Doodmaak en Rooi-Rex

Waar hy vandaan gekom het, weet ek nie. Waarheen hy verdwyn het weet ek net so min. Maar jy kon daarop reken dat ou Doodmaak wintertyd eendag net daar sou wees. Hy was gejas en die lappe aan die jas was warmer as die jas self. Die skoene was net vlenters wat hy gedurig gelap het. As ek mooi terugdink, verbeel ek my daar was ´n keer wat hy ´n groter nommer bo-oor ´n ander paar vasgewerk gehad het. Ek kan nie juis onthou dat ou Doodmaak iets anders op die plaas gewerk het as om waterslote skoon te maak en draadheinings op te knap nie. Doodmaak was ´n ou swartman met ´n bleskop en ´n welige bos grys baard.Hy sou sommer net een oggend vroeg daar wees, of soms was sy skoene seker nie na wense nie en dan het hy selfs saans, wanneer ons voor die houtstoof langs die vuur sit, eers daar aangekom. Doodmaak had nie ´n datum of ´n tyd nie, maar die eerste ding wat hy gedoen het as hy homself op die es langs die stoof sitgemaak het, was om vir my ma te sê: "Chris, maak daar vir my ´n koppie koffie jong. Behandel Jan jou nog goed?" In daardie vraag was daar ware omgee, sodat ek gedink het dat hy sou ingryp as Ma sou sê dat Pa haar nie na wense behandel nie. Dan het hy my op sy skoot getel om die gebeure van die jaar wat hy weg was vir my te vertel. Dit was altyd die ritueel.

Hy het ook, sover ek kan onthou, nooit vir my pa of ma baas of mies gesê nie. Dit was Jan en Chris, al was hy die gehawende swartman wat kom werksoek het. Ek kan ook nie onthou dat my pa of ma ooit daarteen aanstoot geneem het nie. Hulle het hom ook sonder uitsondering in hul huis ontvang soos ´n vriend waarmee hulle lank nie kontak gehad het nie, selfs al was dit in die middel vyftigs tot sestigs, toe daar so sterk op onderdanigheid en baasskap gelet is. Ek was ook nooit bang om op ou Doodmaak se skoot te sit en elke woord in te neem nie, ten spyte van sy naam en al was sy vertellings soms ´n bietjie bo my taalvaardigheid.

Eers as hy my oor die jaar se swerwing op hoogte gebring het, het hy vir my pa gevra; "Ou Jan, en wat gaan aan met die politiek jong?"

Dit was dan ook die teken dat ek nou maar my ry kan kry en sorg dat ek bed opsoek of loop speel, want ek gaan hiervan niks verstaan nie. Ek dink dis omdat hy so ´n vrye gees was wat hy, sy naam ten spyt, niemand kwaad sou doen nie.

Dikwels is hy in die kombuis, by die vuur, slaapplek aangebied. Hy het dit nooit aanvaar nie. Sy verskoning was dat hy vry moet voel, en dan sou hy in die koudste winternag buite in die veld vir hom ´n oornag plekkie loop soek. Soms was sy jas hard geryp in die oggend, want Doodmaak het nie ´n kombers met hom saam gedra nie. Selfs ´n seil om hom teen die koue te beskerm, het hy as so beklemmend beskou, dat hy dit van die hand gewys het.

Met die opknap van die draadheining oor die damwal het hy een witgerypte oggend ´n bietjie te veel uit sy Anosterbos-vuurtjie wou haal. Die gevolg was dat sy Josefskleed vlam gevat het. Gelukkig vir hom was hy bo-op die damwal en aan die wegkant het die gras welig gegroei. Toe ons sien, rol Doodmaak soos ´n smeulende boomstomp teen die wal af, met rook en stoom wat meeding om hom te verswelg. Sy gesig en hande had ´n paar merke waar die ryphard gras hom gekarnuffel het. Sy vlammende jas het ´n pad deur die ryp op die gras gebrand waar hy gerol het. Toe soek hy nog lap om sy jas weer na sy gewese glorie te herstel.

Om-en-by my negende jaar het Doodmaak sy verskyning met ´n gevolg gemaak. Dit was die enigste keer wat hy nie alleen was nie. Daar was ´n rooi-bruin hond van twyfelagtige herkoms in sy spoor. Doodmaak het hom Rooi-Rex genoem. Rooi-Rex was ongeveer drie na vier jaar oud. Wanneer hy langs die jakkalshonde se hokke verby geloop het, het hy nie eers na hulle gekyk as hulle met hom raas en aangaan asof hulle hom koggel nie.

Stadigaan het hy deel van die werf geword. Na ´n week was Rooi-Rex tuis. Toe Pa die aand slag, word die skaap se binnegoed vir die honde eenkant gegooi, en die hok word oopgemaak. Rooi-rex had ´n voorsprong sodat hy reeds wydsbeen oor die binnegoed staan toe die ander honde daar aankom.

Honde het mos ´n hirargie, en die leier staan nie sy pos sommer aan enige lieplapper af nie. Dis dan seker daarom wat die jaghonde se leier vir Rooi-Rex gaan staan en sê: "Staan eenkant toe laat ons kan vreet, jou baster". Rooi-Rex het bly staan en ek kon sien dat die rusie na handuitruk loop. Maar ek het bly kyk, want daar was vyf jakkalshonde en Rooi-Rex het bly staan asof hy hulle almal uitdaag.

Toe die jakkalshond wat laaste op die rangorde staan, sy posisie probeer verbeter, is die gort gaar. Hy was laaste op die rangorde omdat hy niks van ettiket en maniere geweet het nie. Van diplomasie het hy ook nog nie gehoor gehad nie. Daarom dat sy domheid hom tot die fatale stap gelei het om vir Rooi-Rex te sê sy ma weet nie eers waar hy vandaan kom nie. Rooi-Rex se oë was teen die tyd soos kole vuur, en toe gaan daai dom hond nog en sê: " Jou moer".

Dit was sy laaste woorde. Rooi-Rex het hom aan die keel gehad nog voor enige van die spul kon beweeg. In volspoed gooi hy daai jakkalshond oor ´n vyf voet hoë draadheining. Eintlik wou hy hom nie gooi nie, maar die kontak was so hard en vinnig dat sy slagtande deur die ander een se nek geskeur het. Hy was klaarpraat.

Die orige vier besluit toe om hulle man te probeer staan. Maar Rooi-Rex vlieg onder hulle in soos ´n warrelwind. Dis toe dat ek agterkom daar het al leliker woorde geval wanneer hy by hulle hok verbyloop. Na ´n paar minute kies daai span jakkalshonde die hasepad. Hulle was al met ´n luiperd slaags, maar hierdie Rooi gevaarte het hulle heeltemal onderskat.

Nou was Rooi-Rex natuurlik leier van die trop. Eers toe hy klaar aan daai binnegoed gevreet het, het die ander weer skoorvoetend nader gestaan en mooi sy toestemming gevra voor hulle aan die oorskiet begin vreet het. So het hy ook self besluit om daar op die plaas te bly toe Doodmaak sy stukwerk voltooi het en weer sy swerftogte voortsit.

Rooi-Rex het Martiens, die veldman, se gunsteling hond geword. Een môre is Martiens vroeg terug uit die veld. En Martiens tjank asof hy nie getroos wil word nie. En Rooi-Rex is nie saam terug uit die veld nie. Martiens is so gebroke dat hy eers daai agtermiddag begin vertel. Ook eers nadat Ma hom ´n klomp suikerwater ingejaag het. Hy wou glad nie eet nie.

"Rooi-Rex het vroeg-oggend ´n rooikatspoor gevat. Die kat is met hulle die kloof af en weer uit tot op die vlak." (Hier moet ek verduidelik dat dit in daardie deel is waar die skepper die stof en modder van sy hande geskud het nadat hy die aarde net voor middernag die sesde dag klaar gemaak het.) "Die kat is met die honde oor die vlak, anderkant weer af, deur die water, terug oor die vlak en die kat het self nie meer geweet waar hy is nie toe Rooi-Rex hom aan die agterbeen gryp, net voor hy spring. Die krans is daar vir sowat twee-honderd voet loodreg, daar net anderkant Aapdraai. Dan is dit banke vir so ´n honderd voet voor die krans weer loodreg val vir nog honderd-en-vyftig voet. Toe ek by die plek kom waar die kat met Rooi-Rex oor die kant is, was ek net betyds om te sien hoe hulle oor die laaste lip van die krans verdwyn. En Rooi-Rex het teen daai tyd sy vat vervat sodat hy die kat al aan die keel gehad het. Toe ek met die paadjie saam onder kom, toe lê hulle daar. Nek gebreek. Morsdood."

Martiens had kla vertel. Hy het vir Pa gesê: "Ek vat môre af".
Die volgende dag het Martiens ´n graaf gevat en is in die kloof af om sy hond te loop begraaf.

Doodmaak het ek nie weer gesien nie. Eers drie jaar later het ons die nuus gekry dat hy deur skollies aangepak en met messe doodgesteek is. Al wat vermis was toe die polisie sy lyk kry, was sy skoene en sy Josefskleed.

skrywer: Izak Ferreira

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Nou kan iemand vir my sê watse soort hond was Rooi-Rex? Hy moes tog van een of ander ras wees?

Lewer kommentaar

Leave a Reply