Jannie Moolman – een van Suid-Afrika se voorste uitvoertenore en Karen Meiring – sopraan van Cutt Glas en Who Stole the Orchestra-faam, is saam te sien in Klassieke Pêlle – ´n musiekproduksie wat by die Aardklop Nasionale Kunstefees gepremiére het.
Klassieke Pêlle is ´n kabareterige, klassiekerige musiekproduksie met arias en duette uit operas, operettes en ander musiekoperasies. In die teks – geskryf deur Janice Honeyman – word die draak gesteek met die verhouding tussen sopraan en tenoor, wat heel dikwels nie skroom om mekaar die stryd aan te sê tussen hoë, lang en lae note nie.
Janine Neethling is verantwoordelik vir die musikale regie en haar flinke vingers is ook die orkes. Janice Honeyman is ook die regisseur.
Jannie Moolman en Karen Meiring ken mekaar sedert die laat jare tagtig, toe Karen ´n permanente lid en Jannie (toe ´n student by Kovsies) ´n ad hoc lid van die Sukovs Operageselskap was. Vir Jannie beteken Klassieke Pêlle ´n ligter aanslag op waarmee hy die beste deel van sy brood en botter verdien, terwyl Karen weer uitsien na die geleentheid om haar klassieke tegniek af te stof.
As professionele sanger sluit Jannie se mees onlangse optredes gala-konserte in Oostenryk en China, asook Verdi de Requiem, La Boheme en La Traviata op eie bodem in. As lid van Cutt Glas en Who Stole the Orchestra – wat pas vir ´n FNB Vita benoem is – het Karen vanjaar al in die Verenigde Koninkryk, Botswana en Zimbabwe gedraai. In Oktober vanjaar gaan Cutt Glas saam met die Afrika Mamas vir ´n reeks optredes na China.
