Ek het lank gesit nadat die trein eers gestop het. My voete het geweier om my swaar lyf op te tel en die treingang te volg tot die vryheid van die wêreld daar buite. Vryheid is so relatief. Miskien wou ek nie meer vry wees nie. Miskien is vry net ´n term vir alleen. En miskien kon ek nie meer alleen wees nie. "Mevrou.dis ons laaste stop? Die trein wil nie verder nie. Daar´s iets nie lekker nie." Ek het die bruin kaartjiekondakteur se simpatieke stem gehoor, maar nie opgekyk nie. "Kan ek vir mevrou help dra dat mevrou nou nie in mevrou se toestand als moet dra nie."
Ek weet hy het dit goed bedoel, maar sy woorde het hard geval op my stukkende siel. Ek het verward rond gekyk. "Dankie.my tasse is daarbo."
Die trein was doodstil toe ek in sy gange afstap. Stadig. so asof ek droom. Die bedompige lug buite die trein het verder geklou oor my swaar, nat lyf. Ek het gevoel hoe die hitte stuk-stuk van my besit neem. Die stasie was mense. Hulle het voor my oë geswem en ek hulle ontevrede hoor mompel omdat die trein nie verder kon ry nie. Vir die eerste keer het ek om my rond gekyk. ´n Boemelaar het ook op die stasie rond gestaan. Jare se harde lewe het kom sit in sy moeë lyf. Sy oë was vol terugkyk.
Hy het stadig op sy knieë gegaan en iets uit sy broeksak gehaal. Sy ou hande het sade uit die sakke gehaal. Sy hande het oop gesprei en die sade in die lug in laat skiet asof hulle lewendig word. Duiwe het vanuit nêrens kom neerdaal soos ´n grys wolk. Toe glimlag die verslete mond. Sy broosheid het my getref.
"Mevrou kan ek jou help dra of iets? Jy lyk totally verlore?" Hy was seker so 18, maar hy het gemaklik gelyk in sy grootmens-lyf.
"Ek is nie regtig. waar is ons?" My stem was moeg.
"O hel.dis erger as wat ek gedink het! Beaufort-Wes. Die trein is tydelik buite werking. So dit lyk my ons is vir eers stuck hier." Sy stem was spottend, maar daar was iets simpatieks in. "Waarheen is mevrou oppad?" Daar was ´n kitaar in sy een hand en ´n redelike klein tas in sy ander een. "Ek vra waarheen is mevrou."
"Ek weet nie. Ek ry net." Hy glimlag. "Dan lyk dit my ons het nog iets in common. Wat is mevrou se naam?"
"Leanie."
Ons het langs mekaar op ´n bankie gaan sit en die mense saam dop gehou.
Ek was nie lus vir geselskap nie, maar om die een of ander rede het sy aanhoudende stem en teenwoordigheid my nie geïrreteer nie. "Kyk daardie seuntjie. Ek het by ´n tannie gehoor hy soek al jare skatte op die eintste stasie. Jis, hoe verlang ek nie na die ongekompliseerde wêreld van ´n kind nie. daar is niks wat nie sin maak nie. Jy gooi jouself so voluit in alles in. Lewe sonder die gedagte van ´n toekoms of verlede." Ek het nie vir hom gekyk nie, maar deur na sy stem te luister, het ek geweet dat daar diep stukkies van gister in sy oë moes vasklou. "Ek hou maar aan soek. Sonder rigting oppad na ´n toekoms." Die dwalende seuntjie se klere was vuil en plek-plek geskeur. Maar hy was lief vir lewe. Dit kon enige iemand sien uit die entoesiasme waarmee hy elke hoek en draai van die ou stasie vir die soveelste keer herontdek het. Dit het my jaloers gemaak.
"Hoekom weet jy nie waarheen jy gaan nie? Jy is nog so jonk?" Ek het seker maar net probeer losbreek van my eie gedagtes.
"Jy is self nie oud nie. Wat 35? Kan ek jou nie op jou naam noem nie?" Ek het geknik.
"Ek hardloop nie eintlik weg nie. Ek is eerder net opsoek na iets beters" sy stem was sag. "As ek dit gevind het sal ek seker weet waarna ek gesoek het. Hoe ver is jy?" Hy het half na my maag beduie. Ek het gehuiwer voordat ek antwoord. "Baie ver. Dis al amper tyd. Seker nog so twee weke."
"Is dit ´n goeie ding om so ver alleen te reis as jy swanger is? Ek weet nie veel van baba´s af nie, maar is jou man nie upset as jy so ry."
"Kan jy net ophou karring!" Hy het geskrik vir die skielike aggressie in my stem.
"Jammer. Ek het nie bedoel om hoe." Ek het afgekyk. Dit was lank stil. Hulle sê dis makliker om met ´n vreemdeling te praat wat jy waarskynlik nooit weer gaan sien nie as met ´n vriend. Ek het nie geweet nie. Sal die ooit maklik wees om te praat oor iets wat jou doodmaak?
"Wat gaan jy hom noem?"
"Ek weet nie" my stem was weer emosieloos soos vroeër.
"Dit gaan seker in elk geval nie help as jy nie weet of dit ´n seuntjie of dogtertjie is nie."
"As jy wil kan ek jou help dink aan ´n naam. Ons het mos baie tyd?"
"Ek weet nie hoekom karring jy so nie. Jy ken my nie eens nie." ek was moedeloos.
"Jammer, dis seker net omdat ek nog altyd gesmag het na ´n klein boetie of sussie. Ek is mal oor kinders. Die manier waarop hulle jou moed gee. Die onskuld waarmee hulle die wêreld in die palm van hulle handjies vashou. Hulle maak my altyd gelukkig. Gee my hoop om verder te soek. Ek kan dit nie heeltemal verduidelik nie. My ma het toe nooit weer swanger geword nie. In elk geval nie met my pa se kind nie." Vir die eerste keer kon ek iets soos bitterheid in sy stem hoor. "Jy moenie so depressed lyk nie. Jy weet nie hoe gelukkig jy is nie." Hy het half kwaad na my gekyk en ek het weggekyk om weg te kom van die beskuldigende uitdrukking op sy gesig.
"Dis die vierde keer dat ek gelukkig is." My stem was skaars hoorbaar bo die aanhoudende gezoem van mensestemme.
"Wat?" Hy was nie seker of he reg gehoor het nie.
"Dis die vierde keer dat ek swanger is."
Ek het besef dat ek by omdraai verby is. "Die eerste keer toe ek swanger geword het, was dit soos ´n droom wat waar word. Almal was so gelukkig. My ma het vroeg reeds begin brei. Almal het vir my boeke gekoop, raad gegee. My een vriendin, Esna, het elke nou en dan kom koffie drink, net om weer te kom hoor hoe dit voel. Arno was so trots op my. Hy wou so graag ´n kind hê. Hy het soveel drome gehad en ek kon dit laat waar word. Hy wou die gesin hê wat hy nooit gehad het nie. ´n Naamgenoot. ´n Vrou wat by die huis sal wees as hy in die aande moeg van die werk af kom en ´n lekker bord kos voor hom neersit. Alles so perfek. Ek het hom so lief gehad dat ek dit vir hom wou gee. Selfs al haat ek die idee van huisvrou speel en aande sit en wag vir my man totdat hy eendag besluit om huis toe te kom. Maar liefde maak jou onlogies. Naderhand kom jy nie meer agter wat opofferings is en wat jy self besluit het om te doen nie."
Ek wou nie na hom kyk nie omdat ek geweet het dat ek sal wil ophou praat. "Sy wêreld het myne geword. Miskien was dit wat ek gedink het liefde in sy oë was vir my, eerder iets soos: hierdie vrou gaan my uiteindelik alles gee wat my hart begeer."
Hy het niks gesê nie. Net woordloos vir my gewag om verder te praat.
"Na die ooievaarstee. Nadat ek al genoeg klere gehad vir tien baba’s.na alles het ek eendag net onverklaarbaar ´n miskraam gehad. Eers die doodse pyn wat my skielik vasgevang het en dan die niksheid. Die siek niksheid wat jou naar maak en veroorsaak dat jy net nie meer wil aangaan nie. Jy haat alles en terselfdetyd voel jy niks. voel jy asof selfs God sy rug op jou gedraai het. Ek het ´n groot stuk van myself saam met my kind begrawe daardie eerste winter."
Ek het meer met myself gepraat as met hom.
"Arno was so telleurgesteld" Begrawe bitterheid het weer vlak in my stem gelê.
"Hy het nie eers probeer om sy teleurstelling weg te steek nie. So asof dit my skuld was. Maar hy was ´n man met ideale. So iets sou nie in die pad van sy drome staan nie." My woorde was taai van sarkasme. "Ek wou hom nie verloor nie. Al het ek omtrent nie weer kans gesien om swanger te word nie. Hierdie keer was die miskraam al na twee maande. Die teleurstelling het woorde geword en hy het my openlik verwyt. My afgekraak. My soos ´n verskoning van ´n vrou laat voel. Nou was ek totaal in sy mag. En ek het die wil om terug te veg saam met my tweede kind begrawe. Hy was omtrent nie eers ´n kind nie. Net twee maande gehad om te groei in my reeds stukkende lyf."
Vir die eerste keer het ek na hom gekyk. Hy was stil. Sy oë vol deernis, so asof hy iets van verwerping verstaan.
"Kindjie wat skreeu uit die skoot
Niks in die wêreld is groot
Stilletjies lag nou en praat
Stilte in doodloopstraat"
My woorde het weggewaai in die Karoowind.
"Ingrid Jonker, nê?" Sy stem was louwarm. "Ek is die lappop wat nie praat.maar maak net op jou liefde staat. So iets, nê? Haar gedigte het nog altyd ´n manier gehad om sitplek te kry in my siel."
"Toe het die lappop weer swanger geword met haar derde kind." Ek het woorde bly vleg soos die riempies van ´n biessiemandjie. "Ek het minder oproepe gekry. Minder mense het belang gestel in hoe ek voel. Die mense wat ek in die dorp gekry het, kon my nooit in die oë kyk nie. Hulle was seker bang hulle moes op ´n manier alles face waardeur ek is. Selfs my ma het later opgehou troos. Dit was asof sy nie meer kon nie. Ek het weer die kind verloor. Ses maande. Arno het lankal opgehou verwyt, maar op ´n manier was die stilte tussen ons erger. Hy het opgehou lief wees vir my. en ek het gedink liefde is iets wat nooit kan ophou nie.Hy het alles wat ek is geken en daarom was sy verwerping soveel erger. Ek het nie geweet mens kan so alleen wees nie. Hierdie keer was dit net ek, my ma en Esna by die begrafnis."
"Ek is so jammer. dit moes."
"Maar selfs al het hy my verwerp, het hy nog steeds baie nagte. ek was te moeg om te keer.. Ek het lankal opgehou veg. Ek het een oggend opgestaan en geweet hy is weg. Sy kas was net leeg. Alles woordloos. Daar was ´n skeibrief op die eetkamertafel. Dit het net daar gelê langs die bak lemoene en my karsleutels. Ek het niks gevoel nie. Ek was deurgevoel." Die son was minder skerp en het skadu’s begin gooi wat stuk-stuk aan die trein begin vat het. Die stasie was baie meer verlate en het al hoe meer soos ´n toneel in ´n spookdorpie begin lyk.
"Ek het siek geword .eers weke later besef dat dit meer as spanning moet wees..die aanhoudende naarheid. Ek het seker lankal geweet ek was weer swanger, maar ek het dit eers geglo na die dokter dubbel seker gemaak het. Ek het vir niemand gesê nie.dit sou in elkgeval net ´n kwessie van tyd wees.
Ek het ´n ruk lank in die huis aangebly, maar sonder hom het ek ook nie meer ´n inkomste gehad nie. Ek het maande by ´n vriendin langs die kus gaan bly, maar later het ek besef dat dit beter is dat ek ander blyplek soek. Ek is nou al weke besig om net te ry. Hy het my net gelos maar ek voel niks! Ek voel niks en ek haat. Eina!"
"Leani wat is dit!"
Ek het lomp begin gryp na die pyn. " ´n Kramp." Koue sweet het skielik oor my lyf uitgeslaan. My asemhaling het vlakker en vlakker geword.
"Toemaar.dit was seker net."
Die volgende kramp het deur my lyf geskiet. "Leanie, wat moet ek doen?!" Hy was histeries. "Iemand help!" Die krampe het al hoe vinniger op mekaar begin volg en hy het my op ´n manier gehelp om op die grond te gaan lê. ´n Middeljarige vrou wat gestaan en gesels het, het aangehardloop gekom.
"Toemaar… ek is ´n gekwalifiseerde suster. Ek weet wat wat om te doen." Sy het my op ´n swart sak laat lê op die perron. Die was te laat om êrens anders heen te gaan. My water het reeds gebreek.
Hy het my hand vasgehou en ek dink ek het dit amper vergruis. "Ek is hier by jou Leanie. Toemaar.haal net diep asem… Ek is hier by jou.." sy oë was vol trane.
Dit het gevoel soos ure later toe sy die rooi, huilende lyfie in my arms neerlê. Skielik was ek verblind deur sy engelgesiggie. Die klein seuntjie wat skatte soek op die stasie was meteens langs my… "Die babatjie is mooi…" Ek het geglimlag vir die nuwe gevoel van lewe in my en om my. "Hierdie is die grootste skat wat jy ooit sal vind. Die skat van nuwe lewe."
skrywer: Surika van Schalkwyk
