Dis blerrie warm in die ou Peugeot bakkie, ten spyte van die oop agtervenster (wat nog steeds nie vervang is nie). Oom Hansie beur skoon vorentoe in ´n poging om bietjie ekstra spoed te vang, sy gesig die ene konsentrasie. Vlekkie lê langs die Oom op die sitplek, uitgepaas óf van die hitte, óf van pure vrees.
By die ouetehuis stop die Oom in ´n (nou reeds kenmerkende) stofwolk en klim uit terwyl die bakkie nog die laaste diesel in sy binnegoed uitproes, Vlekkie kort op sy hakke. Oom Hansie trek sy rugbykouse netjies op, check die vellies se veters en suiker dan teen die breë rooigepoleerde trap op.
“Kom Vlekkie, dit bly my gat se deksel dat ouetehuise en kerke se trappe altyd so snotglad gepolies word. Seker om ´n gesonde omset te handhaaf. Shame die dominies kan seker doen mettie ekstra geldjie wat hy vir begrafnisse kry. Mirrag Ant Lalie.”
Die laaste opmerking rig hy aan ´n tantetjie wat op een van die stoele op die stoep sit en die Oom dink by homself dat die personeel hier verseker vir ´n week of so van Ant Lalie in die bad moes vergeet het. Ant Lalie is die enigste oorblywende familielid van ´n verlangse niggie van hom en dis meer uit plig as enigiets anders dat hy haar so eenmaal ´n millenium kom groet. Gedurende die kuiertjies sit hy en Ant Lalie dan op die stoep en kyk vir die tuin en die karre wat verbykom. Enige gesprek grens aan waansin aangesien sy nie net stokdoof is nie, maar ook ´n stewige klap weg het van die Alzheimers. Oom Hansie het heelwat simpatie want hy het al selwers na ´n sessie by die plaaslike watergat wakker geword tussen vriende wat hy van g´n kant af ken nie.
“Goeiemiddag jong man, en hoe voer u die van?” vra Ant Lalie dan. Siestog, haar ou bekkie lyk dan kompleet soos een van daai opgestopte kussings se knope, dink hy by homself. Vlekkie het homself intussen wyslik eenkant onder een van die potplantstaanders gaan tuismaak. Hy weet uit ondervinding dat die teenwoordigheid van enige oumens gewoonlik ´n poep oplewer waarvoor hy terstond die skuld sal kry.
“Ek is Hansie Ant Lalie, ek is mos familie van die Humans daar van Robertson” skrou die Oom.
Ant Lalie kyk so sewe grade links boontoe in bepeinsing van hierdie nuus. Sy het duidelik nie ´n koekin kloe wie hierdie Fransie is nie en nog minder wie die Schoemans van Baberton is. “O” sê sy dan na ´n stigtelike stilte en rig weer die waterblou ogies op die Oom: “Bly te kenne”.
“Dis darem vreeslik warm vandag, of hoe Ant Lalie?” bulder Oom Hansie.
Ant Lalie knik haar kop “Ja-nee, mense is voorwaar geestelik verarm” sê sy in ´n stem wat besonder helder is vir iemand van haar jare. “Ons kan net hoop dat hulle besef vandag se vreeslike hitte is ´n voorsmakie van die helse smarte wat gaan volg op hul misbruik van drank en die aanbidding van Mammon.”
“Hehehe” lag Oom Hansie onderlangs. Toe sy skielik weer na hom kyk sluk hy die lag in, amper saam met sy valstande.
“Goeiemiddag jong man, en hoe voer u die van?” vra Ant Lalie dan onverwags en steek haar hand uit.
Oom Hansie is weer verplig en lê die hele familie uit, van Pontius tot Pilatus, alles terwyl hy soos Paulus van ouds in ´n groot stem uitroep.
Ant Lalie lig een van haar verrimpelde arms op en wys na die koppies in die verte. “Daar was gisteraand juis sulke mooi ligte in daardie rigting, ek dag dit is die laaste dagen wat uiteindelik aangebreek het”.
Die Oom knik heftig met die kop, te bly vir die nuwe rigting van die gesprek. “Daar was erge vure in die berg Ant Lalie, ons het gisteraand tot laat die vure met nat sakke doodgeslaan”.
“Hoesê?”
Weer met ´n groot stem: “Ek sê daar was erge vure in die berg Ant Lalie, ons het gisteraand tot laat die vure met nat sakke doodgeslaan.”
Sy kyk Oom Hansie lank aan met daai waterblou ogies en slaan dan met haar hande op die leunstoel se armleunings. “Tiere met nat takke doodgeslaan! Voorwaar ´n kordaatstuk!”
skrywer: Bert van der Walt
