Oom Hansie doen huisbesoek

Oom Hansie sug, sit sy hoed op en begin die bakkie se sleutels soek. "Siena! Sienaaa!!!’ roep hy outomaties voordat hy onthou dis nie sy eie huis nie.

"Nee magtag, hoe ek myself in die ding laat beland het weet nugter alleen "brom die Oom terwyl hy gister se kakiebroek onder die katel uitgrou om ook daar in die sakke te vroetel. Dis hier hy oplaas ook dan die sleutels opspoor.

Oom Hansie kuier hierdie week by ´n verlangse neef in Wes-Transvaal. Karel het mos met ´n onlangse vakansie in die Krugerwildtuin loop malaria optel, en Oom Hansie het goedgunstiglik ingewillig om Karel se loodgietersbesigheid te help aan die gang hou tot tyd en wyl die man weer op die been is.

Karel se vrou, tant Elizabeth, het Oom Hansie een kyk gegee en hom en Vlekkie onmiddelik in die "gastewoonstel" laat intrek. Dit was heel duidelik dat sy nie kans sien vir Vlekkie in haar onberispelike huis nie, wat nog van Oom Hansie met sy hoed en rugbykouse. Hoewel sy sekerlik ´n paar jaar ouer as Oom Hansie is, het sy hom terstond berispe toe hy haar as tant Elizabeth aanspreek.

"Kwits, die ou draak is natuurlik maar sensitief oor die feit dat sy ´n tien jaar voorsprong op ou Karel het, hehehehe" grinnik Oom Hansie in Vlekkie se algemene rigting. Vlekkie staar Oom Hansie oudergewoonte aan met ´n skewe koppie, een oor op, die ander af. Aan die een kant is Oom Hansie maar verlig oor die buitekamer – hy kon dadelik sien dat hy en hierdie vrou nie ´n duet sal kan sing nie. Sy lyk hoeka soos een van daai mense wat in ´n woestyn grootgeword het – sulke dun droë lippies op die bokkomgesig.

"Hehehe ou Vlekkie, Karel is self ook nie ´n oil painting nie, veral nie met daardie uitpeuloë en rooi neus nie. Hehehehe."

John, Karel se handlanger, het kom rapporteer dat daar alweer een of ander probleem met die weduwee Alberts se wasbak is, en dat Oom Hansie sal moet uitry daardie kant toe. Volgens John ontferm Karel hom maar altyd self oor die weduwee, en die wasbak het ´n lang geskiedenis. Hy wat John is, gaan in elk geval nou tjaila.

"Hansman," kreun Karel "die arme weduvrou se wasbak lol maar van tyd tot tyd, maar jy hoef net bietjie Jeyes Fluid saam te vat om in te gooi. Die ander tools kan jy maar laat staan, jy sal dit nie nodig kry nie. As ek nie so siek was nie, het ek sommer self gegaan."

Met ´n paar laaste vermaninge aan Vlekkie, skuif die Oom sy hoed stewig op sy kop, trek sy rugbykouse op en vat die pad. Ten spyte van Karel se versekering dat hy net bietjie Jeyes Fluid sal benodig, vat hy maar die hele gereedskapkis, net vir die wis en die onwis.

Na ´n effense gesoek in die kompleks, eindig Oom Hansie op voor die weduwee Alberts se meenthuis. Oom Hansie lui die klokkie by die veiligheidshek en is heel verbaas toe ´n aantreklike vrou in haar veertigs die deur oopmaak. Hy was voorbereid op ´n klaerige ou suurpruim, maar die weduwee Alberts is ´n lus vir die oog. Sy is eweneens uit die veld geslaan toe sy Oom Hansie sien, en hy verduidelik dat hy namens Karel kom kyk het na die wasbak. Die Oom vind dit vreemd dat die vrou so op ´n Saterdagmiddag in haar synagkabaai en blink japon is, maar geniet tog die aansig terwyl hy agter haar aanstap kombuis toe.

"Ek voel nou effens simpel," glimlag sy liefies "die wasbak lyk tog of die water nou weer mooi uitloop."

"Nee wat, mevroutjie, g´n probleem nie, ek kyk maar in elk geval" glimlag Oom Hansie alte fraai terug en stel ondersoek in. Neef Karel se voorspelling is in die kol en Oom Hansie gooi toe maar ´n bietjie van die Jeyes Fluid in elke pyp af – hy moet darem lyk asof hy weet wat hy doen.

So ´n blok of twee van die kompleks af bespeur Oom Hansie ´n kuierplek en die bakkie se neus draai amper vanself daarnatoe. Vir die rugby natuurlik. So teen rustyd kom sit so ´n jong kereltjie langs hom.

"Mirrag oom, is oom nou in oom Karel se plek?"

"Nee wat, die man is siek en ek los maar net af. Maar hoekom vra jy?"

Die mannetjie grynslag "Nee, ek vra maar. Ek bly langs die Alberts-antie en ek sien maar net altyd die plumbertrokkie daar staan so op ´n Saterdagmiddag."

Oom Hansie sit skoon regop "Jy bedoel ou Karel …"

"Einste. Hy kom altyd net voor die eindfluitjie blaas hier aan."

"Hygend hert der jagt ontkomen! G’n wonder hy karring so dat ek die tools by die huis moet los nie!"

skrywer: Bert van der Walt

Lewer kommentaar

Leave a Reply