Koeksuster Divas – Vroue op die rand van veertig

Die Koeksuster Divas – Vroue op die rand van veertig is ´n titel wat baie aandag trek. Die nuwe toneelstuk uit die pen van Carin van Vuuren het sy debuut op vanjaar se Volksblad-kunstefees gemaak.

Die woord divas dui nie op die tradisionele betekenis van ´n vrou met ´n groot wonderskone stem nie. In dié geval is dit eerder net dat dié vroue hulself as koeke, dus koeksusters, beskou, maar dat hulle die divas, die koninginne van koeksusters is, want hulle doen hul ding op hul manier, hulle kry hul eie stemme.

Die toneelstuk het ontstaan toe Welma de Beer, een van die spelers in die stuk, Van Vuuren genader het om vir haar ´n toneelstuk aan te beveel vir twee of drie vroue, want Amunda Weeber, nog een van die spelers, het gesê sy wil voor sy veertig is weer op die verhoog wees. Van Vuuren het terselfdertyd ´n oproep van die skoukomitee gekry met die versoek dat sy by ´n Afrikaanse aand op die skou moet sing.

"Ek het omtrent van my stoel afgeval en die dametjies verseker dat sy die verkeerde Carin gebel het. Later was ek heel spyt dat ek nie die kans aangegryp het nie, want ek dink saam met my vriendinne kon ons maklik iets soos die Grafsteensangers saamgestel het. Ek het egter begin dink wat sou gebeur indien ons so ´n mal perd opgesaal het en so het die stuk in my kop begin gebeur."

Van Vuuren sê inspirasie vir Die koeksuster divas kom grootliks van die Succulent Wild Women-klub af. Dit is ´n groep vroue, almal so om die ouderdom van veertig, wat een keer ´n maand saamkuier.

"Die stories is vir my die grootste deel van die kuiery se aantrekkingskrag. Dit is skreeusnaaks en hier is nie een wat nie bereid is om ´n storie ten koste van hulself te vertel nie. Een ding wat my altyd bybly na so ´n geleentheid is dat al die vroue, ten spyte van die gewone klappe wat die lewe maar uitdeel of terugslae wat almal beleef, vreugde uit die lewe put, daardie joie de vivre waarvan die Franse praat."

"Ons kom almal uit dieselfde era van indoktrinasie op alle gebiede. Ons is voorgeskryf oor alles en nog wat, van hoe lank jou naels mag wees, hoe jy jou hare kan dra tot watter politieke stelsel ons moet steun. Suid-Afrika was geïsoleerd en veral plattelandse meisies is baie "beskermd" grootgemaak, maar onderwerp aan ´n stelsel wat slegs vrese aangewakker het. Jy is grootgemaak om skuldig te voel oor alles wat nie aan die norme van die dag voldoen het nie. Ons beroepskeuses was beperk tot dié van onderwyseres, verpleegster of boekhouer en as jy nie kon bekostig om universiteit toe te gaan nie, was jou lot om in die dorp agter te bly, ´n sekretaresse te word en hopelik met ´n suksesvolle boer te trou."

"Van die stories en insidente wat die Koeksusters vertel, kom van dié groep vroue. Dit is egter aangedik of verdraai. Ek het ook ge-eksperimenteer en sekere insidente aan ´n heel ander ‘tipe’ vrou toegeskryf. Ek wou die stereotipes bietjie op hul rug draai."

Van Vuuren, De Beer en Weeber het almal hul grade in drama aan die UV behaal. Weeber het die onderwyspad gevolg en haar doktorsgraad in opvoedkunde behaal en gee klas by die UV-kampus in Welkom. De Beer, wat haar eie drama-ateljee het, het in verskeie stukke vir PACOFS gespeel en ook in haar eie kabarette soos Mia, Summer Knights en The other side of Eve by die Grahamstadse Kunstefees opgetree, waarvan Van Vuuren die regie behartig het. Van Vuuren het vir vyf jaar by PACOFS gewerk, daarna was sy hoof van die Nasionale Toneelbiblioteek en tans werk sy vryskut as publisiteitskonsultant in die vermaaklikheidsbedryf.

"Afgesien van die senuwees, is ons baie opgewonde oor die stuk. Hoewel dit snaaks is, het dit iets te sê. Dit is ´n kykie op die private gesprekke wat vroue het. Die stuk is bedoel vir ´n volwasse gehoor, maar ek dink dat jong meisies ook baie kan baat by die stuk. Dit sal hulle ´n kykie gee in hul ma’s se lewens. Dit sal nie net vir hulle laat besef uit watter era en agtergrond hul ouers kom nie, maar ook die skille van hul oë laat val oor hul ma´s se behoeftes, frustasies en drome."

Lewer kommentaar

Leave a Reply