deur Alexander E. Carte
Frik van Dung sit en bekyk die geërodeerde palmboom vanaf die vaal rooi stoep en wonder of sy jaar ringe kan aandui of sy saad aangewaai gekom het en of ’n pionier op ’n perd verantwoordelik is vir sy suksesvolle bevrugting en groei, wanneer konstabel JP sy ken tuismaak op sy tuinhekkie met gelapte ogiesdraad so asof die roes se wraak in die leë kolle skuil.
Albei is stil en staar na verskillende onderwerpe asof antwoorde of ’n gemene tema homself sal ontbloot.
Die polisieman se vraag of Frik koffie het onderbreek sy staar na ’n palm wat wag om sy gat te sien en lewensdoel uitgedien het en ’n raserige mossie en gesin van ’n tuiste verskaf het oor drie generasies heen.
Frik bepeins baie stil en oormatig lank asof hy die twee onderwerpe teenoor mekaar opweeg. “JP, jy weet waar die koffie is. Een suiker vir my.”
Die hek se bek trek skeef as JP hom laat oophang aan die bloudraad-skarnier op pad stoep toe.
Een verbleikte vuil blou beker vir Frik en ’n oorlose Wimpy-beker vir homself. Hy maak hom tuis langs Frik op ’n riempies-stoel wat glo op een of ander Dorslandtrekker se wa gery het. Blykbaar met die hand gekerf uit ’n Drolpeer se stam.
JP sit die warm oorlose beker langs hom neer en haal ’n Gunston plain nippie uit sy bosak en bedel in gebaretaal ’n Lion-vuurhoutjie by Frik.
“Jy gehoor?” vra JP.
“Moes ek?” vra Frik na sewe minute.
“Van wat?” vra Frik na ses minute.
Die Gunston stompie trek palmboom se rigting.
“Trollie Gemske se merrie is oppie paal” kom die antwoord met ’n know-it-all-konstabel skewe kop.
Tyd verloop en Frisco koffie word gedrink.
“Maar Triels is nou maar drie maande by Toffie se slaghuis?” vra-beaam Frik.
Toskie daag op by die oop skewe-bek tuinhekkie en stap deur kombuis toe. Hy kom terug sonder koffie.
“Jy’t fokkol bekers oor Frik?”
“Nou praat jy” sê Frik.
“Jy gehoor?” vra JP.
“Wie vra jy?” vra Frik.
“Moes ek?” vra Toskie?
“Van wat?” vra Toskie?
“Triels Gemske” sê Frik.
“Wat van haar?” vra Toskie.
“JP reken sy’s oppie paal” antwoord Frik.
“Ok, dan loop ek nou maar eers – kry tog vir jou verdomde bekers Frik, g’n mens kan so kuier nie.”
“Nie geweet koffie maak ’n man so nukkerig nie” merk Frik op.
“Jy weet mos?” smile JP skewekop.
“Weet wat?” vra Frik.
“Koffie-lus maak nie so nie” sê JP.
“Jip – dalk het Triels bekers met ore” glimlag Frik alwetend.
(foto: Etienne Marais)
