deur Babs van der Merwe
Ek het die krag gesien en het dit gebruik. Later het ek die swakheid gesien, wat, toe dit ontbloot is, ‘n ander krag geword het. Maar nie totdat jy duidelik jou gevoelens gewys het, het ek regtig liefde begeer of daarvoor gehoop nie.
‘n Stomende agtermiddag, baie rooiwyn, goeie kos, interessante geselskap en spontane kranksinnigheid begin ‘n droom vir jou en my. Skielik maak almal om ons nie meer saak nie. Jy praat meestal met my, vertel openlik van jou begeerte en ek is onvoorbereid. Ek besef ek is ongeneeslik romanties.
Dis Saterdag, ek sit alleen by die vuur, brei en konsentreer. Ek roep jou telepaties totdat wonder bo wonder, jy my bel. Jy daag op en ons gesels tot laat in die nag.
Jy laat my dinge doen wat ek nie voorheen gedoen het nie. Ek verstaan nie altyd wat jy van my verwag nie, indien enigiets. Jy maak ‘n aanmerking soos dat ek jou moet tyd gee. Ek het nie gevra wat jy bedoel nie – miskien het ek gedink ek weet, of miskien wou ek nie weet nie – en as ek nie by jou is nie, is ek spyt dat ek nie gevra het nie.
Dit is ‘n baie lang naweek. Jy forseer my om my gevoelens te konfronteer sodat ek teenoor myself die realiteit van wat gebeur het, moet erken.
Ek wil by jou wees. Miskien wil ek net herskep wat ek verloor het. Of miskien is hierdie nuwe liefde die werklikheid, hierdie passie wat my dryf, al my aandag in beslag neem, my verlam.
Dat jy op jou beurt by mý wil wees, dat jy binne in my gees wil wees, dat jy meer as net bý my wil wees, kan ek moeilik glo.
En tog, en tog…….
Wanneer ek daardie eerste aand in herinnering roep – dit kon rampspoedig eindig. Ek kan amper nie glo wat jy alles gesê het terwyl ons tussen al daardie mense was nie. Ek kan skaars glo dat jy jou begeerte so duidelik verklaar het. Maar ek onthou graag, selfs al ‘onthou’ ek meer as die werklikheid.
Elke oomblik vandat jy jou gevoelens erken het, is besonder.
‘n Nag in jou geseldkap is glad nie lank nie, al is ons die hele tyd in ander se geselskap. Soos gister onthou ek die rit huis toe terwyl die son stadig die lug inkleur. En later terwyl ons op my bed lê, ‘beskuldig’ jy my daarvan dat ek op jou verlief geraak het, so asof jy dit nie sou wou hê nie. Ek was so bang dat ek jou sou verloor as ek die waarheid erken, maar uiteindelik moes ek erken, al sou ek jou verloor. Jy het my so teer, so sag van agter in jou arms geneem – dié oomblikke vir altyd in my geheue ingebrand.
Om oor en van ons ‘liefde’ te skryf, gee my krag om geduldig te wees totdat jy jou probleme uitsorteer. Ek verstaan dat jy my nie wil belas met jou probleme nie – dit openbaar karakter.
Ek dink ek begin van my stomende swart boekie hou.
Laatnag word ek wakker,
besef slaap is net ‘n woord,
skakel die lig aan.
In hierdie toweruur
verskyn eksotiese blomme
uit swart slierte van die nag,
uit spinnerakke, onkruid, menigtes
van vyande en vriende.
Maar gou, soos so baie maal
in so baie jare
sal ek weer my pad vind
uit drogbeelde van vertwyfeling.
Mag die oortuiging bly
deur die sleur van die dag.
Helaas, die onvolkome oortuigings van die nag
kom gooi skadus oor die dag.
Skielik wil jy praat. Ek kom agter jy het ‘n behoefte aan praat en dat aanraking vir nou nie aangewese is nie – jy wil praat.
Ek gaan sit op die mat by jou voete, naby genoeg sodat ek net nou en dan ‘per toeval’ aan jou kan raak. Jy vertel die verhaal van ‘n belangrike gedeelte van jou lewe. – Jy het soveel beleef en soveel verloor!
En soos tevore wil jy ‘probleme uitsorteer’ sodat ons saam kan wees. Wat bedoel jy? Ek verstaan nie, maar gryp na die hoop van dit wat veronderstel word.
Later weet ons albei dat droom belangrik is vir dromers, maar dat dromers met gewetes nooit hulle drome waarmaak ten koste van ander nie. Maar die bittersoet kennis van liefde wat beantwoord word, maar sonder ‘n toekoms is, is sonder voordeel of beloning.
(God, is daar ‘n plek waar al hierdie onnosel, vrugtelose menslike begeertes opgestapel is? Tel ‘opofferings’ of moes ons in die eerste plek nie begeer het bie? Vergewe my Heer, ek ken die antwoord, ek kan maar net vra wees asseblief geduldug en genadig met hierdie onwaardige kind van U!!)
Vanaand moet ek eers die bybel lees. Ek is gretig vir ‘n boodskap, vir helderheid. Helderheid oor jou en ander sake wat ek nie met jou bespreek nie.
Ek open dit lukraak, dit val oop by die Hooglied van Salamo. Ek gryp na die menslike, die implikasie wat ek graag wil glo. Dit laat my goed voel, rustiger. Laat my selfs glo die toekoms sal geseënd wees. Ken jy die Hooglied van Salamo? Ek sal dit graag eendag vir jou wil voorlees.
(En nou is dit vier jaar later en het ek dit nog steeds nie vir jou gelees nie, en sal waarskynlik nooit. Ek besef ook nou dat ek verstaan het wat ek woú glo, maar die les in die hooglied uit die oog verloor het: moenie die liefde opwek voor dit sin het nie.)
Gisteraand het jy gesê jy het jou probleem opgelos sonder om te sê wat dit beteken. Ek het nie gevra nie en eers later begin wonder daaroor.
Vandag sê jy niks persoonlik nie, met ander woorde, dis verby, hierdie eienaardige verbintenis. En ek kan net dink ek sal ‘n duisendmaal sterf tot ek jou weer sien.
Telkens wanneer ek in sak en as is, kom jy en gee my sekerheid. Ja, jy is reg, miskien is daar iets fout met my. Ek hoop dat jy eerlik sal wees wanneer jy besluit om nie weer te gesels, te telefooneer of te kuier nie, dat jy my sagkens sal laat weet.
Ek kan die waarheid nie ontwyk nie; ek het ‘n obsessie, ek wil gedurig naby jou wees totdat sekerheid nie deur afstand bedreig word nie.
Hou my meer kere net vas, praat asseblief met my, nie net met woorde nie, met jou gesig en oë en MOENIE ophou nie.
Wanneer jy bel, soos Saterdag en my sê wat jy beplan, is ek tevrede met die vetroue dat ek jou sal sien.
Gister was moeilik. Wanneer jy wroeg, wil ek jou voorkop streel totdat die plooie verdwyn, wil ek jou vashou totdat alles weer reg is. Ek wil die golwe trotseer saam met jou, met jou uitspoel op die strand.
Ek het soveel om aan te bied, as jy maar net wil vra. Weereens sterf ek duisendmaal totdat jy sê als is reg.
Skielik is dit jou soene wat ek mis, en herinneringe daaraan bring meteens warmte waar ek leeg is.
Wees asseblief net altyd eerlik met my. Ek tel die ure tot ons weer sien of totdat ek van jou hoor. Kon ons maar weggaan iewers heen: laat ons nie te trots of te selfbewus, of te besorg wees oor ons reputasies nie.
Laat ons liefde seëvier,
laat dit groter as ons egos weesl
Laat ons liefhê
soos individue, sonder oorweging van ouderdom
of skoonheid, of passie, of seks,
of wat verby is, of wat mag gebeur.
Laat ons waarlik lief hê.
Ek bel jou, al het ek vir myself gesê ek sal nie weer nie. Gaan ek jou vandag sien, gaan jy onthou? Ek verlang na jou.
Asseblief, kom ons gaan saam iewers heen. Ek mis jou elke dag wanneer die lug ligroos getint is, daardie magiese uur voor die dag vir oulaas groet, die wind gaan lê en die natuur asemloos wag vir die nag. Perfek, as jy daarin sou wees.
Ek maak ‘n vuur, tuur in die flikkerende vlamme en sien beelde en verse in daarin.
En wanneer die vuur net nog gloeiende kole is, wens ek dat jou arms my toevou, ek jou inasem tot ons vuur weereens hoog brand, voor die tevrede samesyn van liefdesmaats.
Dit voel of ek jou maandelaas gesien het!
Gister het ek geskryf hoe ek jou mis en hoe graag ek in jou nabyheid wil wees. Ek was nie voorbereid vir die ontsaglik aangename verrassing toe jy in die deur staan nie, jou glimlag vol plesier. Ek verbeel my jy sou my so graag wou aanraak. (Verbeel ek my?)
Stuur werklikheid hel toe!
Kom ons speel kamma-kamma.
Laat ons verlief wees, dit sê, dit selfs glo.
Kom ons geniet dit, al is dit net vir een dag.
Beter om lief te hê en dit te verloor as om nooit liefde te ervaar nie!
Beter om jouself en jou gawes met ander te deel as om alles binne in jou op te gaar. Onaangeraak, beperk tot een binneste, krimp dit.
Ek raak liewer verlief en het liewer lief en erken dit. Ek gee nie om wie weet dat ek verlief is, verlief was en steeds verlief is nie.
Om lief te hê sonder gelyke teenprestasie, maak jou nie armer nie.
Die toevallige aanraking van jou hande en doelbewuste aanraking van jou lippe, laat jou geur op my vel en terwyl ek later met ander gesels, ruik ek jou nog en voel ek soos kleintyd in ouma se verekombers.
Ek wil steeds gaan waar ons saam kan wees vir dae, nagte, sonsondergange en opkomste, laataand vure en waar smeulende stompe die alleen getuies van vertroulikhede is. Laat dit asseblief waar word, en as dit waar word, laat dit SO besonder wees, ASSEBLIEF!
Slaap van 24:15 tot 2:30. Staan op, begin hekel, was lakens, maak die bed op; ek weet ek sal nie weer slaap nie. Hoekom het jy nie gisteraand gebel of gekom nie. Hoekom gee ék altyd meer om.
Ek het al geliefdes aan die dood afgestaan, ek sal tog seker ‘n simpel totsiens kan verwerk.
Of sal ek?
Eintlik wil ek nooit totsiens sê nie.
Kom kuier asseblief vanaand.
Jy het gister gesê ons moet liewer nie planne maak nie, maar deur die hele dag hoop ek.
Maar soos so baie maal was die vooruitsig net myne. Ek SAL ‘n einde maak, ek het dinge om te doen:
- doen aansoek vir ‘n bevorderings pos – kom weg van hierdie verdomde plek waar ek gedurig herinner word aan wat ek mag en nie mag doen nie
- neem ‘n paar dae vakansie
- soek ‘n bediende
- vertrou op Hom vir ‘n maat
- BLY UIT DOODLOOPSTRATE!
Ek gaan eet alleen in ‘n retaurant, oneindig treurig, en sit en skryf terwyl ek wag vir die kos.
Later werk ek in die tuin voor ek gaan bad en my voorberei soos vir ‘n bruidegom – wat nie opdaag nie. Ek bel, maar sit die foon neer voor jy antwoord. Ek drink ‘n whiskey en gaan bed toe.
Ek word wakker, dink aan die dag wat verby is, lees die hele Job 40, en toe van Psalm 1, 2, en 3. Ek bid, probeer uit ‘n opregte hart bid. God U is almagtig en groot en ek is s-ó-ó-ó sondig en onwys. Vergewe al my tekortkominge en foute, gee my krag en genade om weer my lewe in gebalansseerde vrede van my gemoed te lewe, soekend na U wil. Bring my op ‘n plek waar ek behoort te wees, en waar ek wil wees.
Ek is s-ó-ó-ó eensaam, wys my die weg om U wil te doen, met u maaltyd te hou. Laat u krag my krag wees, praat met my en wees met my.
Ek ry werk toe, hoor ‘n lied wat presies verwoord wat in my gemoed is. Ek kan nie die woorde of titel onthou nie, ek kan net onthou dat dit weer al die ou verlange en liefde wakker gemaak het.
Dit was so goed vanmôre om met jou te praat en jou gesig te sien. Weet jy hoe dit is wanneer jy tussen familie is en jy mis nogtans iemand so erg dat jy kan huil?
Gister het ek besluit om om te draai op hierdie pad van jou en my, en toe bel jy, jy het my nodig, net om later te laat weet jy kom miskien virseker môre. Ek spaar jou die feit dat ek baie voorberei het spesiaal vir jou, vuur gemaak het ens. Is ek totaal onnosel, van my kop af of ‘n bietjie verlief – of miskien baie.
‘n Gedurige irritasie veroorsaak eelte en gou raak die eelt ongevoelig.
Skielik voel ek koud, nie jonk nie,
kan geen enkele noot druk
wat my uit die moeras kan ruk.
Ek kort nuwe musiek,
red my uit hierdie afgrond
van as en onvaste grond,
uitgebrande kole
van gister se liefdes.
En toe hou jy woord en ons gesels gemaklik en onselfbewus soos ek gedink het dit kan wees.
Nog ‘n dag, ‘n waterige, mistige winteragtermiddag, en ek kyk deur die venster en weet met terleurstelling dat die somer die aftog geblaas het. Bome buig en swaai in die wind. Gelende blare sweef grond toe, nie meer goud nie, maar die kleur van verderf.
Wie het die simpel liedjie ‘Silwer hare tussen Goud’ geskryf? Oudword is meestal afskeid en koud met tweedeklas menseregte vir hulle wat moet plek maak vir ‘n nuwe geslag.
Uitendelik herwin ek my balans. Ek dink ek weet jy gee om – maak dit saak hoekom of vir hoe lank? Maak dit regtig saak?
Jy stap vandag twee keer onverwags in. Ek begin verstaan dat jy goed op alternatiewe maniere probeer sê. Al wil ek altyd meer van jou sien, word ek geduldiger, miskien verval ons in ‘n patroon.
In die rustigheid van laatmiddag op die stoep met koffie in die hand spring gedagtes lukraak uit:
Ek sien ‘n gesig wat ander herinneringe opwek, en ek is dankbaar dat ek nooit ontrou was nie.
Die rose van herfs is meestal soeter gegeur, het ryker kleure.
Is ‘n geskenk waardevoller wanneer ons die waarde ken en ons weet ons gaan dit net vir ‘n klein rukkie besit?
Nog ‘n keer hou jy nie woord nie, sonder om nie eens te bel nie. Jy het in die week wat verby is, nie een keer gebel nie. As ons rolle omgeruil was, hoe sou jy reageer? Jy wat so trots is, sou nie eers erken het dat jy geminag is nie, selfs al was dit so.
Jy behoort nie aan my nie en ek kan geen eise stel nie, nogtans het jy belowe jy sal my nie net gebruik nie.
Gister en eergister was ek oortuig ek sou dit kon hanteer as jy sou besluit om my nooit weer te sien nie. Maar van vroegoggend af is ek bewus dat jy belowe het dat ons mekaar vandag sou sien. Ek negeer versigtiheid, is die ene opgewonde afwagting, kan nie wag nie, staan op en stap in die pad af. Ek is dus nie verbaas toe ek jou van voor af sien aankom nie.
Tog weet ek instinktief dat jy vanaand nie sal kom kuier nie, maar kan nie help om te hoop nie.
En nou is dit fisies seer en is ek verspot tranerig.
BEL ASSEBLIEF!
Weereens is ek die minste, bel jou, en jy belowe en doen toe nie jou belofte gestand nie. Maar jy is die een met ondervinding van hierdie soort verhoudings – miskien moet jy my vertel hoe om ‘n einde te maak aan hierdie situasie wat te veel word vir my. Ek het nie baie tyd oor nie en het nie dié soort spanning nodig nie. Ek het jou lief, wil by jou wees maar het nog my trots.
Maandag deur heel die dag is ek van voorneme om ‘n einde aan hierdie kranksinnigheid te maak. Maandagaand bel jy, ons gaan eet in ‘n restaurant, en gesels vir ure.
Jy bel Dinsdag en Woensdag. Donderdag stap jy in my kantoor in en sê dat jy my lief het!
Ek dink steeds aan jou, al is jy baie stil. Jy sê dit groei …. jou liefde, my liefde of ons liefde?
Jy kom kuier, ons maak liefde.
Dit was gisteraand, vandag is vandag, sonder die oortuigings van gister.
Weereens is ek terug by hierdie malligheid en bitter soos ‘n vrou (soos nooit tevore). Ek wonder oor huwelike; daar is baie wat makliker ‘n boek kon skryf ‘Hoe om ‘n huwelik te vermoor’, as om te skryf oor hoe om te lewe en lief te hê.
Wat is liefde? Miskien is dit die stemmetjie wat verskonings uitdink vir ander
“miskien is hy siek” terwyl jy in werklikheid
- sy stilte as teiken wil gebruik en skree “wat de hel maak jy!”
- wonder wat het van die man geword wat jou gebel het net om jou stem te hoor
- wonder wat het van die man geword wat jou vertrou het met sy hartseer, sy bekommernisse en dronkenskap.
Jy sê weer jy het my lief. Hierdie situasie van liefhê, vertrou en tevrede wees om lief te hê wanneer iemand jou lief het, om te praat wanneer met jou gepraat word, is ongewoon vir my.
Tog begin ek stadig glo dat jy liewer word vir my. Ek wil sing en dans en dit uitbasuin.
En ek dink ek het jou baie, baie lief.
Maar vandag het ek ‘n vreemde, slegte gevoel en ek weet nie hoekom nie.
Ek skryf minder, oorweeg om ‘n einde te maak aan hierdie malligheid.
Tog het ek jou lief, het ek? Is dit goed?
Daar het soveel gebeur in die afgelope week. Aanvanklike opgewondenheid wat later intense pyn geword het. So seer dat ek dit wou uitruk uit my binneste, soos ‘n dier ledemate sal afkou omdat hy nie die strik kan afkou nie. Ek besef die einde is iewers in die toekoms versluier waar ek dit nog nie konfronteer nie. Sê my tog liewer.
Besef jy jy het my verslaaf? Ek sluk en sluk aan die knop in my keel. Jy verplig my om na ander reddingsboeie te gryp. Ek sal my lewe moet herskep, maar léwe sal dit wees.
Ek lees liefdesbriewe van Kahil Gibran.
Dis stil
en dan begin die voëls kwetter
ek gryp die oomblik,
stap na buite,
drink God se skepping in –
Hy wat ook my geskape het!
Vir weke skryf ek nie.
So baie het gebeur, donker, slegte goed, in trane geweek. Jy’s nie hier nie, maar dit pla my nie regtig nie, want jy het behoorlik totsiens gesê.
Weet jy hoe onthou ek, ek sien jou ruie wenkbroue, soos arendvlerke oor jou ietwat Joodse neus, jou bonkige gespierde liggaam. Ek onthou hoe jou gesig kan verhelder wanneer jy lag, die plooitjies om jou oë en jou sensuele mond. In my gedagtes streel ek weer met my vinger al langs die lyne van jou gesig, die ronding van jou wange, jou ken ……
Dit word lig buite en jy slaap iewers ver van my af. Hoekom het ons nog nooit alleen iewers heen gegaan nie,
om wakker te word langs jou
te sien hoe jy stadig wakker word,
miskien weer die liefde te laat seëvier
met die hele dag voor ons.
Om net saam te wees, te sit en lees, na musiek te luister, TV te kyk en soos ‘n kind op jou skoot aan die slaap te raak.
Ek sien ons paradys. ‘n Huis op ‘n afgeleë strand, met baie vensters, geen binnedeure, gordyne van die fynste, dunste gaas lewend in die wind. En jy geklee in ‘n wit katoen hemp met groot wye moue. Jou hemp oopgeknoop, sodat ek jou sterk, harige borskas kan sien, sodat ek jou kan geniet en die passie in jou oë kan sien en jou weer hoor sê jy het my lief.
Ek kom baie laat by die huis, met opset. Die nag is donker en nat. Dit reën saggies en ek wonder of jy onthou wat reënweer aan my doen. Die wind bring die bome om die huis uit hul stilswye en hulle sing soos die see. Ek wonder hoe ek ooit sonder jou sal oorleef.
Wanneer ‘n skildery klaar is, is dit klaar. Deur aan te hou om daaroor te verf, gaan dit nie beter maak nie.
En nou is dit klaar. Jy besef dit nog nie. Noudat ek besluit het, is jy die een wat planne maak vir die toekoms.
Meer as ‘n jaar is verby.
Ek leef in ‘n ander wêreld, met ander drome, tussen die lewes van ander, raak hulle aan maar bly onaangeraak
When you love at random
emotions flare with abandon
and when the passion’s spent,
there’s no content.
I wonder what today will bring?
Will I stick to my conviction?
Rid myself of this addiction,
without recriminations
or accusations?
Just say good bye
without a tear or sigh.
Keep your head
don’t go to bed
while shadows fall,
when the room is too small.
Rather stay a while,
find an answering smile.
walk along the street
where there’re people to meet.
As iemand die gegorrel vind, sal daar baie wees om te raai, leemtes om te vul soos hy wil. Daar is net twee voorwaardes, maak dit die moeite werd en interessant!
