"Jy moet vashou Vlekkie!" skreeu Oom Hansie toe die Peugeot bakkie die grondpad slaan en begin bokspring soos Rudolf Straeuli voor ´n mediakonferensie. Na jare se ondervinding met die soort ding, weet Vlekkie teen hierdie tyd presies wat om van die Oom se bestuursvernuf te verwag op enige grondpad. Hy kruip dus half onder die sitplek in en stuur skietgebede op na die plek waarheen honde skietgebede stuur. Toe die Oom se valstande oomblikke later verby sy kop vlieg, knip hy dus nie ´n oog nie.Oom Hansie deel egter nie Vlekkie se wantroue in sy bestuursvernuf nie en buk af om die valstande te herwin. Daar is nie tyd om dit eers aan sy kakiehemp af te vee nie, en hy prop die tande dus onseremoniëel terug.
"Hygent hert der jagt ontkome" bulder Oom Hansie toe die bakkie ´n sandwalletjie tref. Die bakkie swenk soos ´n bosveldfisant van die pad af en bars deur die Engelsman se nuwe doringdrade. Hy pluk wild aan die rukkende stuurwiel en slaag daarin om die ou Peugeot terug te dwing na die grondpad, die plat drade en die kaal strook deur die sonneblomland stille getuienis van sy besoek.
Die Oom hou stil, haal woordeloos die bodemlose melkkan van die bak af en verdwyn met die melkkan en ´n stuk van voorverlede week se Huisgenoot (die stuk met Wilmien van 7de laan) tussen die sonneblomme in. Nadat hy die melkkan weer op die bak gegooi het, grinnik die Oom breed: "Kwits ou Vlekkie, ek het nog altyd gewonder oor die storie dat dieselbakkies ook deur sonneblomolie aangedryf kan word. Ek het self die ou Peugeot nou lekker tussen die sonneblomme deur gedryf. Hehehehe"
Tot Vlekkie se groot verligting verloop die res van die rit na Pretoria sonder enige besondere insidente en ook genadiglik heelwat stadiger.
Ons geliefde Oom is vandag op pad om die Springbokke se oefenkamp te gaan aanskou. ´n Verlangse neef van hom werk by Loftus as ´n sekuriteitsbeampte, en het beloof om Oom Hansie in te laat by die stadion. Oom Hansie moes natuurlik hart en mond sweer dat hy so stil soos ´n muis sal wees en nie die oefening ontwrig nie. Die arme mannetjie het blybaar al twee skriftelike waarskuwings weg.
Oom Hansie vind die spulletjie maar taamlik vervelig en kort voor lang begin hy die manne daar van die pawiljoene af aanmoedig. Dit lyk nie of die aanmoediging die afrigters of spelers pla nie, maar een van die ouens met die dasse vind dit tog gerade om te kom navraag doen oor die Oom se reg om by hierdie allerheiligste oomblik teenwoordig te wees.
"Nee man, ek is mos klein Derek se oupa, jy weet. Die kind het mos so mooi opgekom in die lewe. Daar in Piketberg verkoop ons nou sy ou skoolklere vir baie geld" Oom Hansie sien hoe die man se varkogies so ´n dowwe matswart raak, en weet dat hy die stryd gewen het. Lyk of jy behoort en praat vervelig, dan los hulle mens gou-gou uit – hoeka Oom Hansie se leuse.
Na die vrugtelose geduikery en aangepaas, vertrek die Springbokke in ´n baie grênd toerbus. Oom Hansie draai maar die ou Peugeot se neus agter die bus aan – hy het vergeet om handtekeninge vir die mooi vroutjie by die kafee se kind te kry. Hy weet hy moet almiskie nie agter die bus aanry nie, maar hy is seker hy sal uitkom waar die noodlot dink Oom Hansie is veronderstel om te wees.
Die bus stop voor een of ander vakansieherberg en die klomp bokke peul uit, en stap die hotel binne. So ´n verwaande klein miswurm in ´n groen Idi Amin uniform – net goue knope en brokade – wys vir die Oom dat hy nie voor die hotel se ingang kan stop nie. Hy hang by die venster uit "Hey wena, ek is daardie klein mannetjie se pa!" en hy wys na Joost waar hy deur die ingang verdwyn "Ek het net sy tokse vir hom gebring!"
"Nee, die maneer moet samblief dar annerkant by die strat stop"
So gesê, so gedaan. Voor die ander lakeie nog kan keer, is die Oom die hotel in, met die Tupperbak fyngekookte afval wat Siena gister gekook het. Vlekkie soos ´n adjunkminister in die Presidensie, agterna. Die bak kos is ´n geskenk vir Corné – die mannetjie lyk reeds vir die Oom so gedaan en Oom Hansie wil graag opmaak vir al die kere wat hy Corné al so gevloek het daar in die bar. Hy het homself juis laas met Nagmaal beloof hy gaan nie weer die mense so uitskel nie.
In die hotel se gange raak Oom Hansie effens van stryk af, die kamers lyk almal dieselfde. "Vlekkie, snuffel bietjie vir bloed en pleister man, ek moet net vir Corné die bak afval gee voor ek handtekeninge begin vra."
Een van die deure staan half oop en die Oom stap in om aanwysings te vra. Die hotelkamer is leeg, maar dit lyk of ´n orkaan die plek getref het. Op die spieëltafel staan ´n biltongruiker en Oom Hansie stap nader om te proe. Daar is ´n kaartjie by wat lees: "Beste Geo, sterkte met die oefenkamp. Ek hoop jy en Quintin geniet die eetgoedjies. Dominee."
"Hehehe, ou Vlekkie, ek hoop die man neem die dominee se woorde ter harte – g’n mens kan oorleef op die skrapse kos wat hierdie mense kry nie. Wag, ek dink ek sal die afval maar vir die Geo mannetjie los, hy lyk altoos so uitgehonger."
Met die omdraaislag struikel Oom Hansie oor Vlekkie wat ook met groot belangstelling die biltongruiker kom ondersoek het. Die Tupperbak spat uit sy hande en tref die toilet en bad met ´n geweldige slag, afval die hele badkamer vol.
"Kom Vlekkie, laat ons padgee. Ek dink nie hierdie mense sal nou meer ons gulhartige gebaar verwelkom nie."
skrywer: Bert van der Walt
