Die dae vlieg verby soos swaeltjies op ´n missie na warmder seisoene en ek sit op my gat op ´n stoel voor ´n rekenaar. Op universiteit het ons dit die GOS-beginsel genoem, "gat op stoel". Die beginsel moes toegepas word om te verseker dat jy nie jou beurs verloor en met ´n hoop onbetaalbare skuld sit nie. Natuurlik het ons dit toegepas soos dit verantwoordelike, pligsgetroue studente betaam. GOS voor die TV, GOS in die kroeg, GOS op die koshuis se dak, GOS in die teerpad, orals behalwe voor die lessenaar met die hoop Griekse geskrifte. Mens moet die lewe gryp, omhels en frenchkiss anders gaan die swaeltjies ongemerk hul weg verby jou vind.Terug na my gat op die stoel voor die stimulerende skerm was dit se tong ingesluk het. Waar is die dae toe mens oor ´n koppie tee wyshede en snert kon kwytraak.? Al reaksie wat ek nou kry is "sorry, an error has been detected, this system will shut down in approximately 15 seconds." Ek voel al soos ´n massamoordenaar, meer ´n sluipmassamoordenaar wat baie gewild is onder my mede kollegas. "Kill these users please, terminate my session, disable those users" en al die wrede aksies met die druk van ´n paar knoppies. Hier kom ons Cyberworld! No brain om te sif, no pain in jou gat, no gain om ´n pakkie sigarette te bekostig nie.
Hoe op aarde het ek hier opgeland, ek wat die Bloekomboom buite ons plaashuis omhels het, wat die roseblare gesoen het en myself vergaap het aan die eindelose gewapper van skoenlappervlerkies in die middagson? Die lewe maak wilde Kaapse draaie en spoeg jou soos ´n bitterpil uit om verswelg te word deur die eindlose strande.
Ek is vasgevang in ´n mensgemaakte, betonoerwoud en as ek my oë ophef na die spikkelgrys plafon wat my gevange hou, voel ek magteloos, benoud, verward en brand die gesirkuleerde lug my longe. Iewers tussen Kwatamala en Leeuspruit moet daar´n plekkie vir my, die mens, in die luilekker son wees. ´n Plekkie waar ek met ´n kaalgat (nie gat op stoel!) in die reën kan ronddans en "Dis julle wat die wind laat waai" uit volle bors kan sing. ´n Plekkie waar gister en more nie bestaan nie en vandag koning kraai.
Terug na realiteit. Ek sit nogsteeds met my gat op die stoel, voor die rekenaar, met ´n ongemaklike pyn in my nek. Ek kan Tant San se teeblare sien rondswem en "figure of 8’s" op die plafon maak. Sy glo dat haar oorle ouma se siel nog nooit rus kon vind nie, daarom die eienaardige teeblaar patrone op die bodem van haar teekoppie. Blykbaar het oorle ouma ´n jong bok ontmoet wat verhoed dat sy tot ruste kom. Whatever, my teorie is dat sy dalk ´n filter moet gebruik as sy volgende keer tee skink.
As daar wel ´n wysheid van Tant San is wat nes gemaak het tusssen my hiperaktiewe breinselle is dit die volgende: "My kind, die belanrikste is nie dit wat agter jou lê of dit wat nog voorlê nie, eerder dit wat binne jou lê; jou drome en ideale, dit wat die bloed deur jou are laat bruis, jou wil laat aanhou asemhaal, die lewe self.
As ek dus terugkeer na die werklikheid, is die GOS-beginsel nie so groot pyn nie. Dit is wat mens doen as jy nie "gat op stoel" is wat saakmaak. Verjaag die klein jakkalsies wat jou wingerde verwoes en word bewus van die geklop in jou binneste, die lug in jou longe, die tinteling deur jou are en LEEF!
skrywer: Andi du Plessis
