Geheim van die towerboom

In Drienie se agterplaas, in die hoek van die tuin staan ‘n yslike Eikehoutboom. Dit was hul erfstuk toe hulle hier ingetrek het. Sommige van die bure sê die boom is byna ‘n eeu oud en dat dit towerkragte besit. Vir ‘n tyd lank ignoreer Drienie die boom, te bang hy word getoor! Op ‘n dag skraap hy al sy moed bymekaar en besluit om nader ondersoek in te stel. Drienie loop stadig na die boom. Vanwaar hy staan lyk die boom maar doodgewoon. ‘n Paar keer loop hy om die boom, maar gewaar niks snaaks nie. Hy voel aan die growwe bas en klop daaraan met sy vingers, draai sy kop skuins om te luister. ‘n Klein deurtjie verskyn skielik in die boom se stam! Drienie skrik sò groot, hy val agteroor dat hy hik, maar hy staan weer vinnig op. Die deurtjie swaai oop toe hy aan die knop raak. Hy staan versigtig nader en steek sy kop in. Dis effens donker binne, lyk na ‘n tonnel of gang wat na iewers lei. Drienie loop voetjie vir voetjie en voel-voel teen die mure met sy hande. Die mure voel grof. Hy gewaar ‘n dowwe lig toe hy ‘n entjie in is. Dis koud en klam in die gang. Hy hoor geluide, maar kan nie uitmaak wat dit is nie. Die geluide word al hoe harder, hoe nader hy gaan.
Drienie merk skielik boomtakke by die opening-hy het die einde van die gang bereik! Hy beur vorentoe. Die takke is dig inmekaar gegroei en hy moet van die takke afbreek. Die takke krap sy gesig en arms. Hy beweeg aan tot hy by ‘n oop stuk tuin kom. Die tuin is versier met die allermooiste blomme in reënboogkleure. Aan die boomtakke hang die sappigste vrugte en in die middel van die tuin staan ‘n klein waterput. ‘n Paadjie loop verby ‘n miniatuur fonteintjie wat in die hoek staan. In die ander hoek staan ‘n lamppaal met ‘n houtbankie waar jy jou voete kan rus. Drienie gewaar ‘n skaduwee agter die bome.
“Wie’s daar! Ek’s nie bang nie! Kom uit wie jy ookal is!” roep hy kamtig dapper.
Sy hart klop in sy keel. Die skaduwee kom al nader. ‘n Klein, pers figuurtjie, so groot soos Drienie kom te voorskyn. Hy het ‘n menselyf met ‘n lang, punt stert en groot uitpeul oë. Hy het net vier vingers aan elke hand. Sy voete lyk soos hande. Skerp, gepunte tande loer by sy mond uit.

“Wie is jy?” vra die mannetjie.
Die mannetjie lyk darem nie kwaai nie. “Ek is Drienie. Wat is jou naam?”
“Ek weet nie. Is jy van menseland?” vra die mannetjie.
“Jy kan so sê, maar in ons land woon daar ook diere.”
Drienie bekyk die mannetjie en vra. “Hoekom dra jy nie klere nie?” Drienie wys die mannetjie sy klere.
“Ons dra nie sulke goed hier nie, by ons is dit altyd warm.”
“Hoekom bly jy in onse boom?” vra Drienie weer.

“Ons woon al vir ba-a-i-e jare hier. Jy is die tweede mensekind wat weet. Die boom beskerm ons. Hy laat net mensekinders in waarvan hy hou. Dink net, as menseland van ons moet uitvind sal hulle ons almal vang.”
“Nou wat het van die eerste seuntjie geword?” vra Drienie.
Voordat die mannetjie kon antwoord verskyn daar skielik nog een.
“Is dit hy?” vra die tweede mannetjie. Die eerste mannetjie knik. “Hy weet seker dat enigiemand wat van ons weet nie weer mag terugkeer na menseland nie!” “Nee, julle kan dit nie doen nie! Wat van Mamma en Pappa en skool!”

Drienie begin hardloop deur die bosse en bome, maar hy kry nie die opening by die boom nie. Die twee mannetjies sit hom agterna.
“Wag Drienie, moenie weghardloop nie, ek wil jou maatjie wees!” skree die eerste mannetjie.
Sy bene voel soos jellie en alles word skielik swart voor hom. Drienie skrik wakker in sy Pa se arms.
Pappa glimlag vir hom. “Dankie tog jy is veilig. Mamma was bekommerd oor jou. Gelukkig het sy jou sien boom toe stap. Jy moes uit die boom geval het.”
Pappa dra hom op sy arms toe hulle wegstap. Drienie loer oor sy pa se skouer. Hy sien eers ‘n lang, pers stert met ‘n skerp punt agter die boom uitsteek, toe kyk twee uitpeul oë vas in sy gesig. Drienie knyp sy oë styf toe en vou sy arms stywer om sy pa se nek.
“Toemaar my seun, jy is mos nou veilig.”
Drienie wonder wat van die ander seuntjie geword het. Sy pers lyfie glip by die boom se opening in. Die deurtjie verdwyn so vinnig soos dit verskyn het.

skrywer: Bronwyn Meyer

Lewer kommentaar

Leave a Reply