Ek lê buite in die oggendson, opgekrul op ‘n ou geel koerant. In die bure se tuin, want die gras is groener aan hierdie kant van die muur.

Die buurman het die koerant al ‘n paar weke gelede hier vergeet. Dis pure lekkerkry om op papier te slaap. Dit maak ‘n kraakgeluid elke keer wanneer ek onwillekeurig strek of gaap. Ook hou dit my waaksaam, want ‘n kat weet nooit .

Ek is maar bra versigtig vir die buurman. Daar is mense wie fluister dat hy altyd op soek is na groener weivelde waar hy katte in die donker knyp. My welbedeelde boudjies ril sommer as ek net daaraan dink. Hy gee blykbaar ook nie juis om watter kat hy bydam nie. Sê glo snags is alle katte grou.

Sy vrou kom selde buite. Ek sien haar eintlik net wanneer sy wasgoed kom ophang. Dan krul ek my sonwarm lyf om haar bene, sodat sy my met haar vriendelike vingers onder my ken kan kielie. Ek hou van haar liefdevolle hande, maar haar gesig is strak en haar oë is hartseer.

Wanneer my mens-sussies van die skool kom, gaan slaap ek op hulle skoolboeke. Hulle maak al hulle boeke op die bed oop, sodat ons ma dink hulle doen huiswerk. Eintlik skryf hulle kattebelletjies, klein onbeduidende briefies, wat hulle die volgende dag in die klaskamer kan rondstuur. Dit pla my nie. Ek bekommer my oor niks. Ek kry kos en ek het ‘n dak oor my kop. Ek werk my nie katswink nie. Ek stres nie. Mense sê ‘n kat het nege lewens, maar bekommernis maak die kat dood.

Wanneer die son begin sak, doen ek my laaste rondtes. Ek sit vir ‘n tydjie op die agterste tuinmuur, sodat ek die bure se groot, swart hond kan vermaak. Hy spring rasend teen die muur op. Dis elke aand se storie vir die laaste vyf jaar. Siestog, hy weet tot vanaand toe nog nie dat honde nie mure kan uitklim nie. Soos elke aand skreeu-blaf hy histeries, totdat sy geïrriteerde baas hom roep en “kats” in my rigting blaas. Hy weet na al die jare nog nie dat my naam Bella is nie. Tog kan ek nie help om te wens dat ek in hulle grasgroen tuin kan baljaar nie.

Dis dan dat ek haar gewaar. Die buurvrou, alleen in die skemer tuin. Trane rol uit haar opgeswelde oë, lê vir ‘n sekonde in die donker holtes onder haar oë en stroom dan oor haar gesig. Instinktief draf ek na haar en vryf my, nou afgekoelde lyf, teen haar been. My lang stert staan vanself kersregop. Haar vriendelike vingers kielie my onder my ken. My ken vryf teen haar hartseer hande.

Haar man is natuurlik nie in sig nie. Die nag is op hande en die buurman van ons soek mos groener weivelde waar hy die katte in die donker knyp. Ek beter huiswaarts keer, daar waar die ligte nog brand. Ek voel jammer vir die buurvrou, maar ek weier om te stres. Stres maak katte dood.

Sorgvry keer ek terug om te gaan slaap. Die deure en vensters is al toe, so ek klim deur die kattegat in die kombuisdeur. Nou moet ek eers die kat uit die boom kyk om te sien waar ek die lekkerste gaan slaap. My ma en pa is uit en as die kat weg is, is die muise baas. Die kinders hardloop soos besetenes in die huis rond en die musiek is oorverdowend. Ek besluit om maar vir eers in die deurmekaar laai, vol papier en sakkies, te lê. Ek moet kattekwaad vermy, dit veroorsaak net stres.

Ek moes baie diep geslaap het, want dit begin al lig word wanneer die foon my skril wakker lui. Ontsteld vertel my ma dat die buurvrou in die nag oorlede is. “‘n Hartaanval, seker omdat die arme vrou so gestres het oor haar man se gekattemaai,” sê sy hartseer. “Hy was maar altyd op soek na groener weivelde.” Ek weet die buurvrou was baie lief vir katte. Sy kon dit seker nie meer hanteer het dat haar man die katte so in die donker knyp nie. Sommer enige kat. Alle katte.

Ek voel te ontsteld om ontbyt te eet. Ek verlang na haar vriendelike vingers. Maar nou lê en dink ek mos. Hulle het dit verkeerd. Stres maak nie die kat dood nie, maar die mens?

Watter ontnugtering! Dit beteken egter nie ek gaan nou maar begin stres nie. Al maak stres nie ‘n kat dood nie, maak dit jou oud en mislik. Ek weet mos hoe lyk my kat vriendin Mia, hier bo in die straat, van al die bekommernis en stres oor haar ramkat man wat so met die ander wyfie katte lol.

Ek lig my moeё lyf om in die oggendson te gaan lê. In die bure se tuin, want die gras is groener aan die anderkant van die muur.

Sluit aan by die Gesprek

5 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply