Christiaan Barnard het die wetenskaplike denke onderskryf dat die hart net ‘n pomp is wat bloed in die liggaam pomp en dat die pomp van ‘n ander mens se liggaam soos ‘n tweedehandse motoronderdeel, net met ‘n bietjie groter omsigtigheid gehanteer word, want dit is per slot van sake ‘n mens met wie jy werk. Hierdie hartspier het ‘n manier om die ware jy na vore te bring of jy nou in die bed lê en of jy aan die genesende kant staan. Het die beroemde dokter ‘n psigologiese vergissing begaan? Watter emosie kan uit ‘n blote pomp na vore kom? En tog teen ons eie beterwete hou ons daarmee vol om die hart as die sentrum van die lewe te beskou! Dit is so dat die tradisie ons hart laat definieer met die somtotaal van ons emosies, daarom al is Dr Barnard fisies reg, is hy psigies verkeerd. Daarom kan ons nog praat van die hart as setel van ons bestaan: My hart is seer. My hart is bly. Dit dui iets van ‘n setel van ‘n mens se lewenservaring aan. Vir ander, wat nie weet hoe jy in hart en niere oor ‘n saak voel nie, is dit nodig dat jy jou hart moet oopmaak. Om oor hartsake te praat is nie moeilik nie, want waarvan die hart vol is, loop die mond oor. As jou hart nie bloei as jy jou vriend sy hart oopmaak voor jou nie, het jy beslis ‘n hart van klip. Laat ons dan nie harteloos wees nie, maar mekaar se belange op die hart dra.
Oom Tooi van Eeden was een van die eerstes in Heidelberg wat vir ‘n kroonaaromlyding van sy hart gegaan het na die mediese Mekka in Kaapstad. Oom Tooi was toe ‘n afgetrede boer. Alhoewel hy goeie verhoudinge met die arbeiders op die plaas gehad en hy nooit ‘n vlieg skade sou aandoen nie, het hy geglo dat elke mens sy plekkie onder die son moet hê, maar dit hoef nie juis ‘n deurmekaar spul te wees nie.
Die operasie was toe nog nuut soos ‘n speelding vroeg op Kersoggend. Hoe het tye nie verander nie. Vandag is jy “uit” as jy nie aan hierdie klub behoort nie. Lidmaatskap word verwerf deur ‘n stent (‘n apparaatjie wat jou are oophou) of twee maar die groot kanonne het beslis minder as vyf omleidings met lang snitte op hul bene om te wys dat jou eie are elders nog goed genoeg was! Die “proefkonyne” het nog elkeen ‘n brosjure met al die voordele en vooruitsigte na die operasie ontvang. Daar was natuurlik ook die kleinskrif, maar daarvoor moes jy regtig ‘n mikroskoop nodig gehad het!
Ek was toevallig die derde dag na die operasie in die Kaap en het besluit om oom Tooi te gaan opsoek. In die hospitaal was ek verras deur wat ek ervaar het. Die trappies na die wêreldberoemde baanbrekersaal was genoeg om my fiksheid deeglik te beproef en die saal? Wel dit was nou ‘n openbaring, wat my hartseer gemaak het. Die waakeenheid was ‘n ou afgeleefde saal met ‘n dienseiland in die middel tussen die beddens. Verder was dit net een deurmekaarspul van beddens, monitors, dreineringspype en binneaarsepype. Dit is darem baie jammer dat daar nie geld was vir navorsing en die behandeling van siekes nie. Met deesdae se mediese fondse is daar nog steeds nie geld vir behandeling en navorsing nie want die edele roeping het ook weer ‘n beroep geword.
Ek het my, volgens goeie gewoonte, by die saalsuster aangemeld met die versoek om by oom Tooi te bedien. Hierdie dame was wat ons sal noem, ‘n Kaapse dame. Saalsuster?!! Toe dink ek vir ‘n oomblik aan die staaltjie van Pres Nelson Mandela toe hy na sy ballingskap in ‘n vliegtuig gevlieg waarvan die kaptein ook ‘n swartman was. Hoe hy hom moes bedwing om nie bang te word bloot net omdat ‘n swartman die vliegtuig beheer nie.
Terug by die suster. Sy het ‘n goeie standaard Afrikaans met my gepraat, maar toe sy agter ‘n groen gordyn verdwyn, om net te kyk of alles reg sou wees vir my besoek. Haar woorde teenoor die waardige oom Tooi was in hoë mediese terme: “Hier djy, oupatjie, djy het djou weer nat ge-“pee” ne'”.Gelukkig het oom Tooi meer bloed na sy hart gekry en kon hy die Kaapse dame waardeer vir haar spontaneïteit. Op die keper beskou: wie se hart wat in sy keel klop, voel nie gou te na gekom nie.
Ek moet self bely dat na ‘n operasie waar ek deur die narkosenewel wakker geword het en die verplegingspersoneel gesukkel het om my te laat diep asemhaal, was my antwoord: “Suster, staan so ‘n bietjie stil ek wil vir julle ‘n gebed doen.” Niemand kan sê dat my hart nie in my werk was nie.
Hierdie Kaapse harte het ook ‘n nuk van hulself. Daar word vertel dat dit ‘n Kaapse man se hart was wat oorgeplant is en alles het boverwagting goed gegaan, met die ontvanger natuurlik. Maar daar was iets wat die medici van heide en verre nie kon verklaar nie. Hartkloppings. Hierdie hartkloppings het so gereeld gekom asof dit bestel is. Waarom?
Op ‘n dag was daar ‘n jong Kaapse student wat by die bed staan toe die hartklopings weer begin het, so asof dit bestel is vir daardie tyd. Na ‘n hele klomp deurtastende ondersoeke is bevind dat die hartklopings smiddae en veral Vrydagmiddae so 4 nm hul opwagting maak. Daar is bevind dat die skenker se hart dan op loop gegaan het: Kantien toe, Kantien toe! Na so ‘n bietjie “Zonnies” of “Oom Tassies” was die hart weer rustig en tevrede. Ja, dit is blykbaar in die mediese geskrifte opgeteken as ‘n resep om iemand se hart al te laat lekker klop!
skrywer: Emile de Villiers
