Destyds, toe wewenaars nog gepraat het van opsit saam met ’n kers en gevry het met respekte was daar g’n slegheid aan die ding nie.

’n Plaat van Jim Reeves en ’n bos blomme was genoeg om die weduwee te oorreed om ’n maaltyd voor te sit met ’n ietsie soets na die ete voor die opsit begin. ’n Boer het gevry met mooi woorde; homself toegerus met digterlike woorde en romantiese prosa – biblioteekboeke, ma se boekrak boeke en ou skool opstelle.

Oom Faantjie Fynkyk het al wat boek gefynkam vir die vleiende dinge, maar wanneer ’n man wil opsit en jou inbors ook ’n hupstootjie wil gee, moet jy dieper praat as net biblioteek woorde. Oom Faantjie het hom gewend tot Salomo se Hooglied. ’n Man, dink hy, wat opsit en vry met Hooglied kan vir seker wees van ’n sitplekkie op die settee.

Ant’ Lemoentjie le Roux was ’n weduwee wat sterk en vol gestaan het in haar geloof en kerkskoene. Haar hare was narsing rooi soos ’n ryp lemoen, oranje wangetjies en kniekoppe soos twee nartjies van vloere skrop en Cobra politoer – ietwat skurf, maar ook nie so dat sy ’n laken oor ’n katel sal skif nie.

Gesange was haar bekoring. Die eensaamheid was soms te veel en dan het Ant’ Lemoentjie voor haar traporreltjie ingeskuif met haar Gesangeboek, die pedale getrap met ’n stewige paar voete, knussig in skaapwol pantoffels. Dan sing Ant’ Lemoentjie weemoedig, vals soos die traporreltjie. Trap-trap dat die potjie droë sewejaartjies op die rakkie dans en skud tot die laaste noot, ’n crescendo wat net betyds eindig voor die ruite bars.

En toe een aand kom klop Oom Faantjie Fynkyk aan die voordeur met ’n bossie dahlias en ’n Jim Reeves plaat onder sy arm. Ant’ Lemoentjie nooi die vryer binnetoe aangesien hy haar per briefie toestemming gevra het en sy op gegeurde lemoenbloeisel-papier toestemming verleen het. ’n Man wat darem skryf oor rooi granate, saffraan, die reuk van kalmoes en ’n ryp lemoen het Salomo se wysheid.

Die traporreltjie het stof opgegaar; die pedale styf. Vir jare daarna, wanneer jy verby Ant’ Lemoentjie se huis stap kon jy Jim Reeves hoor sing. Daar het ’n opsitkers gebrand in die voorhuis en daar was dahlias in die voortuin.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar