Die pad na Switserland

Vanessa het een van twee keuses. Sy kan deur die gapende venster spring en haarself terpletter val teen die blinkswart teerblad, sowat 20 m onder haar. Andersins kan sy haar hande in die lug sit, stadig omdraai en doen wat die vreemde gedaante in swart haar beveel."Hoekom moet ek op die verkeerde plek op die verkeerde tyd met die verkeerde houding wees?" prewel sy saggies. "My hele wese wil die man vermorsel, sy hart uitruk en dit vir my rotweiler vir nagereg gee." Tog is die ongemak wat sy tussen haar blaaie ervaar nie die begin van rumatiekpyne nie. Die hardheid van die pistool laat haar besef dat as sy enigsins haar innerlike lokus van beheer gehoorsaam, sy met ´n paar onwelkome rondtes sal kennis maak.

"As djy die son wil sien opkom beter djy nou omdraai jou lekka nursie!" bulder die man in haar ore. Sy warm, nikotiengevulde asem brand warm in Vanessa se nek. Sy kan die benoudheid agter in haar droeë keel voel opwel. Met moeite beweeg sy haar loodswaar bene en draai stadig om, intens bewus van die pistool wat tussen haar blaaie druk. "Ek hettie heeldag tyd nie, ly djy aan vertraagde reaksies of wat is dit met djou!" kom die gebulder weer. Diè keer kruip sy nikotienasem teen haar neusgange op en verander die benoudheid in ´n doodsheid. "Dalk moes ek eerder gespring het!" dink sy met ´n angstige gemoed.

"Kom Blackie, onse kar wag al buite. As ons nie nou hier uitkommie is dit tickets met ons en ons masterplan!" laat ´n tweede onbekende stem van hom hoor. Vanessa word letterlik aan haar hare by die deur uitgesleep. Sy wil haar verset, maar voel soos ´n slapriem in die boef se hande. "As djy eenkeer weer my naam noem, dan donner ek djou, onthou wat ons deal is!" snou Blackie sy vennoot in misdaad toe.

Mattheus bekyk die glinsterende diamante wat die verloofring versier met kritiese oë. Hy soek die perfekte ring om die perfekte vrou sy bruid te maak. Net die beste is goed genoeg vir Vanessa Roux en aangesien haar familie van hoë aansien is, sal hy moet uithaal en wys. "Ek sal die een neem asseblief dame. Sy sal nie my aanbod van die hand kan wys as sy eers die skoonheid gesien het nie" laat hy selfvoldaan van hom hoor. "Hou dit asseblief vir my uit, ek sal dit more kom haal en sommer dan betaal."

Enkele minute later ry Mattheus in Rissikstraat af, oppad na Meulmed Hospitaal. Hy het Vanessa tydens ´n prestige aand ontmoet. Sy het geskitter in ´n asemrowende gewaad en het sy asem gesteel toe sy met ´n nederige trots die toekenning vir die uitmuttendste dokter verower het. Sy het meer as net ´n toekenning verower daardie aand, sy verowerde hart probeer nogsteeds herstel van haar onskuldige aanslae. Dit was daardie aand wat hy haar trompop geloop en ´n glasie sherry aangebied het. Wat daarna gebeur het is nou 6 maande se soete herhinneringe wat hy elke dag koester.

Vanessa lê bewegingloos op die sneeuwit, varsgestrykte laken. Haar gietswart hare vorm ´n kontras met die wit van die laken. Haar ooglede fladder effens en haar tong vul die krakies in haar droeë lippe met ´n bietjie vogtigheid. "Ek dog sy kom nooit weer by nie. February, gee ´n biejie water virrie nursie, ons moet haar ten minste in een stuk teruggee." "Dog ons noem nie name nie, wonder wie moet nou gedonner word hè?" laat February verontwaardig van hom hoor. "Okay, cool it, ons maskers steek anyway ons skurwe bakkies weg" probeer Blackie sy foutjie herstel.

"Waar is ek en hoekom het julle my ontvoer?" fluister Vanessa met moeite. Haar gedagtegang speel rondomtalie met haar. Allerhande beelde flits verby haar geestesoog. Wrede beelde, beelde van haar verskeurde liggaam wat in ´n troebel rivier afdryf. "Waar is ek? Laat my asseblief gaan! My pa is ´n gesiene man met baie geld, julle kan soos konings lewe as julle my laat gaan. Moenie my seermaak nie, ek smeek julle!" stroom die woordevloed oor haar gebarste lippe. "Lyk vi my jy issie so dom afterallie. Natuurlik soek ons jou ouman se geld, sommer sakke vol!" sê Blackie met ´n snedige glimlag op sy gesig.

Mattheus se gemoed is swaarder as lood. Hy het orals gesoek en orals gevra, tog weet niemand waar sy bokkie is nie. "Hoe kan Vanessa sommer so tussen neus en ore verdwyn?" skreeu hy uit pure moedeloosheid. Die gelui van sy selfoon gee hom ´n tikkie hoop. " Middag, Mattheus wat praat," rammel hy vinnig sy groet af. "Mattheus, luister asseblief mooi. Ek is ontvoer deur twee mans en as my pa nie binne die volgende 24 uur R10 miljoen in harde kontant aflewer nie, is ek bevrees gaan hulle my doodmaak! Ek kan nie my pa in die hande kry nie, dus moet jy hom opspoor en alles aan hom verduidelik. Ek moet nou gaan." weerklink Vanessa se stem in sy ore. "Wag Vanessa, my bokkie, my enigste…" antwoord Mattheus die besettoon aan die ander kant.

"Dis nou genoeg, gee die verdompde foon hier! Hy hoef niks meer te wetie!" Blackie ruk die foon hardhandig uit Vanessa se hande uit. Trane stroom teen haar bleek wange af. Sy wens met haar hele hart dat sy kon wakker word en die nagmerrie kon eindig. "Stop met jou getjankery, djy maak my siek!" skreeu hy kras. Uit die hoek van haar oog gewaar Vanessa ´n beweging, dan voel sy hoe Blackie se vuis hard met haar kakebeen kennis maak. Eers ´n klapgeluid, dan die wreedste pyn wat haar dadelik lighoofdig laat voel. "Is djy van jou kop af! Ek sweer, ek steek jou hand vol gate as jy weer so iets probeer." February vee die straaltjie bloed met sy vuil sakdoek van Vanessa se gekneusde lip af.

Mattheus stap met ´n ligter dog angstige gemoed by die Roux woning uit. Dit het hom ´n uur se gepaai gekos om te verhoed dat Vanessa se pa aan ´n hartaanval beswyk en 5 minute om hom te oorreed om die omkoopgeld voor die einde van die dag in harde kontant aan hom te besorg. Sy natgesweete kakiehemp klou soos ´n klits aan sy rug vas. Hy voel liggaamlik en emosioneel uitgeput, so gedaan soos sy ma se deurgewaste vadoeke. Nog net ´n paar uur dan is dit die einde van die nagmerrie en die begin van ´n sprokieslewe saam met sy prinses.

Die skril gelui van die foon weergalm deur die koue vertrek. Vanessa sit opgekrimp in ´n hoekie, haar menswaardigheid gekrenk en haar liggaam gekneus. Sy wend geen poging aan om die foon te antwoord nie, te bang dat sy weer ´n oorveeg gaan kry. "Antwoord djou foon dollie, seker daai loverboy van jou. Beter goeie nuus hê of dit is tickets met jou!" Met bewende hande en eens druppende trane wat nou teen haar wange afstroom probeer Vanessa die foon optel. "Kry beheer oor jouself Vanessa Roux. Jy kan dit doen, fokus net." flits dit deur Vanessa se moeë brein. "Hallo, is dit jy Mattheus?" "Ek het die geld Vanessa, die polisie weet van niks en ek is gereed om dit te kom aflewer, sê net waar." "Dankie, jy is my ridder, geweet ek kan op jou staatmaak. Jy sal met Blackie moet praat om die reëlings van die aflewering te bevestig..ek is lief vir jou."

Dit is stikdonker in die eensame vertrek en die koue byt-byt aan Vanessa se weerlose liggaam. Dit voel soos ´n leeftyd sedert die twee skurke inderhaas hul uit die voete gemaak het. Haar gedagtes gaan terug na gisteraand. Sy het snoesig in Mattheus se beskermde arms aan die slaap geraak. Die warm van sy lippe nog vars orals op haar liggaam. Die man wat haar hart sonder voorbehoud gesteel het en wat haar gedagtes elke dag gevange hou. "Waar is jy my ridder van my hart?"

Mattheus val letterlik met die deur in die huis. Die deur was natuurlik gesluit en ´n simpel deur gaan definitief nie tussen hom en sy liefde staan nie. "Vanessa, waar is jy? Dit is stikdonker in die plek!" roep Mattheus benoud. Sy vingers vind die skakelaar en die vertrek word in ´n oomblik opgehelder. Sy hart krimp ineen toe hy Vanessa gewaar. Sy is doodsbleek, lyk volkome soos ´n bokkie vasgekeur in die smeulende vlamme van ´n bosbrand. "My liefste klein meisiekind, nooit weer sal jy my arms verlaat nie, ek wil jou vir altyd liefhê en beskerm teen die pynvolle slae wat die lewe uitdeel. Wees asseblief myne, my eggenoot, my vrou, die asem in my longe die klop van my hart. Trou met my en ek sal jou wegneem na ´n paradys waar daar ´n oorvloed liefde is."

Mattheus se hart borrel oor van vreugde. Hy het wel iets anders in gedagte gehad toe hy Vanessa gevra het om met hom te trou; die oomlik was net te groot en om nog ´n dag te wag sou ´n marteling gewees het. Nou pryk die baie duur diamantring aan haar vinger en R10 mil in sy bankrekening. Sy mag nooit uitvind dat hy eintlik ´n arm werklose man was wat aan ´n meesterplan moes dink om haar vir altyd syne te maak nie. Saterdag vertrek hulle Switserland toe en sal dit die begin van die res van hul lewens wees.

skrywer: Andi du Plessis

Lewer kommentaar

Leave a Reply