True story.
Ek is nie baie religieus ingestel nie en die klippe wat voor die grotte weggerol is op Facebook oor Paasnaweek het my al vroegoggend geïrriteer. Ek werk nog heel naweek en het geen joy uit die fees gekry nie.
Behalwe vir die Pnielers wat fees vier. Netnou kom Elaine, ’n Springbok Atlas-toergids, met ses gaste. Elaine is ’n lastig blerrie vroumens en moerse demanding. En sy gaan al heel week aan hoe belangrik haar groep is en ek moet die proe aanbied. Bel my drie keer ’n dag. Vandag en gister was ons bitter besig en my geduld het opgeraak en ek het actually begin lag na een van ons foongesprekke.
Sy bring die ses op tyd. Twee opgeskote seuns wat Coke drink en bored lyk. ’n Middeljarige man van Rugby in Warwickshire en sy suster van Natal. En twee ouer mense. Die mollige tannie en ’n oom wat geel is.
Ek het heeldag skitterende proeë aangebied en was op ’n roll. Ek gee toe waarskynlik die beste en pittigste en mees gevoelvolle een ooit. Na my proe kom die oom orent en klap stadig hande. Ek buig effe en gaan staan agter die till. My een kollega, Dean, sê: “Fuck bru you are a legend.”
Ek help ander mense en ewe skielik staan die jonger vrou by my en sê: “Thank for making my dad laugh today, he is busy dying of cancer of the liver. That is why we are gathering from all over.” En die trane rol. Ons skud hand en Meneer Spraaksamig is stil.
En voordat sy gaan sê sy: “God will bless you forever, Francois.” En die statige ou oom steek vas draai om en waai. Vir die laaste keer vir my. En ek weet toe hoekom ek so geared up was. Ek is terug by die huis maar die goose pimples bly.
(foto: Sarah Biljana Gaon)
