Die huis lyk nog presies soos wat ek dit onthou, net meer verwaarloos. Ek sit lank in die kar voordat ek die moed het om die deur oop te maak. Die gras op die sypaadjie voor die huis is dor. Dit lyk of daar in maande nie iemand naby die tuin was het nie. ´n Knop kom sit onverwags in my keel. Die tuin was vir ma soos ´n kind. Met liefde en opmeetbare geduld het sy elke roos vertroetel, elke struik en elke blombedding. Die stowwerige, swart tuinhekkie kraak toe ek dit oopstoot. Die wind ruk soos ´n kwaai kind deur die takke, vol heimwee. Die wolke het saamgepak, maar lyk darem nie of dit gaan reën nie. Ek sug toe ek die fonteintjie agter in die tuin sien. Dit lyk glad nie so eksentriek soos wat ek dit kan onthou nie. Die water se tintelende vryheid kan nie meer gehoor word nie. Ek wonder hoe lank dit nie meer vloei nie? Ek onthou nog die ure wat ek langs sy troostende waters gesit en droom het. Groot, spesiale drome van eendag.
Daar heers ´n ongekende stilte wat alles vasvang, alles vries. Die andersheid maak my bang. Stadig beweeg ek by die krakende houttrappies op. Wat het my besiel om na soveel jare terug te keer? Sê nou die mense het gesien dat ek in hulle tuin rondstap? Die reuse, houtdeur gaan oop nog voordat ek heeltemal op die stoep staan. Die ou vroutjie wat die deur oopmaak is baie kort. Haar lang, wit hare is in ´n bollatjie agter haar kop vasgemaak en sy vou ´n gehekelde, grys kombersie krampagtig om haar skouers vas.
Nog voordat ek my mond kan oopmaak skuifel sy verby my en gaan sit op ´n wiegstoel in die tuin, diep in gedagte. Skommelend en met haar verkrompte handjies krampagtig op haar skoot, sit sy in haar eie wêreld, so ver weg. Plooitjies trek hartseer om haar mondhoeke. My hart gaan uit na die klein mensie. Die lewensjare het haar gebrei en klein spoortjies oor haar gesig getrap. Sy lyk so ingedagte dat ek nie die hart het om haar te steur nie. Sy lyk half bekend. Haar verkrompte vingers steek bewend ´n sigaret op. Ek draai om en stap asof gehipnotiseerd die huis in. Sy sal seker nie omgee nie..?
Die huis laat stukkies onthou in my losbars soos duisende gevriesde foto´s. Alles lyk nog soos altyd. Die meubels en gordyne is swaar en donker. Die huis ruik bedompig. Ek probeer een van die groot vensters oopskuif, maar die houtrame bly vashak. Ek hoor die geskuifel van die tannie agter my. Dis net sy wat in die spieëlbeeld bly staan.
"Ek is jammer dat ek so ingebars het. Ek wou nog vra of ek mag rondkyk maar tannie was so ingedagte, ek wou nie pla nie. Kan ek maar nog ´n rukkie rondkyk?" My stem bewe. "Ek.." sy bly aanstap. Sou sy doof wees? Ek kan nie die gedagte afskud dat ek haar ken nie. Dalk in ´n vorige lewe?
Ek sien die klein dogtertjie kruisbeen op die vloer sit. Haar kinderlike onskuld laat my glimlag. Die huis is skielik ´n ontploffing van aktiwiteit. Ons geraas laat dit lewe. Dit is asof ek die huis kan hoor asemhaal. Ek sien my ma. Dis Sondagmiddag. Sy is kwaad vir die onrus wat vasgevang is in my kindwees.
"My engel, ons almal sit al aan tafel, maak gou." Ek het vir oulaas oor ´n bank gespring. My twee vlegsels wippend oor my skouers. "Maar mamma.." Ek onthou my pa se strak gesig aan tafel. Ek het dit nooit verstaan nie. Ma se rug was regop terwyl ons eet. Maar ek was net ´n kind. So onskuldig. Wens mens kan onskuld soos stukkies hemel in die ewigheid opsluit en bêre vir eendag. Ouma het na ´n ruk teruggekom met die gebakte poeding. Ouma.
Ek loop na die sitkamer. Niks het verander nie. Ek soek hulle in die kamers. By my ma se kamer steek ek vas. Sy lê nie in die bed nie. Die kamer voel leeg. Ek soek haar afwesige glimlag tussen die kussings op haar bed. Dit voel asof sy enige oomblik by die deur gaan instap. Ek maak die klerekas oop en ruik haar sagte parfuum. "Mamma waars jy?" ek skrik vir my eie stem. Ek begin vinniger deur die huis te stap. "Waar is julle? Hoe kon julle my net so los?" Ek probeer weer onthou hoekom hulle weg is. Hulle sou nie trek nie. Die huis was hulle trots.
Ek hoor weer hoe sy in die gang afskuifel asof iets haar pla. "Wie is jy?" ek is buite myself. "Waar is hulle? Sê my net dan loop ek! Wat het jy met hulle gedoen?" die baklei dreineer uit my stem. "Jammer, ek het nie bedoel om te skree nie. Dis net."
"Sê vir jou pa sy kos is op die stoof." Ma se stem was kouer as gewoonlik.
"Hier kom hy Mamma, sê jy vir ." Sy het die voordeur agter haar toegeklap.
"Magriet." Pa se stem was donker. Dit het buite gereën. Erens het nog ´n deur geklap. Ek onthou nog die koue. Dit was asof dit alles vasgehou het soos die raam van ´n skildery.
"Pa, ma sê die.." Hy het kamer toe geloop. "Pa.."
Ek het buite gaan speel. Tussen die lang gras en ruie bome kon ek wegraak in die stories in my kop. My perfekte wêreld. Ek het ma se kar gehoor en met ´n glimlag opgekyk. Sy het baie vinnig gery en sommer op die gras gestop. Ek het haar nog nooit so gesien nie. Haar swart hare het woes om haar gesig gedans en haar oë was wild. Sy het die kardeur agter haar toegeklap en haar hoë hakskoene het op die plaveisel geklik-klak..klik-klak.
"Herman! Hoe kon jy? Wat is haar naam die keer? Hoe kon jy dit weer aan my doen. En dit nadat ek jou al keer op keer vergewe het.. Jy het belowe nooit weer nie en ek het jou geglo. Ek moes jou al lankal gelos het. Ek haat jou! "Magriet ek is moeg vir.." Ek kon nie verder luister nie.
"Nee!" Skielik sien ek alles glashelder voor my soos daardie koue wintersdag. Ek het my ore toegedruk. Ek het die huis ingehardloop toe die eerste skoot deur die stil middag weergalm.
"Mamma nee!" Ek het bly hardloop in die waas van trane in die rigting van my ma se gille. Ek was so jonk, skaars 14.
Toe sien ek weer die afgryslike toneel. My ma het op die grond voor my gelê in ´n poel van bloed. My boetie langs haar. Hy was maar net ses. ´n Kind wat nog skaars die soet of suur van die lewe kon proe. Ek het by my ma gekniel. My kop op hare neergelê. Haar bloed was nog warm teen haar sagte vel. Ek kon nie beweeg nie.
"Mamma nee!" Ek het my pa se doelgerigte voetstappe agter my gehoor. Ek wou nie omkyk nie. Ek sou nooit nie. Skielik het ek nog ´n skoot hoor weergalm deur die groot huis. Ek het my liggaan voel ruk. Die pyn het stukkie vir stukkie deur my lyf geskeur. Ek het iets warms voel afvloei teen my rug. My vingers het die klammigheid na my gesig gebring. Alles was ´n dieprooi. ´n Onwerklike teken van my laaste lewensure. Ek onthou die klank van ´n vierde skoot wat klap en my ouma se skuifelende voetstappe. "Magriet! Wat gaan aan?"
Maar hoe is dit moontlik? Ek staan tog hier in vlees en bloed? Ek stap na haar waar sy in die slaapkamer op my ma se bed gaan sit het. Haar gesig weggesteek in my ma se gunsteling pelsjas. Toe sy opkyk is haar ogies vol verlange. Trane rol weerloos oor die ou gesiggie. "Nou het ek niks meer oor nie. Niks.."
"Ouma?" My sagte stem is pleitend. "Ouma is dit jy?" Sy hoor my nie. "Ouma dit is ek, Lisa, onthou Ouma my dan nie?" Sy het oud geword. Soveel ouer as wat ek kan onthou. Al wat nog dieselfde lyk is haar oë en haar hande. Haar lyf is soveel krommer. "Ouma?" steeds geen reaksie. Ek sit my arm om haar krom skouers. Sy ril. Anders as wat ek verwag het voel ek nie haar benerige lyf nie. Sy staan op en loop sitkamer toe. Dit is waar alles gebeur het. Sy gaan sit op een van die rolstoele en staar onsiende voor haar uit.
"As ek hulle nog net een keer kon sien." Sy kniel op die plek waar ons gelê het. Streel oor die leë houtvloer.
"Ouma?" sy skrik. "Ouma dis ek, Lisa. Vir die eerste keer kyk sy nie deur my nie. Haar oë word wasig.
"Lisa is dit jy? Ek dog jy is..? Ouma het so verlang. Al die jare het ek na julle gesoek." Ek sit my arm weer om die krom lyf. Hierdie keer voel ek die maer arms onder my ruk.
"Moenie meer alleen voel nie Ouma. Ons wag vir jou. Ek en mamma en boetie. Moenie vasklou aan aardse pyn nie. Dit is ´n splitsekonde in die ewigheid. Ek het Ouma kom haal. In die hemel is daar nie pyn nie. Dit is net ´n kwessie van tyd dan is Ouma by ons. Moenie meer hartseer wees nie.. Dis net ´n kwessie van tyd." Ek voel haar nie meer nie. "Ouma..?"
"Lisa?" Sy hoor my nie. Ek kyk vir haar toe sy opstaan en weer op die rottingstoel gaan sit. Ek sien hoe iets haar vul, soos ´n heerlike reuk stadig deur haar lyf trek en haar van binne volmaak. Vir die eerste keer is daar iets soos vrede wat uit die oumensgesiggie straal. Sy glimlag en maak haar oë toe. Alles word stil.
skrywer: Surika van Schalkwyk
