"Sienaaa!! Sienaaaa!!"Oom Hansie raak skoon aamborstig van kwaadgeit as hy vir die soveelste keer nie antwoord kry nie. Die Oom is vandag haastig op pad, maar hy kan nie sonder sy hoed ry nie. Die ou hoedjie is al meer salpeter as hoed, maar Oom Hansie het erg sentimente aan die hoed. Hy het destyds mos die hoed gekoop by ´n Afrikaanse Jood wat sy negosie so van dorp tot dorp gesmous het, en dit nogal in die depressiejare.
"Sienaa !!"
Oom Hansie glimlag as hy met heimweë dink aan die storie van die hoed se koop. Menigte mense dink dat hy die hoed gedurende die Groot Depressie gekoop het, iewers in die dertigerjare (´n chronologiese onmoontlikheid as ´n mens mooi daaroor dink), ´n indruk wat Oom Hansie doelbewus daar laat. Die waarheid is dat Oom Hansie die hoed in Noupoort gekoop het toe hy eenmaal in die begin van die Hippie-era daar by ´n verlangse neef van hom gekuier het. Die storie van die depressiejare spruit voort uit ´n lang droogte wat Oom Hansie beleef het op die opsitfront. Daardie dae was maar swaar en die Oom was nie homself nie – destyds was daar nie iets soos depressie nie. Drank wel.
"Sienaaaa !!!"
In ieder geval, reg voor die ou Poskantoor in Noupoort het hy die Jood se trokkie sien staan en gaan ondersoek instel. Hy het dadelik sin gehad in die hoed, maar eers belangstelling in ´n mondfluitjie geveins. Die Jood was te gretig om die mondfluitjie te verkoop en was bereid om diep en innig oor die saak te onderhandel, veral omdat hy nog voor donker moes aanstaltes maak Cradock se kant toe. Na ´n warm sarsie van aanbiedinge en teenaanbiedinge, het Oom Hansie die mondfluitjie neergesit en die hoed opgetel: "Jy sal seker die heelal en nog wat vra vir hierdie belaglike hoed ook!" het hy uitgeroep. Die Jood, altyd bereid om sy bona fides ten toon te stel, het geantwoord dat die hoed te koop is vir twee sent, maar dat ingevoerde goed soos mondfluitjies altyd duurder sal kos. Hy het natuurlik eers besef hy het sy mond verbygepraat toe Oom Hansie twee sent in sy hand stop, die hoed windgat-skeef op sy kop sit, en met ´n hinkstappie wegstap.
"Sienaaaaaaaaa !!!!"
Die hoed het daardie aand by die dans heelwat belangstelling uitgelok, en die Oom kon kort voor lank beloftes van opsit uit Susannatjie Kriel wurg. Sy was nie te onskaflik van aansien nie en haar ou vader het, in alle billikheid, heeltemal te veel negatiewe bemarkingswaarde aan haar een skeel ogie geheg.
Oom Hansie se ogies skitter van pure vreugdevolle nostalgie. "Hehehehe! Kwits, as daai ou skeel ogie eers toe was, kon sy korrel soos ´n skerpskutter, en dis nou natuurlik met die gevryery saam. Hehehe" griinik Oom Hansie vir Vlekkie wat met die kop skeef, een oor op en een oor af die grinnikende oubaas van hom dophou, sy bek effe oop, asof hy op enige stadium soos Bieljam van ouds se donkie, wyshede kan begin spreek.
"Ewenwel ou Vlekkie, tyd vlieg en gedane sake het geen keer nie, laat ons maar ry, hoed ofte not" sê Oom Hansie en begin aanstryk na die ou Peugeot bakkie onder die peerboom. Die hoed staan natuurlik op die bakkie se dak, presies waar die Oom hom gisteraand neergesit het om sy rugbykouse op te trek.
"Hygent hert der jagt ontkomen! Kyk net hoe het die tiptolle die hoed staan en beskyt!"
Vlekkie het egter reeds lankal skuilte agterop die bakkie gesoek, buite onmiddelike bereik van alles behalwe die Oom se tong. Nadat Oom Hansie die ergste blertse met ´n stokkie afgekrap het, trek hy oudergewoonte in ´n stofwolk weg, ´n man op ´n missie.
Oom Hansie stop met ´n mate van swier voor die hotel en wag dat die stofwolk wat hom soos ´n skadu agtervolg, verby die bakkie waai voor hy uitklim. Hy skuif die hoed reg, trek rugbykouse op, steek kakiehemp in en stap fier deur die swaaideure. Vlekkie sluip met hangskouertjies agterna, min verwagting vir die middag se gebeure, maar met matelose blymoedigheid.
"Jis jis jis allie mense" groet die Oom vriendelik vir Oom Frik wat stoksielalleen aan die nat besigheidskant van die toonbank sit. Hoe Oom Frik dit regkry, weet nugter alleen, maar met die een punt van sy Afrikanerhoringsnor kommunikeer hy ´n vars bestelling aan Kaatjie, die kroegmeisie. Hierdie gebaar is duidelik oor lange jare heen vervolmaak om op te maak vir die spraakgebrek waaraan Oom Frik so ´n bietjie later sal begin ly, altyd hierdie tyd van elke Saterdagmiddag.
"Dag Hansman, welkom hier in my kantoor, sit gerus!" bulder Oom Frik en lag dan dat sy snorpunte sirkels maak soos Hestrie Cloete se arms voor die groot sprong. "Kaatjie, sit daai teewee so bietjie harder, laat ons maar die rugby kyk."
Na die Geo-debakel beperk Oom Hansie maar sy ondersteuning vir die Bokke tot die allernodigste knope, tensy Corne Krige of Rudolf Streauli ´n verskyning maak – ´n gebeurtenis wat ´n stroom vars byvoeglike naamwoorde ontlok, gewoonlik amusant genoeg om die res van die drinkebroers aan te por tot groot hoogtes van laster.
"Ek sê nog steeds ou Hansman, die Bokke se opmars na die beker sal moeilik gestuit word!"
Selfs Vlekkie kyk verbaas na Oom Frik. Na ´n langerige stilte kry Oom Hansie dit uit: "Kwits Frik, praat ons nou van dieselfde ding? Dink jy die Bokke sal die wereldbeker kan vat?"
"Wêreldbeker? Moenie simpel wees nie Hansie, die geesbeker!"
skrywer: Bert van der Walt
