1975

Twee van Suid-Afrika se mees gevierde aktrises, Jana Cilliers en Antoinette Kellermann, is eersdaags saam in die HB Thom Teater in Stellenbosch te sien in die produksie 1975. Diè stuk, ook met Floyed de Vaal, is geskryf deur Saartjie Botha en onder regie van Marthinus Basson. Tydens die pas-afgelope Aardklop Kunstefees in Potchefstroom het dit vol sale getrek.

75 was die jaar voor televisie, voor die Soweto onluste, die tentatiewe begin van die bos-oorlog. Elvis het nog geleef, Maria Callas ook. Goeie tye, sover onthou kan word. Lank genoeg gelede om te kan vergeet, wat vergeet moet word. In 2003 kyk ´n jong generasie terug oor 28 jaar, en stuit op onbegrip en verstomming oor denk- en leefwyses. Ontmasker oortuiging wat wankel na soveel jare, waarhede wat vervaag in subjektiwiteit, verontskuldiging en die meedoënlose najaag van eie belang.

1975 poog geensins om ´n nugter blik op omgang met die verlede te plaas nie. Die perspektief is genuanseerd nostalgies, soms krities en soms nie. Daar is ´n soeke na berusting en bevryding. Begrip vir wat was en wat is, slegs maar te vind in die brose menslikheid wat groter as generasiegapings is.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar