Ek het al baie gevlieg. Van Stellenbosh na Johannesburg en terug gedurende my studentejare om vir ma en pa te gaan hello sê. Toe na London vir twee jaar om vir myself te bewys ek is nou ‘n groot mens. Daarna Amerika, Egipte, Frankryk en Switserland toe. Elke land is ‘n nuwe avontuur. Ek kan my lyf hou soos wat ek wil; ‘n sorglose student in die besige New York; ‘n beroemde persoon wat net kom mode klere koop in die glansryke winkels van Parys of ‘n skrywer wat ‘n eeue ou raaisel najaag in die tempels van Egipte … Tog kon geen vliegtuig verder, oor groter berge en dieper klowe vlieg as die twee ure SAL vlug van Johannesburg na Kaapstad op hierdie dowwe dag nie. Geen besige lughawe, nuwe taal of ou gebou het my al ooit so vreemd laat voel nie. Al lyk Tafelberg nog dieselfde en die lug ruik nog steeds na see en sand, en al ry my ma en pa dieselfde kar, voel alles anders. Ek is nie meer die toeris wat net graag by die Waterfront wil gaan ontbyt eet, of op die bootjie na Robeneiland toe wil vaar maar dit nooit doen nie of op ‘n warm nuwejaarsdag ure wag in die verkeer vir ‘n besige strand nie … nee, dit is nou alles myne.
Ek moet nou toelaat dat dit deel van my lyf raak. Ek moet aanvaar dat daar van nou af altyd sand op die kar se voetmatjies sal wees reg deur die jaar en dat die wind nie net in Augustus waai nie en dat karre, selfone en laptops nie meer so belangrik is nie. Dit is nou my nuwe huis.
By my nuwe vreemde huis, wag my vreemde suster en haar Amerikaanse rooikop rabadoe kind, vertel ma. Haar woorde voel ver terwyl ek fokus op die leë plastieksakkies wat waai tussen die sinkplaathuisies en sandduine. Is dit hoe ek geword het? Soos daardie plastieksakkie het ek toegelaat dat mense my wegblaas totdat ek net wou wegkruip daar in my kamer elke dag? Wanneer het ek so leeg geraak hier binne dat net my dop nou oorbly?
“Sy het nou waarlik groot geword! Ester sê sy is al amper so lank soos sy.” roep haar opgewonde woorde my terug. Ten midde van die huil, skreeu, breek en bars hoor ek haar weer moed skep. Daar is mos niks wat my ma so kan troos soos haar klein kinders nie. Ek kan dit sien in haar lyf. Rondom die klein kinders is sy vry van haar eie kinders se verwyte en vry van bekommernisse oor haar kind met haar swart hare en donker oë. Vry van my.
My vreemde suster. Op die laaste foto’s was haar jas tot teen haar ore opgestoot en haar neus rooi van die vars Oktober briesie in die land van ver. Maar haar diep seegroen oë het steeds kolle op my rekenaarskerm ingebrand. Dit is soos die ‘black hole’ in die ruimte, ‘n magneet, met duisende sterre in die middel.
“Magriet? Grietjie? Sit bietjie jou I-Pod af en kom groet my suster” roep Ester na haar rabadoe rooikop kind. Ek kyk verwonderd na haar nou tiener dogter, dieselfde baba wat ek nog vasgehou het in die ou familiehuis.
“Ons gaan ‘n kamer deel!”, lig Magriet my in terwyl sy haar kougom sorgloos uitrek met haar vingers. Na ‘n stukkie melktert en tee bedaar ons almal ‘n bietjie, steeds oorstelped om mekaar te sien na soveel jare. Die vaak bedek my soos wolke oor my lyf terwyl ek regskuif op my nuwe vreemde bed. My maag staan nou al behoorlik uit wanneer ek lê op my rug. Gisteraand het ek nog in my blou kamer in die hospitaal gehuil saam met die reën op die sink dak. Maar die verpleegster met haar groot stywe maag weet en verstaan … die baba kan die huil hoor en voel. Hier binne in my maag huil hy saam. Vannaand gaan ek nie huil nie. My trane is op vir nou.
Opstaan is amper erger as gaan slaap. Soos die afgelope paar dae in die hospitaal vergeet ek dat ek nie meer in ons huis is nie. Ek sal nooit weer die trappe afstap in die oggend om vir ons koffie te maak nie. Ons het nou een letter te veel. Dis nou net ek, twee letters vir my en baba.
“Hoekom lyk jy so misrable?” vra Magriet. Ek kyk verbaas op na my nuwe vreemde kamermaat. Hoe sou sy dit raaksien? Ek probeer glimlag.
“Is jy oraait?”, vra sy weer. Die kind ken my dan skaars.
“Ja, alles reg. Natuurlik. Sal ons bietjie winkel toe gaan vandag?”
Winkels. Besig. Mense. Denkloos. Dis beter. Soos wat ek dit verkies. Magriet neem die voortou. Ek laat myself lei deur ‘n 11-jarige kind. Haar fokus het nou geskuif van klere na juwele nadat ons die blink horlosie in die eerste juwelier se venster gesien het. Haar lyfie beweeg angstig tussen deur die mense, opgewonde om daardie ideale blink stukkie juweel te koop wat haar onweerstaanbaar mooi sal maak. Ons gaan weer terug na die tweede, derde en vierde winkel, doen prysvergelykings en bespreek verskillende kleure steentjies, hola-hoop oorbelle en friendship charms. Ek voel verlig. Sy besluit uiteindelik op die beste koopie.
Terwyl ek wag vir haar gryp ek ‘n paar diamante oorbelle van die rak. In die spieël hou ek dit langs my ore. My maag loer vir my van onder my tank top. Ek hang die oorbelle terug want binne my weet ek iets verseker: dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Vir hierdie duim suigende klein lyfie hier binne my sal ek voor sorg, vashou en liefhê. Net ek en baba. Hierdie taak is aan my voorgelê.
In die besige gange haal sy dit uit die waspapier. Die hangertjies wys ‘n gebreekte hartjie. Die een hangertjie word gedra deur die een maaitjie en die ander dra die ander maaitjie. Saam pas dit mooi in mekaar. Soos ‘n legkaart.
“Kies watter een jy wil hê.” Haar sproete dans oor haar neus en wange.
“Magriet, dis vir jou en jou maaitjies van jou skool.”
“Maar jy is mos my maaitjie.” Die gebreekte hartjie hang mooi tussen my vol melk borste.
Ek het nou weer ‘n maaitjie. Dit voel asof iets binne my beweeg. Ek het een item weer terug gesit in my plastieksakkie.
Die beste gedeelte van ‘n kamermaat is die laataand gesels. Magriet lig my in van haar ongelooflike oulike hond, stupid stadige ou kat, dom juffrouens en groot gebreekte houtswaai in die agterplaas. Ons lag oor die skaam ou wat van haar hou in die klas en proe amper die kaasdrade van haar geliefste pizza in die land van ver.
Ek onthou nog hoe ons aan die begin tot laat in die bed gelê en lag en praat terwyl ons hande vasgehou het. Ek het my kop op jou bors gerus en na jou hart klopgeluister, my hare wat jou kielie in jou nek. Ons het saam gesing, in duet, ‘n liedjie vir elke letter in die alfabet, ons harte gevul met opgewondenheid, ons koppe met drome.
“Hoekom is julle nie meer saam nie?” vra sy toe die ligte af is.
Ek voel hoe my keel saamtrek. Ek vryf aan die merkie langs my oog. Was dit omdat ek so lelik met hom gepraat het? Is dit regtig wie hy is en sal hy dit weer doen aan iemand anders? Is dit dalk omdat ek nog altyd depresief was? Of is dit omdat hy altyd so ernstig was? Is dit omdat ek te veel gepraat het of is dit omdat hy opgehou gepraat het met my? Hoe probeer ek ‘n prentjie te skilder van ‘n palet vol grys verf?
“Somtyds werk dinge net nie uit tussen twee mense nie”
“Mis jy hom?”
Die knop in my keel wil nie weg nie. Sluk.
“Ja, natuurlik” Sluk.
“Jy sal eendag ‘n wonderlike mamma wees. En met ‘n baie nice man trou.”
Die lewe gaan aan. Ek sal okay wees. Ek sit nog ‘n item terug in my plastieksakkie.
Ons kamer raak deurmekaar. My tasse is nog half oopgemaak op die vloer. Magriet voel aangespoor om daarop antwoording te doen. Ester lag net.
“Ek het nie besef jy is net so erg soos Magriet nie! Ons sê altyd sy los broodkrummels in die huis. Orals waar sy gaan los sy ‘n skoene, speelgoed, koppies en papiertjies.”
“Ons maak ‘n goeie span”
‘n Desember vakansie is maar net die dieselfde sonder ‘n rooi sonbrand merk op my rug nie. Die vakansiehuis ruik na muf. Vensters word oopgeskuif, beddens word opgemaak, kos word uitgepak en die braai word afgestof. Ek en Magriet deel ‘n kamer.
By die kafee koop ons roomys, koeksisters, melktert en biskuit vir my suster en haar familie van die ver land. Pa maak vuur en Ma maak braaibroodjies, pap en mielies. Ons speel kaart en ek ontdek op oujaarsaand dat alkoholiese vonkelwyn lekker kan smaak.
By die boekwinkel verkyk Magriet haar aan die juwele en speelgoed terwyl ek wonder of iemand ooit die jaar oue tydskrifte koop wat op die R1 uitverkoping is. Ons neurie saam op Enrique Iglesias se liedjie – “Love To See You Cry”. Is dit hoe jy gevoel het?
In die hoek van my oog sien ek ‘n mandjie sagte speel-speel diertjies. Daar is ‘n laaste apie oor. Die fluweelhaartjies van die materiaal vou liefkoostig om my vingers. Perfek vir ‘n pasgebore baba. En die prys is reg. Ek het nog kleingeld oor van ma wat sy opsetlik vergeet het om terug te vat. Baba se eerste persent. ‘n Apie vir my kleine apie. Dis asof ek al kan voel hoe baba dit gaan vashou.
Apie kry ‘n ere sitplek op my kussing. Dit voel asof ek vir baba ‘n duisend drukkies hier binne my maag wil gee en vir hom oor en oor wil fluister hoe lief ek vir hom is. Ek gaan vir hom sorg. Ek voel in beheer en tevrede.
Maar dit is van korte duur. Apie beland in die arms van my broer se avontuurlistige besige twee jaar oue seuntjie. Wat nou? Sal ek vir Apie gryp uit ‘n twee jaar oue kind se arms wat, dalk moontlik, Apie kan laat val in die sand hoop hier voor die huis? Ek kyk benoud toe hoe Apie weggeneem word na die kar in sy huilende arms vir ‘n laatmiddag rit na die kafee. Weg van my af. Wat as Apie nie terugkom nie? Watter tipe ma sal ek wees as ek nie eens vir baba ‘n troosding kan koop nie? Gaan my kind altyd moet tevrede wees met ander mense se persente of tweedehandse speelgoed? Gaan ek nooit iets vir hom kan koop nie? Nie eens ‘n goedkoop apie van ‘n boekwinkel nie?
Magriet betrap my voor die huis waar en verdwaald wag vir die kar om terug te kom. Ek wil net seker wees Apie is nog reg, heel en skoon. Baba moet die beste kry. Selfs my sonbril kan nie meer die trane wegsteek nie.
“Ek gaan stap”. Ek wil net weg. Weg. Weg.
By die see probeer ek geïntreseerd kyk na die skulpies. Ek bring dit naby aan my ore, maar die golfies binne die skulpie spoel niks weg nie. Ek is hartseer en kwaad. Selfs die groot see lyk nie meer mooi nie. Ek voel hoe die skulpies en sand gerts-gerts onder my skoene oppad terug. Ek voel lus om hulle almal stukkend te trap.
By die parkeerarea sien ek tot my grootste verbasing vir pa voor in die kar met sy plooi gesig, ou lyf en sagte hart, soos ‘n hond wat ‘n mens net wil vryf want jy weet hy sal nooit kan byt nie. En Magriet sit op die agterste sitplek. Ek klim in. Dit voel asof ‘n TV-skerm my ingesluk het want sulke dinge gebeur net in die flieks. Sy haal die geld uit haar sak wat Ester vir haar gegee het om vakansie mee te hou. Magriet byt op haar onderlip en haar oë lyk rooi, asof sy gehuil het.
“Ek het gedink ons moet vir jou ‘n ander apie gaan koop”
Daar is meer as een definisie van ons. My plastieksakkie is amper vol.
Op die lughawe groet ons mekaar haastig. Ek koop vir Magriet ‘n tiener tydskrif met ‘n meisie voorop wat lyk soos Kylie Minogue in die 80’s en ‘n inkleurboek. Ek merk op dat die eerste prentjie die van Grietjie is in die woud met broodkrummeltjies in die paadjie. “Ek dink Magrietjie se broodkrummels het my weer terug gebring na my huis.”
My suster met die sterre in haar oë lag ondeuns. “Ek weet.”
skrywer: Amanda Harmse
