Dit is Mevrou se nuwe bynaam, nadat ek en die dogter Australia gekyk het.
Nie dat Miesies Boss baasspelerig is nie. Niemand sal dit sê nie. Veral nie iemand wat weet dat sy dalk daarvan te hore kan kom nie.
As mens wel iets sleg van Miesies Boss móét sê dan is dit haar onnatuurlike voorliefde vir badkamermatjies wat dadelik in die gedagte kom. Miesies Boss kan nie verby ‘n groep badkamermatjies stap sonder om een huis toe te neem nie. In haar jeugdige leeftyd het sy al genoeg van hierdie matjies gehad om elke badkamer in die huis elke dag met ‘n nuwe matjie uit te rus vir 365 dae lank, twee keer op haar verjaarsdag.
Verandering is beslis nie ‘n slegte ding nie, maar te veel verandering kan vir sommige van ons traumaties wees. Neem byvoorbeeld vir Wasabi, die kat. Lank, lank gelede het Wasabi ook in die huis gebly, saam met sy sussie Sushi. Sushi was mal oor mense en het permanent teen iemand geskuur. Wasabi was nors en stuurs en het niks van mense of sy sussie gehou nie.
Sushi verdwyn toe spoorloos. Dit was of die nors oom ‘n paar huise verder, of dit was Wasabi. Ons geld was op Wasabi. Van die verdwyning af was hy die vriendelikste kat in die buurt en skielik was die mens sy beste vriend. Selfs die koms van die hond kon hom nie ontsenu nie. Na ‘n paar taai klappe en lesse oor hoe om teen mense te skuur het die hond nie meer die kat aanstoot gegee nie.
Dit was tot Miesies Boss begin bou het.
Miesies Boss hou ook van bou. Sy bou natuurlik nie self nie, sy ontwikkel net die gier van tyd tot tyd. Dan gee sy opdrag wat gebou moet word. Ons is gewoond aan soggens eers die bousand uit ons klere skud voor ons kan aantrek. Vreemdelinge dink gewoonlik die hond graaf graag, maar dit is net die fondament vir die mieises se volgende gier. Ons huis gaan waarskynlik eendag soos ‘n Gaudi-skepping lyk.
Wasabi die kat hou niks van bou nie. Die eerste paar keer het hy net ‘n paar hare verloor, maar die huidige bousessie was die laaste strooi. Wasabi woon nou permanent iewers tussen ons en die bure. Hy kom net in die huis om te eet, maar nie veel verder as ‘n vensterbank nie. Die res van die tyd sit hy buite die kombuisvenster en gil aanmerkings op Miesies Boss. Hy sorg natuurlik dat hy veilig op heining is met ‘n uitgewerkte ontsnaproete na die bure toe.
Intussen het ek opgelet Miesies Boss kry nie meer dieselfde bevrediging uit badkamermatjies nie. Die hele badkamer moet nou verander word. Jy sê onskuldig vir almal wat bel Miesies Boss is gimnasium toe. Intussen word die gimsessie kortgeknip en Miesies Boss is by die naaste winkel in met daai goue kredietkaart wat sy vinniger deur ‘n masjien kan trek as wat jy r-e-s-e-s-s-i-e kan spel.
Die badkamer wat onlangs bygedam is spog met skakerings van groen. Dit is nie net die badkamermatjie en ander geweefde bykomstighede wat groen is nie. Alles is groen. Wie sou kon dink mens kry groen oorstokkies?
Maar dit was die sjampoe wat my gevang het. Die oggend nog het ek my hare gewas met ‘n halwe bottel rooi sjampoe. Die aand het ek verwag om my hare weer met dieselfde halwe bottel te was, maar dit was skoonveld. In die plek daarvan was daar ‘n vol bottel groen sjampoe.
Dit is genoeg om enige sensitiewe siel te ontstel.
Nie dat ek ooit buite die kombuisvenster sal sit en skree soos Wasabi nie.
Ek sukkel te veel om te balanseer op die heining.
