilgesit en haarself gekapittel. “Nou vir wat vlug jy?” het die stemmetjie in haar binneste gevra.

Die blonde blou-oog man se beeld het haar bygebly toe sy al in die bed was. Die mooi manier waarop sy hande saamgesels het. Die blou oë wat ‘n paar keer haar blik gekaap het en vriendelik gelag het. Sy stem het sonoor in die ruimte tussen hulle gedra. Die glimlag, wanneer hy na iemand geluister het, het ‘n stel volmaakte tande ontbloot. Die lippe was vol en sensueel. Die neus aristokraties. So het sy aan die slaap geraak.

Die volgende paar dae het sy rondgeval tussen vlug en verlief. Soos ‘n skooldogter.

Hoe kon sy die afstand tussen hulle twee oorbrug, het sy gewonder. Toe opeens het dit gebeur: daar was ‘n huiwerige klop aan haar kantoordeur en toe sy opkyk, staan hy daar.

“Doktor De Vries…” het sy vraend gesê, terwyl rooi vlekkies op haar wange uitslaan.

“Ek’t jou hulp nodig,” het hy gesê en half verskonend ‘n getikte essay op die lessenaar voor haar neergesit. “Ek soek kritiek op hierdie stuk en dis nogal dringend.”

“Is dit vir publikasie?”

“Ja, spertyd soos in volgende week.”

“Dan sal ek by die huis daaraan moet werk.”

“Mooi, sal dit by jou kom kry,” het hy gesê, haar sy mooiste glimlag gegee en verkas. Sy was te ingenome om vererg te wees.

Nou is die werk eenkant toe geskuif op die koffietafel in haar sitkamer. Theun de Vries sit langs haar op die divan. Die aroma van sy parfuum hang liggies tussen hulle. Hy is heeltemal op sy gemak en raak haar ligweg aan terwyl hy praat. Sy innemende manier maak haar op haar gemak en sy wens hy wil altyd bly praat sodat sy na hom kan luister.

“En toe, hoe gaan dit met die liefdeslewe?” vra hy uit die bloute en kyk tergend na haar.

“Stil …” sê sy half verskrik en kyk weg.

“So ‘n mooi vrou soos jy? Ja, vandat ek jou die eerste keer gesien het, het ek sterk verlang na iemand wat ek vir ‘n wyle agtergelaat het in verre Leuven,” sê hy en kyk nadenkend weg. “Maar,” sê hy dan weer en kyk stralend na haar, “Dis nou nog net ‘n week dan’s ek terug by haar.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply