Mono-loog

Mono sit op sy agterent. Hy het in die verkeersirkel in Groenpunt wakker geword. Hierdie sirkel waar hy elke nag en soms in die dag slaap op die gras. Sonder ´n kussing of kombers. Die sirkel wat hy nou as sy huis beskou, want dit is hier waar hy die eerste keer bewus geword het van ´n begin en ´n einde.Hy is ´n organisme wat nie gebore is nie, maar toevallig gesien is. Min mense het sy bestaan herken met hulle skamele sintuie en eie kortsigtige psiges. Die uiteenloping van ´n toevallige gebeurtenis in die kosmos waarvan die waarskynlikheid so klein is om weer te gebeur dat dit waarskynlik vir die volgende paar millenia nie weer kan gebeur nie.

Die ses bane verkeer van Somersetweg en Westelike boulevard laat sy voos kop draai en hy gee ´n koorsagtige kuggie om die gasse wat laag op die grond dryf uit sy longe te kry. Die Kaapse dokter het nog nie opgesteek nie. Die son is al hoog: dit is in elk geval nie eintlik die aard van Mono Sapiens om voor tienuur in die oggend op te staan nie. Na ´n paar lang gape ruik Mono die seelug uit die Noord-Weste. Eg aan sy aard wonder hy vir ´n paar oomblikke oor die sin van die lewe, maar by gebrek aan ´n vinnige antwoord besluit hy om die gedagte te laat vaar.

Mense, in hulle beperktheid, kon nog geen beskrywing gee van waar die vreemde organisme vandaan kom, en wat van hom gaan word wanneer sy bestemde tyd verstreke is nie. ´n Onoffisiële bywoner, wat ten spyte van die onwaarskynlike wonder van sy sein, deur niemand as gevaar of van belang geag word nie. In wese ´n vreemdeling.

In sy gewone daaglikse oorgawe aan die niet, om homself te help met hierdie rituele oorgawe aan fataliteit, begin hy in Portswoodweg afstap in die rigting van die Waterkant. So in die stap vee hy die slaap uit sy oë. Nie omdat sy voorkoms hom pla nie, maar omdat die slaap nog dik in sy oë lê en Klaas Vakie se sand in sy oë krap. Sy hare is deurmekaar van die nag se rustelose rondrol. Sy blou seilbroek met die broekspype ´n paar keer om die naat gerol is gekreukel en uitgewas en die die wit v-nek t-hemp met die klein gaatjies plek-plek hang los oor sy middel.

Uit ervaring van ander se kortstondigheid is hy elke dag gereed vir ´n transformasie, weg uit sy huidige vorm uit. Dit is eintlik vir hom baie moeilik om te skat hoe lank hy nog gaan bly in die Groenpunt sirkel. Na alles is hy die enigste Mono-Sapiens wat hy ken. Mono is meer uniek as ander – uniek uniek. Vir die enigste in ´n soort is daar geen norm nie. Uniek is alleen. ´n Doofstomme barbaar. Sinneloos in bestaan.

Sy gelaat vergelyk min of meer met die van ´n vyf en twintigjare man. Mono verstaan nie waar hy vandaan kom nie. Hy weet nie van enige ander Mono´s wat hom hiermee kan help nie. Dinge het die laaste paar dae al hoe minder sin gemaak. Sy nagte het onstuimiger geword en hy wens hy kan sy nagmerries onthou – ´n lig vind wat sy onstaan verhelder. Hy lyk vyf en twintig, hy voel vyf en twintig, en soms gedra hy homself soos ´n vyf en twintigjarige. Daar is niks vreemd in sy loop en manier nie. Hy praat gemaklik en pas basiese protokol verbasend toe.

By die voetoorgang aan die onderkant van Portswood word hy amper raak gery omdat hy diep ingedagte nie die minibus taxi sien kom het nie. En omdat hy so maklik angstig raak moet hy nou eers op die sypaadjie sit en wag vir die adrenalien vloed om te gedy. Na ´n paar minute kry Mono sy asem terug – net die deurslag van sweet op sy t-hemp wat sy vreesagtige oomblik verklap.Deels onbekend en deels weens die skrikwekkende ervaring met die taxi besluit Mono dat hy eerder die Waterkant met al die oordadigheid aan mense, motors en verkwisting wil vermy en hy verander die rigting van sy stap teen die kuslyn af.

Daar is baie dinge wat Mono net glad nie kan verstaan van mense nie, en ook nie van al die potensiële jare wat nog op hom lê en wag as Mono Sapiens nie. Terwyl hy langs die see stap wonder hy of hy hieraan moet dink. Sy probleem is dat hy nie ´n mens is nie. Daar is geen verteenwoordigende steekproef nie. En wat sal dit vir hom in die sak bring as hy murmureer oor die kwessies uniek tot homself? So kom Mono tot die besef dat hy rondspring in sy gedagtes en eintlik nooit by antwoorde uitkom nie. Hy dink hy spring so rond in sy kop om floutes en benoudheid vir homself weg te praat, soms selfs hardop en hoorbaar. Wanneer hy te veel aan een onderwerp dink dan raak hy benoud, want die vrae raak al hoe komplekser en die antwoorde minder; en dan begin die wêreld weer bleek raak, dan naar, en as hy nie vinnig sy sit kry nie, sommer swart. So het Mono homself geleer om nie meer te dink nie.

In sy rustige stap lig hy sy ken op en na regs wanneer ´n geringe oomblik van waarheid tot hom deurdring. Die kans dat hy ´n antwoord gevind het op selfs die kleinste element van een van sy vele vrae is ´n oase. Daar is iets wat effens meer sin maak. Die vreemdhede van die mense rondom hom, hulle vrolike en klaarblyklik gesonde gelate, sterk in kontras met sy eie; en sy floutes maak sin. Te midde van al die chaos. Hy vermoed dat hy uiteindelik ´n gemene eienskap tussen homself en mense ontdek het – iets wat hom minder alleen laat voel; dat hulle net soos hy, op die een of ander onbekende stadium ook opgehou het om vrae te vrae. Met floutes oor jare en geslagte, moontlik selfs deur evolusie, lui geraak het om vrae te vrae: veral daardie vrae sonder antwoorde. Of om antwoorde te bied sonder vrae; voor die vraag; sodat ingeval die vrae onwillekeurig uit die bloute sou opduik, daar reeds ´n antwoord is. ´n Alewige gekibbel oor religie, wetenskap en filosofie – koerante en biblioteke vol.

Op die horison, om die draai wat die pad saam met die kuslyn maak, sien Mono ´n plek wat vir hom steeds vreemd bly.´n Groot muur is gebou op die rotse so paar meter van die sypaadjie af, met ´n stel trappe aan die see se kant, amper soos ´n klein amfiteater. Op die oog af, kan die muur nie ´n nuwe konstruksie wees nie: daar is te veel tekens van verval. Selfs die mense daar rond lyk vervalle. Daar is baie dinge wat in Mono se gedagtes posvat as hy by hierde muur kom. Hy verstaan dit glad nie, maar hy verlang (partykeer meer as ander) na geselskap van sy eie spesie. Al weet hy dat hy die enigste Mono is onder die son. ´n Wese geskep vir alleenwees, ook geskep met ´n verlange na geselskap.

Hy begin weer stap en draai sy kop van die kalm baai af weg en kyk na die motors wat in lang gelid in Seepunt se Marine Drive af marsjeer.

"Waarheen is al die mense op pad ?"

Mono word wakker op die grasperk van die Groenpunt verkeersirkel waar hy laatmiddag aan die slaap geraak het. Hierdie slag op ´n park bankie langs die Somersetweg toegee teken. Sy bene en voete opgekrul tot teen sy lyf. Sy arms oorkruis om homself in ´n hopelose bondeltjie vas te hou. Wang en kop skuins teen sy knie. Die neon ligte in Somersetweg is aan die flikker en die laaste bietjie daglig verdwyn in pienk skakerings oor die koue skouer van Seinheuwel. Die einde van nog ´n dag en die begin van die einde van môre.

skrywer: Roedi Nolte

Lewer kommentaar

Leave a Reply