(deur Francois Koegelenberg)

Vroegoggend staan ek op die Mini Market se stoep en suig aan my sucker. Ek staar oor die begraafplaas waar hulle al weer iemand se gat grawe.

Abie kom met sy Checkers jacket aan, maar dis die reuse verband om sy kop wat die aandag trek. Hy groet my beleefd en kyk pad op om te sien of die taxi aankom wat hom dorp en werk toe sal vat. Ek kan sien dat hy in pyn is. Sy tjommie kom aangestap met die gebruiklike slingbag oor die skouer. Hy vra bekommerd oor die stuk pienk lap met die haarspeld in.

“Naai my broe die saak staan soe. Natalie, my motjie, is mos ‘n baie biesige klein tief en djaloers da by, verstaan djy? Nou sy kyk mos altyd op my foun vir ienige missed calls, whasapp’s en soe aan. Ek verduidelik dat dit mos maar my kollegas is wat met my communicate.”

Abe trek lustig aan sy skuif en gaan aan met sy storie: “Lekka kinders my bru, jarre ek sê jou. Hulle sê mos ‘n boer maak ‘n plan maar ‘n Kallit het iene? Ek scheme toe niee man eke verander die goosies se name op my foun. Cindy van die Vlei word Main Receiving, Jessica word Maintenance, Melissa van Jamestown verander na Stock Controller en vi Talisha van die Dal maak ek Security en soe aan. Verstaan djy nou? Slim plan nu, of so het ek gedink.”

“Saterdagaand koel ons af met ‘n paar biere en ‘n paar bottels sterk. Ek en Turner voordat ons Klub Waslap toe gaan. Ewe skielik vlieg Natalie soos ‘n heks met ‘n lang nies op ‘n biesem by die kombuisdeur uit.”

“Sy het ‘n leë bottle in die hand en my foun in die ander een. Sy skrou soes ‘n ou gentoe: ‘Main Receiving wil wiet of djy gaan uitstiek vanaand? En die fokkin Stock Controller het vir jou ‘n please call me gestuur!’ En da bliksem sy my met die bottle, my bru! Ek prober verduidelik en sy los my ma.”

“Ek sit hiel bedwelmend da op die folding chair en na ‘n ruk toe reappear sy wie. Toe wiet ek daas groot kak my bru want sy het haar krieket bat in haar hand. Sy is mos die pinch hitter van Coronation se vrouespan. Sy moer my one time dat ek uitpass en ek word wakker in die Paarl hospital die volgende oggend.”

“ Jassas, ma hoekom dan?”

“Naai man djy ken vir daai Felicity kind van die Kylemore? Wel ek het haar naam verander na Perishable Supervisor. Laaste ding wat ek onthou is Natalie wat skreeu: “ Die Perishable Supervisor het nou net ‘n photo van haar tette vit djou gestuur!” Verstaan djy nou?”

“Maar die seerste is dat sy dit delete het man.”

“Dja want djy hou jou mos net daai ou!”, kom die sarkasties antwoord.

Lewer kommentaar

Leave a Reply