Lekkers bly lekkers soos lekker lekker bly

Lekkergoed maak nog altyd ‘n mens se hart week en jou tande sleg! Vir ‘n kind is die belofte van ‘n lekker meer effektief is as die belofte van ‘n pakslae as hy nie tydens die hele erediends doodstil sit nie. ‘n Lekker oefen ‘n magiese invloed op ons uit – dit is nou maar wors! Waarom? “Lekker het nog altyd lekker gebly”. Ander dag kan ons onsself weer verlustig in die gebak wat uit die kombuis kom. Ek wil jou nooi om jou saam met my te verplaas na – toe lekkers nog lekkers was. Of dit nou gaan oor winkellekkers of dit uit die skool se snoepie was of uit Peter’s se kafee in Rondebosch of uit die groot winkels in die Kaap gekom het – wat dit alles in gemeen gehad het, was dat dit vreeslik lekker was, begeerlik, maar dat jou geldjies nooit genoeg was, om die volle potensiaal te ontsluit van alles wat beskikbaar is en te ver-kies nie. Tot vandag as ek ‘n lekker sien, versuiker daar twee vrae in my gemoed : Ken ek dit? En : … wonder, hoe dit sal smaak? En natuurlik ‘n versugting sonder om soos ‘n bedelaar by die robot te lyk. Net ‘n opsigtilike versugting “Ek is ook hier!” straal deur my oë, my liggaamshouding en my hele wese. ‘n Verhoogde speekselvloei word onopsigtelik na my maag, in die hoopvolle verwagting van ‘n gratifikasie, afgekeer! Nou is al die sisteme gepriem …

Vanmelewe se mense was ook baie vindingryk. Daar was dan ook die lekkerkardoesie – ‘n papiertrompetjie waarin die lekkers, as dit nodig was as gevolg van swetende, klam handjies of die tekstuur van die lekker, bv. ‘n toffie wat nie weerstand het teen my liggaamshitte nie, smelt. Wat ‘n taai gemors word dan nie aangemaak nie. Daarom is die vindingryke houer soms sommer met gister se Cape Argus voor jou oë gerol met ‘n skerp kant, wat omgebuig is en so die onderste deel so dig gemaak as moontlik. Aan die breë kant wat na bo gehou word, kan die flappie jou kosbare skat se kluis word.

Ek is die jare van Daan desimaal en die republiekwording skool toe. Ons het toe nog gepraat van ‘n tiekie. Van pennies en sjielings. Sente was ‘n vreemde begrip. Dit moes eers omgeskakel word om die waarde te besef. Maar die sentestorie het gou geland en ons waardesisteem gedra. Terug na ‘n tiekie. Dit was wat my ma my gegee het om per bus skool toe en terug te ry. Een pennie vir op skool toe en nog ‘n pennie vir terug huis toe ry in groot karamelkleurige busse, van Peter’s na die skool en retoer. En die halfpennie wat die tiekie volmaak? Dit was nie verniet so dat die bushalte waar ek moes op in die oggend en weer af huis toe al die tyd reg langs of reg oor Peter’s was! Was dit ‘n versoeking of ‘n bestiering? Ek weet nie so mooi nie – maar dit was lekker om nou my nikkerbôl geldjie te hê, óf een groot bruine met sjokolade om óf twee swartes wat jou tande verkleur het! Maar ta het toe mos ontdek dat as jy die bus verpas of jy ‘n draffie insit skool toe, jy veel meer by Peter’s kan “belê”. Hierdie ontdekking was vir my netso ‘n belangrike ontdekking soos vuur vir die grotmense!

Daar was toe ‘n kleiner verskeidenheid lekkers as tans, maar dit het nie die avontuur gedemp nie. Wilson-toffies was nou vir jou toffies, maar moes later, seker van weë die aantal stopsels wat dit uitgetrek het met ‘n sagter en ‘n “tandartsonvriendelike”, sagter weergawe vervang word. Daar was dan ook ‘n cola en “botterskots” weergawes.

In dieselfde klas as die Wilson-toffies, was die Star. ‘n Helder pienk lekker wat toegedraai was in ‘n wit botterpapiertjie wat met ‘n groen ster bedruk is. Hierdie lekkers benodig mondspasie en kakebeenkrag (vir die laerskoolkinders) om verwerk te word – wat ‘n etery in die klas geheel en al uitsluit want die lekker kan nie ingesluk word as jy gevang word deur ‘n onderwyseres nie.

Waar die Star jou mond en tong rooi nalaat, is die rolletjies drop se invloed weer in die swart rigting. Hierdie lekker het ek altyd my verbeel dat dit my kousel pruimtwak is. Dit sou seker toegeskryf kan word aan die vreemde, skerp anyssmaak en die hap en skeur van die gegroefde lint!

As kind het ek beslis die ou-(Groot)menslekkers ook geniet. Snaaks dat die gewilde geskenk in daardie tye ‘n dosie Cadbury’s was met sy geheimsinnig, toegedraaide lekkertjies of Turkish Delight. Hierdie ligroos en wit lekkertjies het my betower en in die gedagtes weggevoer na die rykdom en weelde van ‘n Turkse sultan – waar ek ook graag so wou gewees het.

Dan is daar “die grafsteen” lekkertjies of beter gesê die liefdelekkertjies. Ek wonder hoeveel kyse met die nimlike tussengang van hierdie lekkertjies of begin of beëindig is. Met ‘n hart wat in jou keel klop as ‘n vertroulike draer (om jou eie eer te beskerm want ten diepste is jou risiko om so ‘n verhouding op die regte voet te begin, nie van die beste nie) met die lekkertjie in haar rigting beweeg. As jy nie dadelik ‘n oogknip gekry het nie en sy ‘n bietjie styl gehad het, het jy die volgende dag jou grafsteentjie ontvang met die woorde: “Nee dankie!”, daarop uitgegrafeer. So ‘n lekker is dadelik opgekou sodat niemand meer van jou verleentheid moet weet nie. As die antwoord “Ja ” was, het die lekker sommer in ‘n kort tydjie verkleur soos wat dit sy verskyning maak vanuit die geswete handpalm waar dit veilig bewaar is.

Lekkers het ook ongelukkig die slegte gewoontes van die ouers laat eggo. Gold Dollar was een van die swak namaaksels van sy nikotien gevormde ouboet. So behaaglik gesuig as wat pa gesuig het en so die roetine kon inoefen vir later in ons lewens.

Suursuiker en soet suurklontjies was ook welkom om die soetigheid in bedwang te hou. Soms het ons self ook probeer ons eie suursuiker te maak uit ‘n vermenging van sierssuiker en Eno’s. Die moeilikheid was altyd daar wanneer pa of ma die Eno’s nodig gehad het en dit reeds met die siersuiker tot lekkerny verhef is.

Ek onthou hoe die dames by die flieks tydens pouses op strategiese plekke gaan staan het met ‘n houtkassie tot boordens toe vol met beskikbare lekkers. Eers as al die mense hul lekkers kom koop het, het die dames verdwyn en is die film hervat. So is in Calvinia by die hoërskool ‘n stuk draad amper elke nou en dan afgetrap (ongelooflik dat skaapboere se kinders drade kon aftrap!) om die by die aandag van die handlanger van Tierbergmelkery te kry voor die klok gelui word wat die einde van die pouse aankondig. Nodeloos om te sê dat die buiteverkope ‘n klein goudmyn was- die skade aan die draad ten spyt.

Daar was nog baie ander lekkers: Sunrise toffies, appelkosies en natuurlik nog die bokdrolletjies … Oor laasgenoemde word vertel, het ‘n stedeling summier geweier om plaas toe te gaan want hy het gehoor dat hulle bokdrolletjies ingepak het as lekkergoed. “Ek wil nie plaas toe gaan nie want ek eet nie die bokke se goed nie en verder vertel hulle my dat ons die honde se water sal moet drink.” Bokdrolle en brakwater is eie aan die Noordweste. Droë bokdrolle, sou hy dalk ontdek smaak net soos die goedkoopste twak en is vry, maar lekkers is dit nie!

bydrae: Emile de Villiers

(Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar