Hein loop swaai-swaai oor die straat. Dis koud. Hy kan nie onthou wanneer laas hy so koud gekry het nie. Tog, die brandewyn hou nogal warm van binne. Hy trap die sypaadjie aan die oorkant van die straat mis en struikel, herwin sy balans en loop amper trompop binne-in ’n lamppaal vas. Was dit nie vir die wit plakkaat wat wild deur die wind rondgeruk word maar tog nog met bietjie gom aan die paal vassit nie, het hy dit nie gesien nie en dalk sleg daarvan afgekom. Op die hoek van die straat gaan hy staan en lyk hy vir ’n oomblik soos ’n klein seuntjie wat in ’n groot skare mense weggeraak het en nou na sy ma soek. Hy draai sy kop stadig in die rigting van die kroeg wat hy pas verlaat het. “Sal ek teruggaan?” wonder hy terwyl die stortreën teen sy gesig vasslaan en die druppels oorbelle vorm op die punte van sy ore. “Miskien is sy nog daar” dink hy en draai stadig om, maar bly net so besluiteloos staan. “Miskien sal sy luister, miskien sal sy verstaan” dink hy en kyk weer die straat stadig op en af. Hy loop tot op die rand van die sypaadjie en gaan weer staan. Hy kyk op na die stortreën en sien hoe die straatlig die druppels verlig en dit die illusie skep dat dit hy is wat deur die lug beweeg deur die druppels en dat die druppels stilstaan.

Hy voel hoe hy sy balans verloor, maar voor hy weer sy oë op vaste voorwerpe kan fokus om sodoende ’n val te voorkom, trap hy onwillekeurig vorentoe en van die randsteen af. Hy val pynlik agteroor as hy sy fout te laat agterkom en oordrewe agteroor ruk om sy voor-oor val te keer. Die sypaadjie is grof, nat en vuil en hy wil opspring voor iemand hom sien en dalk aansien vir ’n boemelaar, maar die pyn in sy rug is skielik so intens dat hy niks meer kan doen as na die lamppaal kruip op sy hande en knee en met die hulp daarvan stadig orent kom nie. “Ek moet van die straat afkom” dink hy deur die netels van die pyn. “Waarheen. Nie huis toe nie. Ek kan nie. Nooit weer nie. Adelle is dalk daar.” Dink hy en begin sy rou geskuurde hande stadig aan sy broek afvee. “Sonika is dalk nog in die kroeg” dink hy, hoop hy amper. Sonika. vergeet, ontvlugting, wat is dit wat hom na haar toe aantrek? Hy wil sekerlik vergeet en ontvlug, maar net die idée van vreemde aanraking walg hom skielik so dat hy val-val omdraai en in ’n systraatjie af drentel.

Hy weet skielik nie waarheen om te loop nie, hy weet net hy moet loop. “Strand toe” dink hy en vee die nat slierte hare uit sy oë. Hy struikel effens toe hy op n lee bierbottel trap. “Vervlakste goed! Kan julle dit nie weggooi nie!” skree hy die donker in. “Barbare!”. Die trappe na die strand lê skielik oop voor hom en hy gaan versigtig sit op die boonste trap.

Sy klere hang styf teen sy lyf vasgepleister, deurdrenk van die aanhoudende reën. Hy vee ongeërg sy een oog as ’n druppel reën daarin drup. “Hoe lank nou al” wonder hy en strek sy bene uit teen die trappe af. Hy sien vir die eerste keer dat daar bloed aan sy een broekspyp is. Dit het ’n taai jellierige gevoel in teenstelling met die reën as hy daaraan raak. Hy gril liggies en vee sy vingers af aan sy baadjie. “Hoe lank loop ek al, ’n week, twee. Kan drie wees.” dink hy moeg en maak sy oë toe. Trane loop stadig teen sy wange af en raak weg as dit meng met die reën. Sy skouers ruk as hy voel hoe hy oor die lyn van terughou gaan. “Ek kan nie meer nie” prewel hy sag en snuif hard. “Hoe kon sy? Ek het haar lief gehad!” Hy raak stil en probeer hard om nie meer te dink nie.

Hy maak stadig sy oë oop en tuur uit oor die wilde golwe voor hom, staan op en begin met die trap afloop tot by die strand. Hy gaan sit op die die strandmuurtjie en begin sy duur leer skoene uittrek. Stadig. Sy nat kouse druk hy versigtig tot diep binne in die skoene terug na hy dit in klein bondeltjies gefrommel het. Hy sit die skoene netjies neer teen mekaar op die muurtjie soos iemand wat sy skoene onder sy bed sal wegbêre vir die nag. Dan staan hy op en draai na die strand toe. Die sand is koud onder sy voete as hy stadig begin stap tot waar die water opstoot.

Adelle. Hoe lank het dit gebeur? Hoe kon hy so blind wees? Hoekom sy? Die vrae maal deur sy kop as hy langs die strand afstap en sy tone in die yskoue water sit. ’n Klein brandertjie kom van nêrens en sommer dwars uit die swart water en breek om sy bene. Die koue steek soos naalde en hy voel hoe sy knieë verstyf uit protes. Is daar nog iets oor om na terug te draai dink hy en tel n stukkie wit skulp op wat sy oog in die donker gevang het. Waarheen gaan ’n mens as jy niks meer oorhet nie? As alles wat jy wil hê nie meer te kry is nie? As die lewe jou verneuk het.

Die hele sepie speel hom vir die duisendste maal af in sy kop. Hy wat vroeër as wat hy moes huis toe was daardie Dinsdag middag so lank gelede. Dit voel soos honderd jaar terug. Nee, twee honderd. Die vreemde stilte wat hy aangevoel het toe hy die huis binnestap. Eers gedink dis omdat die bediende nie Dinsdae skoonmaak nie dat dit so stil is, maar toe hoor hy die gelag in die boonste kamer. Hy het stadig die trap op geloop en toe verstom gaan staan toe hy die manstem hoor. Inbrekers? Sy pistool was in die kar se paneelkissie! As hy toe moes omdraai sou hulle hoor as hy die deur weer oopmaak, dalk sou hy te laat wees of dalk vang hulle hom onkant! Maar die gedagte het net so vinnig uit sy kop geskiet as wat dit daar gekom het in die eerste plek, toe hy Adelle ook hoor lag. Verligting het oor hom gespoel soos die koue water nou oor sy voete spoel. Dis was Adelle se broer van die Kaap wat kom kuier het, het hy besluit en die trap verder geklim.

Hy draai skerp links en stap stadig die water in. “Dis so koud!” dink hy amper onbewustelik. Die vergruisde skulpe onder sy sagte voete is so skerp soos glas, maar hy is daarvan salig onbewus. Hy voel verhewe, soos in ’n droom. Net dat dit nie ’n droom is nie maar ´n nagmerrie waarvan hy nie kan ontsnap nie.

Voor die half oop kamerdeur het hy weer gaan staan toe die manstem praat. Hy het vir ’n skielike oomblik gewonder of Riaan dan siek is dat hy so diep stem het, maar dadelik geweet hy probeer homself troos. Koue sweet het skielik op sy hele lyf uitgeslaan en sy knieë het lam gevoel, asof hy baie ver gehardloop het. Die stem het weer gekom, en Adelle het geantwoord, gelag en weer iets gesê.

Die water steek soos ’n duisend naalde en hy snak na asem as hy van ’n onderwater rots aftrap en tot by sy nek in die water in ’n gat val. Die baadjie se sakke is swaar van die water en hy sukkel om dit af te kry en weer ’n teug asem te skep tussen die aanhoudende aanslag van die water.

Hy het in die gang voor die kamer bly staan asof sy voete in sement vasgevang was. Dit kon nie waar wees nie. Nie sy Adelle nie. Nooit nie. Nooit. Sy was lief vir hom, regtig. Sy moes wees! Maar die gedagte was afgesny soos ’n naelstring waaraan sy hoop vas was toe die manstem verander.

Hy sluk swaar aan die soutwater wat nou by sy mond, neus en ore instroom. Hy probeer hoes, maar met elke asem trek hy net meer water en sout in. Dit walg hom en hy wil opbring, maar kan nie.

Hoe kon sy? Hy voel hoe die spiere pynlik saamtrek in sy bene en arms. “Dis nou nie meer lank nie” dink hy bedwelmend. Amper daar. Skielik klap ’n golf hom weer deur die gesig en hy voel hoe die geweld daarvan hom agtertoe ruk. Hy het sy bene herwin en die deur ru oopgestamp. Hy was voorbereid vir hom. Een lae gespuis wat die lewe soos hy dit geken het in ’n ommesientjie verander het. Hy wou hom wurg en die lewe uit hom sien gaan. Met haar sou hy later afreken.

As hy voel hoe die water hom vir die laaste keer ruk en maal, sien hy weer die kamer voor hom, hoor hy nog weer een laaste keer vir Adelle uitbundig lag, en sien hy weer die verbaasde uitdrukking op die drie nakende mans se gesigte.

skrywer: Deon C Venter

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar