Ek kon nie ophou om aan hom te dink nie. Dit was iets waarop ek nie heeltemal my vinger kon lê nie. Iets abstraks. Die manier wat sy mooi, sterk hande die koppie vasgehou het. Die manier wat hy in die verte gestaar het, ver weg, op ´n plek waar ek ook dalk sou wou wees. Ek het hom op daardie stadium nog net een keer gesien. Dit was al laat die aand in die Franse coffeeshop waar ek gewerk het en ek was doodmoeg. Soos ´n skim het hy by die deur ingestap. Skaduwees het deur die vertrek geritsel. My blonde hare het wild om my gesig rondgedans en my donker oë was moeg. Hy het my op ´n vreemde manier gefassineer en ek kon niks of niemand behalwe hom raaksien nie. Ek was dadelik in opstand omdat ek geweet het dat ek hom nie sal kan haat soos wat ek myself belowe het ek met alle mans sal doen nie. Partykeer wens ek, ek het omgedraai en weggestap. Weggestap en nooit weer teruggekyk nie. Maar ek weet ek probeer myself net oortuig. Toe ek in matriek alles en almal opsy geskuif het om te gaan uitvind wie en wat ek nou eintlik is, was dit juis om weg te kom van dinge wat my vasbind. Dinge wat my daarvan weerhou om rigting te kry.
Of dit fate was weet ek nie, maar ek het hom weer gesien. Dit was drie weke na ons eerste ontmoeting. Ek was kwaad omdat ek bly soek het, bly hoop het dat hy dalk die een is wat my gaan verstaan, al het alle ervarings met mense die teendeel bewys. Ek was kwaad vir alles en almal maar meestal vir myself. Kwaad omdat ek elke keer geskok was as iemand my teleurstel. Kwaad omdat ek altyd die beste van almal wou glo. Dis hoekom ek in die eerste plek moes wegkom. En hier is ek klaar besig om meegevoer te raak deur iemand van vlees en bloed.
"Koffie seblief. Filter." Sy stem was diep.
"Hoe het jy geweet ek is Afrikaans?" Ek was half uit die veld geslaan. Strassburg was klein en baie Frans. ´n Droomplekkie. ´n Kokon van stories. ´n Plek waar skaduwees dans in die nag. Die lug vars en die dag skokkend blou teen die donker geboue. Ek kon wegkom van realiteit. En Afrikaans was meteens realisties bekend.
"Dit staan op jou gesig geskryf." Sy glimlag was donker.
"En ek dog ek is onvoorspelbaar?" Dit was klaar te laat, ek wou meer hê. Ek wou die plek sien. Die plek waarna hy onbewus verdwaal het as dit stil word.
"Naam?" Om die een of ander rede was my stem bewerig.
"Juan du Preez. Jy?"
"Simone Brits." Ek het sy koffie gaan haal, sy rekening gebring en by die deur uitgewaai met die hartseer wete dat dit reeds te laat is. Die web het al hoe stywer begin span. Ek het hom begin sien in al die getinte vensters van die restaurant, in elke donkerkop man op straat, om elke hoek en draai. Om die een of ander onverklaarbare rede het ek geweet dat hy altyd by my is. ´n Onbekende skaduwee, ´n gerusstellende gees vasgeketting in my vallende voetstappe en ek kon niks doen om hom te verdryf nie. Hy was soos die wind. Snaaks genoeg het dit my nie bang gemaak nie.
Ek het in ´n buitekamer gebly. Eintlik meer ´n pophuisie. Onmiskenbaar Frans. Ek was mal daaroor. Dit was ´n huisie sonder tyd of ruimte. Perfek vir wat ek in die ver land kom doen het. As daar ´n huisie was waar ek myself sou kon vind was dit hy. Hier het my gedagtes vrye teels gehad en kon ek leef in ´n wêreld wat vir my sin gemaak het…en dit was al wat belangrik was.
Daar was ´n bos agter my huis. As feetjies en kaboutertjies bestaan het sou hule verseker daar gebly het. Goue herfsblare het die bos soos ´n kleed omvou. Na rustelose nagte was die bos my enigte toevlugsoord. Daar het ek gaan sit tussen die krakende blare en kon ek weer asemhaal. Ek het so baie daar gaan sit om aan hom te dink en daaroor het ek myself net meer gehaat. Ek was veronderstel om myself te vind, nie verder te verloor nie.
Die vier mure van my huis het my vasgedruk en ek is soos gewoonlik bos toe. Ek het die deur agter my toegeklap en begin draf. Draf was nog ´n manier van ontsnap. Ek kon wegraak in my eie asemhaling. In die reëlmatige val van my voetstappe op die gruispad. Doef, doef. Doef, doef. Ek kon deel word daarvan en dit het my op ´n eienaardige manier verlos. My bos. Ek het laggend geduik in die krakende blare. Soos ´n kind.
Hy het daar gesit op ´n bankie. Heeltemal in sy eie wêreld. Hy het ´n donderbruin jas aangehad. Sy hare was windverwaaid, sy oë donker en groot van die skadu’s in die bos. Sy dag-oue baard het swart stippeltjies rondom sy gesig geverf. In sy een hand was ´n bottel rooiwyn en met sy ander een het hy ´n potlood vasgehou. Hy was besig om met intense erns iets te teken in die sketsboek op sy skoot. Hy het weggeraak in dit wat hy teken. Ek ken van wegraak. Ek was woedend. "Wat de hel doen jy hier?" Hy het versteurd opgekyk. "O haai. Ek teken, jy?"
"Dis my bos.ek kom altyd hierheen."
"Dis nie jou bos nie. Dis niemand se bos nie." Hy het sonder ´n verdere woord weer begin teken. Ek het na hom toe geloop en die sketsboek by hom gegryp. "Loop. Jy het my lewe net kom deurmekaar krap!" Ek het geskrik vir myself. Hy ook.
"Wat is jou probleem?" Sy stem was sag en geïrreteerd.
"Jy..loop asseblief." Hy het opgestaan en weggestap. Maar dit het my nie laat beter voel nie. In teendeel.
Ek het afgekyk na die sketsboek in my hand en my asem skerp ingetrek. Dit was ek. Ek, laggend tussen ´n hoop herfsblare. Hoe lank sou hy al weet van my besoeke aan die bos?
Ek het nogsteeds bos toe gekom en hy ook. Ek het in my hoop herfsblare gelê en staar vir die bosgoggas en hy het op die bankie gesit en teken. Dit het vir dae so aangehou todat ek eendag half in ´n dwaal sy stem langs my gehoor het.
"Waaraan dink jy?"
"Wat?"
"Waaraan dink jy?" Sy stem het my teruggeruk na die werklikheid. Meteens was ek weer bewus van waar ek myself bevind het. Ek was minder opstandig as voorheen en ek weet nie hoekom nie maar ek het hom eerlik geantwoord. "Ek wonder net of daar iemand is wat my ooit gaan verstaan. My gedigte, stories, mal gedagtes. My onlogiese liefde vir mense se imperfections. Dis seker nie so belangrik nie. Dit sal net lekker wees om te weet dat daar ten minste een persoon is wat sonder woorde kan verstaan. Dis hoekom ek moes wegkom. Om myself uit te figure. Ten minste leer ek nou om alleen te wees. Vir lang tye aaneen. En dit maak my nie bang soos wat ek gedink het dit my sal maak nie." Ek is amper verwonderd. So asof ek dit eers besef het toe ek dit sê. Dis hoe ek baie dinge uitfigure. So in die sê-proses.
"Sê vir my een van jou gedigte?" Sy gesig was ´n uitnoding wat ek nie kon weerstaan nie. Miskien tog. Ek het gehuiwer maar ek het geweet ek sou moes toegee. ´n Date with destiny. Ek het nie veel van ´n keuse gehad nie. Sonder dat ek wou het ek bly geword oor die begrip in sy oë. Of dit wat gelyk het soos begrip.
Ons het mekaar al hoe meer begin sien. Ek het begin verdwaal in sy gedagtes, weggeraak in sy oë, een geword met sy woorde. En ek wou nie daaraan dink nie, want ek het geweet ek sou iets moes doen om die ketting van magnetisme te breek wat net te gevaarlik was om mee te speel… maar ek wou nie. En daarom het ek in denial bly leef. Dit was die maklikse. Sonder dat ek dit aan myself wou erken het hy die een geword. Die een waarvoor ek so lank gewag het. Die een wat my moes verstaan, na almal wat nie kon nie. Ons het ´n droomwêreld geskep onder die sterre. ´n Wêreld waarin dinge eenvoudiger en meer gekompliseerd as ooit was. ´n Wêreld waain ek nie so verdwaald gevoel het nie en ek het verslaaf geraak aan sy teenwoordigheid.
Hy soen my toe een aand onder die strerre. Dit was koud en donder. Hy het saam met my huis toe gestap na ´n laataand movie. Ons het vir ´n rukkie op die bankie in die bos gaan sit om vir oulaas te kuier. Ons het so ongelooflik baie vir mekaar omgegee. Dit was onbeplan, amper lomp. Ek het op die klam grond tussen die blare gaan lê en laggend na iets beduie. Hy het langs my kom lê en uitdrukkingsloos na my begin staar. Lank. Hy het vorentoe geleun en my begin soen. ´n Soen het nog nooit so gevoel nie. Ek sal nooit presies kan beskryf hoe ek op daardie oomblik gevoel het nie.
Die volgende dag by die werk het hy nie oudergewoonte kom inloer nie. Ek het eers niks daarvan gedink nie. Kunstenaars is so anders, onvoorspelbaar. Miskien het hy net weer meegevoer geraak met een van sy skilderye, het ek glimlaggend gedink.
Toe ek vyf dae niks van hom hoor nie het ek bekommerd begin raak. Wat as hy iets oorgekom het. Hy was bang vir niks. Soos ´n kind gedink dat hy nie kan doodgaan nie. Of miskien was hy regtig nie bang vir die dood nie. Hy het niks oorgekom nie, het ek daardie selfde middag uitgevind toe ek hom by die kafee op die hoek raakloop.
"Hey." Ek was half verleë met die liter melk en halwe brood in my hande.
"Hey" het hy afwesig geglimlag.
"Waar was jy die afgelope paar dae? Ek het jou. ek het na jou gesoek…"
"Ag sommer net ´n paar goed gehad om af te handel." Ek was teleurgesteld. "Eks laat, verskoon my…"
My pad was skielik verblind deur ´n waas van trane. Dalk was hy regtig net besig, het ek myself probeer troos. Maar ek het instinktief geweet dat dit nie waar is nie. Die weke wat daarop gevolg het, het ek hom al hoe minder gesien. As ek hom toevallig êrens raakgeloop het was hy kortaf en distant. Ek het hom verafsku maar meestal vir myself omdat ek myself, na die hoeveelste keer, toegelaat het om iemand te vertrou. Naïef, hart en siel sonder enige beskerming. Meegevoer deur dit wat ek so graag wou glo. Ek het soos ´n masjien geword, ´n robot geprogrammeer vir oorlewing. Hard en bitter het ek meganies voortgeleef. Ek het respek vir myself begin verloor omdat ek nie anders kon as om rasend te gryp na die krummels wat hy na my kant toe gegooi het nie. Die krummels tussen die drade van die hoë mure wat hy om ons gebou het. En die ergste van alles was dat ek geweet het dat hy my ongelooflik lief gehad het, net soos ek vir hom. En ek kon dit nie verstaan nie.
Die demoon in my het na ´n ruk moeg geword en ek was lusteloos. Al wat my nog ontstel het was sy onverwagse teenwoordigheid nou en dan en dit het my stukkie vir stukkie gebreek. Van voor af ontstel. Ek het hom een keer in die bos gaan soek. Instinktief bewus van sy teenwoordigheid.
"Ons moet praat."
"Waaroor?"
"Weet jy regtig nie waaroor ons moet praat nie?" Ek het my vir hom begin vervies. Ek het geweet hy hou homself net dom.
"Nee." Hy het ongemaklik die goudgeel blare op die grond langs hom begin stukkend kraak.
"Hoekom onttrek jy jouself van my? Ek dog wat tussen ons gebeur het, wat tussen ons is, is spesiaal. Jy. jy is my soulmate. Ek kan nie glo dat ons mekaar ontmoet het nie. Dis half onwerklik. Jy het soveel beloftes gemaak en ek het jou hart en siel geglo. Jy het my belowe dat ons mekaar nooit sal verloor nie. Hoekom wil jy alles weggooi? Of beteken ek dan regtig vir jou niks?" Ek was na aan trane. "Wil jy vir my sê alles wat vir my soveel beteken het, alles wat ek so getreasure het en versigtig in die kamers van my hart gebêre het, was net dit wat ek wil sien, dit wat ek wil glo. Alles net ´n verbeeldingsvlug van ´n naïewe dogterjie? Het ek jou uitgedink, net omdat ek so graag wou glo dat iemand soos jy bestaan!? Jy is so selfsugtig. Al vir wie jy omgee is jouself. As jy regtig lief was vir die sagte mens wat ek is sal jy nie my hart keer op keer breek sonder om ´n oog te knip nie. As mens werklik omgee dan is dit mos nie moontlike dat jy iemand soos gemors behandel nie.
My woorde het my gebreek en my skouers het onbeheersd begin ruk. "Droom ek nou of was alles van die begin af maar net ´n droom? Hoeveel mense wat ek ken ken ek werklik en hoeveel is net ´n verlenging van my verbeeldingsvlugte. Vir Simone, deur Simone. Mense wat ek moes skep omdat ek so nodig gehad het om iemand soos hulle te ken." Hulle sê mens sien net wat jy wil sien, maar skielik het die woorde vir my ´n werklikheid geword. So naby dat ek dit kon ruik, tussen my tong en verhemelte kon proe. My trane het soos woordlose stroompies by my gesig begin afdrup. Drup, drup, drup.
"Dis net nie die regte tyd nie. As dit destiny is." Hy het sy woorde in die wind laat waai asof dit nie werklik betekenis gehad het nie.
"Wie sê hierdie is nie ons destiny nie? Dat dit so bedoel was dat ons juis nou moet ontmoet en bymekaar moet wees nie? Dalk is hierdie juis die een kans wat God vir ons gee. Die een kans wat ons nie deur ons vingers moet laat glip nie. Dalk is jy besig om ons destiny by ons verby te laat gaan. Hoe kan jy so seker wees en ek nie? God is ook my God. Hoekom glo ek dan anders as jy?"
"Simone" Hy het sy arms om my gesit en my onbeholpe probeer troos.
"Probeer verstaan.."
"Nee, probeer jy verstaan!" ek was naby aan histerie. "Jy wat voorgee asof jy alles so bliksems goed vir jouself uitgefigure het!" Ek hom met krag van my af weggestoot, disgusted, kwaad, verneder. Ek het opgespring en weggehardloop. My pad probeer vind deur die verblinding van my trane. Hoe sal ek ooit weer kan glo?
Ek het daardie selfde middag my bedanking by die werk ingedien. My goed in twee ou tasse geprop en treinstasie toe geploeter, sukkelend met die twee lomp tasse in my arms. Ek moes ver stap. Vreemde mans wat my wou help het ek met ´n kobra-kyk afgejak. By die stasie het ek my tasse op die eerste en beste bankie neergeplak en ´n kaartjie gekoop. Ek het ´n kaartjie gekoop sonder om te weet of te vra waarheen die trein oppad is. Ek het innerlik vir myself geglimlag. Party dinge verander nooit. ´n Romantikus sal ek altyd bly.
Ses maande later is ek laatmiddag oppad huis toe van my werk af. Die skadu’s het reeds die dag begin omvou en ek was moeg en honger. Dit was spitsverkeer en die stad was ´n mallemoes van mense en dinge. Almal besig om hard te lewe. Hard te lewe in hulle goggatjie-wêrelde. So op ´n mission. Of is dit net ek wat êrens die punt gemis het? Die stadsliggies het my gefassineer. Daar was ´n harseer trek om my mond toe ek op die bankie vir die volgende trein sit en wag. Toe sien ek hom. ´n Hele ent van my af tussen ´n groot groep mense. Lopend aan die gesels. Hy het ´n swart jas aangehad wat sy breë skouers beklemtoon het met ´n dik wolserp. Ek het geweet dit is hy, al was hy ver. Verbeel ek my of het hy moeg gelyk?
Amper meganies het ek na hom toe begin aangestap. Weereens amper gehipnotiseerd deur sy teenwoordigheid.
Skielik het ek in my spore vasgesteek. Wat is ek besig om te doen? Ek het omgedraai en weggestap. ´n Glimlag het saggies om my mondhoeke gepluk. Wie weet? Miskien eendag?
skrywer: Surika van Schalkwyk
