Ma het die Woensdagmiddag vir my gebel om te vra of ek al weet. Ek het nie geweet nie. Oom Seppie het Dinsdagoggend sy laaste lig gesien. Hy en tannie Marie Mostert was op ´n snaakse manier familie van my. So met ´n jakkalsdraai langs is ek aan hulle verbind. My oorlede pa het ´n suster gehad wat ek nooit geken het nie (sy was jonk, en voor my geboorte oorlede aan kanker). Oom Seppie was met haar getroud maar sy het vroeg en ontydig gesterf in haar twintigs. Hy (oom Seppie) was dus reeds voor hy dertig was ´n wewenaar en ook my Pa se swaer en dus ´n aangetroude oom van my.
Maar dit is nie al nie: ook was sy ma, tannie Magda die suster van my pa se ma, ouma Ans, en gevolglik was hulle neefs. Die suster van my pa met wie oom Seppie getroud was, was dus ook sy niggie. En so is oom Seppie nou my dubbele oom.
Na die afsterwe van sy eerste vrou het hy verlief geraak op tannie Marie – soos oom Seppie ook ´n boorling van Elliot. Sy was op daardie stadium ´n onderwyseres by ´n hoërskool in Oos-London. Latyn en Engels was haar vakke. Oom Seppie het by een of ander bank of versekeringsmaatskappy gewerk in die Baai en wou met alle mag en krag trou, maar hy moes eers vir ´n jaar wag om verby te gaan na die afsterwe van sy eerste vrou. Dit was tannie Marie se wet van mede en perse en oom Seppie moes noodgedwonge toegee.
Dit was die begin van sy geluister, want later jare het oom Seppie bekend geword as luisteraar. By sy kinders, sy kerk, en sy werk. En dit het goed gegaan by die werk, want kort voor lank was hy verplaas na sy werkgewer se hoofkantoor in Kaapstad. Nie lank daarna nie was die huis met die tennisbaan in Welgelegen opgerig. Die tennisbaan was ´n belangrike kommoditeit, want oom Seppie het geleef vir sy tennis. Met die vier kinders wat gevolg het, en tannie Marie, het hulle dikwels oor naweke as volle sestal op die baan gegaan en hulle eie drie-aan-´n-kant wedstryde gespeel. Mens sal dit seker ´n soort trippelspel kan noem!
Maar nou het daar ´n groot taak vir my voorgelê: Die huisbesoek aan die rou-ende weduwee. Ek moes maar as gesant van my kant van die familie af meegevoel gaan betoon. Die moeilikheid is mos nou altyd maar wat om te sê. Sê nou daar glip met alle goeie bedoelings per ongeluk ´n ontaktvolle woord uit my mond? In sulke tye moet mens maar hierdie soort vrese besweer. Gevolglik, na my dag op kantoor, het ek manhaftig my pad gevind na die "Mostert Woning" – kenmerkend van hoe die huisbediende die telefoon geantwoord het.
Ek kon maar net hoop vir die beste.
Die nuwe weduwee het op die rusbank gesit in die TV-kamer. Sy het om die beurt haar knieë vasgehou, en dan weer haar hande oor haar gesig gehou – ´n futiele poging om die trane en fronse van smart te versteek. Net gesit en gestaar na ´n foto van die oorlede oom Seppie wat op die nabye koffietafel gestaan het.
Ek het gereeld by hierdie huis gekom. En was altyd onmiddelik ´n koppie tee aangebied.
Tannie Marie het my nie dadelik opgemerk toe ek ingekom het nie – al het ek die klokkie gelui en ´n ander simpatiseerder en trooster vir my die deur oopgemaak het. Ek het maar nader gestap en nie geweet waar om te kyk nie. Almal het vir my gekyk.
"Wie is hy?" het hulle almal gewonder en ek kon hierdie indruk amper van hulle voorkoppe aflees. Ek kon voel hoe die een kant van my lip begin wip het. Die senuwees was maar gedaan, maar wat gedoen moes word, moes gedoen raak. Uiteindelik het die tannie skielik bewus geraak van my en voor ek nog my resitasie van meegevoel kon oordra het sy braaf vir my ´n koppie tee aangebied. So asof ek op daardie stadium dit meer nodig gehad het as sy self. En asof sy sou kon opstaan om dit te maak. Die "Nee dankie" was vinnig en strak en die resitasie kunsmatig. Maar die woorde was uit en die taak verrig.
My verhouding met tannie Marie en oom Seppie was maar altyd een waarin ek die ontvanger was van hulp. Gedurende die tye van my chemiese wanbalanse – toe ek psigies hulpeloos en behoewend was, het ek soms weke lank in die "Mostert Woning" deurgebring. Dit was my rol. Ek was die persoon oor wie hulle hulself kon ontferm sodat hulle kon goed voel. Hulle lojaliteit en senioriteit in die familie is sodoende ook benadruk. Ek moet toegee dat hulle my altyd baie goed versorg het en vir my ook darem laat beter voel het.
Die ongemak het my vinnig daar weggedryf. Ek het vir tannie Marie my hulp aangebied – as sy blyplek soek vir besoekers tydens die begrafnis en "vir enige iets waarmee ek kan help moet sy nie huiwer om my te laat weet nie". Eers nadat ek weemoedig daar weggery het, het ek die wydte van my aanbod besef.
Die begrafnis was Vrydag. Ek het maar die tyd af geneem by die werk en die roudiens bygewoon. Daar is vir my iets goed verbonde daaraan om begrafnisse by te woon. Min tragedies in die lewe is so bevrydend. Ek is darem nog nie ´n patologiese begrafnis bywoner nie en beperk maar my bywoning tot sterfte in die familie, maar ek dink begrafnisse maak vry. Deur begrafnisse word ons oor en oor tussen die oë geboul met die een feit van die lewe en dit is die afsterwe. Ons gaan almal dood. Hierdie besef maak altyd ´n verskil aan hoe ek voel en optree. Na begrafnisse is ek gewoonlik hardegat want wat kan enige iemand dan tog in elk geval aan my doen?
Die naweek by my eie huis het doodgewoon verbygegaan. Maar die Maandag het ek ´n oproep ontvang. Alhoewel hy dood was, was dit nog nie die einde van oom Seppie se latenskap aan my nie.
Tannie Marie was alleen. Sy was geskok, en sy was bang. Sy het my nou nodig gehad. Verskonend en nederig het sy gevra of ek die volgende paar aande nie daar sal oorslaap nie. Die huis is naby aan die hoofpad en die vensters het nie almal diefwering nie. Wat kon ek doen? Ek het tog reeds die afgelope Woensdag daardie oop aanbod gemaak. So ek het ingestem.
Dit was tyd vir my om die tee te skink.
Vir ´n paar dae het dit so gegaan: Na werk na die "Mostert Woning" en soggens van daar af werk toe. Saans het ek aangekom by die droewige huishouding. Elke aand dieselfde storie. Sy kon nie glo hoeveel trane sy het nie. Sy kon nie verstaan waar haar afgestomptheid vandaan kom nie. Elke aand eindelose telefoonoproepe van bure, familie, vriende en ander Welgelegen inwoners. Ek moes net luister. Het nie bevoeg gevoel om raad te gee nie. Dan die lang stiltes en die tydelike en kortstondige verandering van die onderwerp.
Tannie Marie was nog in skok. Die verstrooidheid en vergeetagtigheid, die selfverwyt omdat sy niks kon onthou van die begrafnis nie. Sy het nie geëet nie. Het oor niks anders gepraat nie. Haar gesig het gehang en haar oë was dof met ooglede wat soos verlepte blare halfpad oor haar oë hang. Dit het aangegaan vir ´n paar dae.
Intussen kon ek darem uitvind wat die omstandighede was rondom oom Seppie se noodlot. Toe ek die storie hoor het dit sin gemaak – dit is maar die familie sindroom om aan hartaanvalle te beswyk. Klaarblyklik het oom Seppie, soos sy gewoonte was, ´n potjie Dinsdag tennis gaan speel by die Parow klub. Die vorige week het hy vrot gespeel en ver verloor, maar op daardie bedroefde dag het hy goed gespeel. So goed dat een van sy teenstanders tydens ´n dubbelstryd gevra het watter pil hy dan gedrink het om hom so goed te laat speel. Oom Seppie het kenmerkend en mildelik gelag. Dit was die laaste lag, maar ek weet nie hoe lekker dit was nie want hy het net daar op die plek neergeslaan en is bokveld toe.
Toe ek die aand by die woning opdaag het ek die wit BMW wat die afgelope week in die motorhuis toegesluit was voor die deur in die oprit sien staan. Ek moes elders parkeer. Ek het die klokkie gelui en tannie Marie het oopgemaak. Sy was anders. Haar gesig was lewendig en gegrimeer. Sy het my binne genooi asof dit die eerste keer is wat ek daar opdaag in maande. Die bediende was in die eetkamer besig om die dooie blomme uit die ruikers te haal en op die koffietafel het my koppie tee reggestaan. Ons het op die sitkamerbanke gesit en tee drink terwyl sy vir my vertel het hoe uitspattig die kwotasies is vir die installasie van die diefwering.
Daarna was dit ook die laaste keer wat ek gesien het hoe sy na die foto op die koffietafel staar terwyl sy sug: "Ja Mostert! Toe los jy vir my!". Die skok was verby. Dit was weer tyd vir my om huis toe te gaan, in my eie bed te slaap, en my tradisionele rol in te neem.
skrywer: Roedi Nolte
