Hoofstuk 1
Vir Maryna
Voorwoord
Ek wil graag met die stuk hulde bring aan jong mense wat bereid is om te veg vir wat hulle wil hê in die lewe. Dit is nou wel nie ‘n stuk wat geskryf word deur ‘n professionele hand nie, en daar mag dalk spelfoute wees – so lees eerder met gemak, en nie asof dit jou werk is om mense ( skrywers ) te kritiseer nie. Dit is ‘n boek wat gerig is op ‘n gedeelte van my persoonlike lewe, tot en met my ouderdom – 25 jaar oud.
Ja; dit mag dalk klink of ek nog jonk en onervare is, maar lees die stuk; of selfs net ‘n stukkie daarvan en kyk of vandag se jeug werklik so ‘agter’ is in die lewe volgens ‘groot mense’. U weet, ek het in my lewe gehoor dat: ‘sommige mense word groot – en andere word volwasse’.
Ek weet dat die stuk tien teen een ‘n minderheid Suid Afrikaners sal bereik omdat dit ‘n Afrikaanse boek is.
Dit is ‘n storie van my lewe, die lewe self, die liefde, die haat, die uitskuif van ‘n individu, geloof en lewenswyse.
Dit is ‘n stuk geskryf tussen verlede en hede.
Lekker lees.
Hoofstuk 1
Het enige iemand al gedink hoekom moet ‘n mens soms voel soos wat jy voel? Is dit werklik nodig?
Ek moet erken dat ek baie ver van emosioneel eg is vandag. Maar op sulke dae dan dink ek altyd aan die dag wat eens was, maar nou verby is en dalk nooit weer sal wees nie. Dalk was dit ‘n dag wat God gegee het, wat my altyd moet herinner aan hoe dit voel om werklik verstaan te word, en dat niemand ooit weer sal verstaan nie. Laat ek jou ‘n brief gee dat selfbejammering nie die antwoord is nie, dit laat jou net nog meer onseker voel oor jou self, en moet nie vergeet dat dit jou selfvertroue in flarde skeur nie.
Maar hoekom sal God dit dan toelaat dat so iets ‘n ware kind van hom oorkom? Straf hy jou, of toets hy jou om te kyk of jy hom sal ken in al jou weë sodat hy jou paaie vir jou kan gelyk maak? Is dit dan aan die ander kant so maklik om te vergeet dat God altyd daar sal wees vir jou en dat hy vir jou iemand gestuur het sodat jy nie alleen sal wees nie?
So baie vrae en so min antwoorde en tyd om na te dink. Ja, wat ek nie sal opoffer vir net nog een so ‘n dag nie.
Ek dink aan dae, goeie dae wat God gee, en dan wonder ek hoe dit kan wees dat sulke dae soos vandag nog kan bestaan. Dae wat ‘n mens voel dat jy niks werd is nie en dat jy niks daaraan kan doen om dit te verander nie.
Dan dink ‘n mens soms ook aan die dae wat mense jou prys en laat voel dat jy ook iets vir die samelewing beteken, en jy voel ‘n bietjie beter. Hoe kan ‘n mens dan voel dat jy word lief gekry as dit vir jou blyk dat mense nie met jou wil meng nie, want hulle dink jy is te reguit as jy vir hulle sê hoe jy voel. Het hulle dan nog nooit so gevoel nie?
Dan kry ‘n mens natuurlik die tipe mense wat vir jou sê dat hulle sal verstaan as jy sou verkies om met hulle te gesels, en jy maak die opoffering om na hul toe te gaan en te vertel hoe jy voel oor wat gebeur het in jou lewe dan sê hulle vir jou dis goed hulle verstaan en dat jy net so moet aangaan met jou goeie lewenswyse in Jesus Chritus soos jy dit doen. Wat help dit? Sê eerder vir my hoe ek kan verander om meer aanvaarbaar te wees vir ander mense sodat hulle sal wil vriende wees met my en my sal laat voel ek word vertrou en ek is ook iets werd.
Is dit nie dalk hoekom God ons toelaat om op die natuurlike aarde te wandel, en hom te soek nie? Maar wat nou as jy hom reeds gevind het en hom raadpleeg en hom vra om jou voor te berei op dit wat mag wees, dan weet jy aan die einde van die dag nog steeds nie watter kant toe nie. Is daar dan enige iemand wat regtig weet hoe dit voel om werklikwaar lief te hê en liefgehê te word? Ek dink daar bestaan wel sulke mense, hulle is net te yl gesaai vir ander om te weet van hulle! Snaaks genoeg dink mens dan aan die tipe dae wat als voel asof dit in stadige aksie verby jou gaan, en asof tyd so stadig verby gaan en asof die oomblik waarin jy dan verkeer nooit sal eindig of verby gaan of vergeet word nie. Nou moet ek vra hoekom daar so min sulke dae is? Soveel mense het al vir my gesê die lewe is wat jy daarvan maak! Dan wonder ek net of hulle al ooit emosioneel seergekry het en as hulle het hoe het hulle daaroor gekom? Want daar was ‘n dag wat ek saam met jou gedeel het Maryna en as ek verduidelik hoe die dag verloop het gaan jy presies weet watter dag ek van praat, maar dit kom eers later.
As ek en jy nog saam was sou ons vandag ses jaar en nege maande saam gewees het so jy kan maar uitwerk wat is vandag se datum, en vandag dink ek aan jou en hoe ek jou per toeval weer ontmoet het by Klerksdorp se Publieke swembad, met jou pa so vreeslik konserwatief da langs die swembad! Ek kan onthou dat, toe hy jou daar gesien gesels met my, hy jou dadelik geroep het en jy elke vyf minute gesê het: “ Nog net vyf minute asseblief pa!?”. Ek het dadelik geweet dat jy belangstel om weer met my te kan gesels, en my te herontdek na soveel jare!
Ek het jou nooit vertel nie, maar die dag daarna het ek my fietsry roete drasties vinnig verander sodat ek net by julle huis kan verby ry met die hoop om jou gesig te kan sien, of selfs net ‘n glimlag op jou sprankelende gesig.
Ek onthou dat jy en jou ma. kort na ons herontmoeting, elke aand op die stoep gesit en wag het vir my om met die fiets verby te kom sodat julle kan groet! So het dit gegaan tot ek genoeg moed bymekaar geskraap het om die een aand daar te stop en bietjie te gesels. En dit is waar ek van voor af op jou verlief geraak het, amper twaalf jaar nadat julle uit die huis oorkant ons getrek het, ver weg, Johannesburg toe.
Ek onthou nog dat jy daardie eerste aand ‘n lang wit rok aangehad het met ‘n pienk blom motief op, en ‘n pienk T-hemp. Jy’t vir my so mooi gelyk, sonder grimering, kaalvoet en los lang rooi hare! Dit voel nou vir my ek staan weer voor julle stoep en kyk na jou! Dis nogal snaaks hoe ‘n mens nie sulke dae kan vergeet nie.
Dit is vandag nogal lekker om te kan terugdink aan dae soos die wat ons gedeel het. Soms kom daar ‘n nuwe hoop en ‘n nuwe verwagting; baie onverwags op jou pad. Soos byvoorbeeld die Saterdag voor my verjaardag in 2005. Die hoof doel was om vir jou ma te gaan hallo sê. Ek het na kerk gou daar gestop, uit my kar geklim, voordeur toe gestap en die deurklokkie gedruk. Daar was geen antwoord nie en ek het besluit om maar eerder dan te klop aan die voordeur. Ek was yskoud toe jy antwoord en vra: “ Wie’s daar?”. Ek is seker daarvan my hart het vir so drie slae stilgestaan van opwinding. Ons het toe weer lekker gesit en kuier. Eers saam met jou ma en Michaella en later het ons soos altyd voor in die sitkamer gaan sit. Ek sal dit nooit vergeet nie, jy op die enkelbank en ek op die een aan die oorkant van die sitkamer.
Ons het begin gesels oor dingetjies wat net ons van weet en kan kennis dra, dit is wat die gesels so spesiaal gemaak het. Later het ek voor jou gaan sit op die grond met my bene gevou en jy het jou bene op die stoel gesit, so na die eenkant toe opgetrek. Toe vat ek jou hande in myne en ek vra vir jou: “ Wat onthou jy alles?” en jy het my geantwoord en gesê:”onthou jy daai dag in Pretoria? Die dag wat ons nie ‘n woord vir mekaar gesê het nie, maar die een het tog geweet wat die ander een volgende gaan doen en opgestaan en gaan help?”. “Ja, hoe sal ek dit tog ooit vergeet?” was my antwoord. En wanneer ek nou hier tik en weer terugdink aan die spesifieke dag, sien ek jou weer wakker word, jou oë so sagte groen, jou lippe so sag soos jou verruklike bors, jou hare als deurmekaar geslaap. Dit was vir my die dag wat jy nog die mooiste ooit was. Onbeskryflik beeldskoon.
Dit is BAIE moeilik om dit te kan begryp wanneer twee mense dit nie saam ervaar het nie, dit let wel met volle sekerheid gesê. Soms wonder ek of daar ooit twee ander mense was wat so iets gedeel het, en ek kry altyd in my hart sekerheid dat daar nooit iemand anders sal wees wat kan lewe en ervaar wat ons gelewe en ervaar het nie. Dan kry ek altyd ander mense so jammer dat dit nooit met hulle sal gebeur nie, want ek weet dat dit sekerlik die sterkste gevoel is wat twee mense kan deel. Dit is net soos wat die Engelse spreekwoord sê: “ A great friend is someone who you can sit down with for a day, never say a word, standing up and walking away feeling that that conversation was the best conversation that you have ever had”. Al wat bygevoeg is vir ons is die feit dat ons met mekaar kon kommunikeer sonder enige woorde of frases.
Om terug te kom na die punt toe. Ons het daardie Saterdagaand tot laat gekuier 24:15 om presies te wees. Jou ma het voor sy gaan slaap het my oorgenooi om te kom koffie en koek geniet by julle huis met my verjaardag, die Dinsdag in die daaropvolgende week. Ek het so gesmag en begeer om vir almal wat ons ken te kan sê wat ons gedeel het, maar ek het geweet dat daar baie mense sou wees wat sou gekant wees teen ons herontmoeting omdat jy getroud is met ‘n ander man wat ver weg werk en ‘n lewe het daar.
Dinsdag het toe aangebreek en ek het vir die persone wat help dekor verf het vir die toneel gesê ek is genooi na julle toe. Gelukkig het ons redelik vroeg klaar gemaak by die kerk en ek was stiptelik 20:30 by julle huis. Diè aand was jou suster egter daar saam met Willie en hul kind. Gelukkig het hulle nie baie later gebly as nege-uur nie. Net nadat hulle daar weg is het jou ma vir Michaella gevat en gesê dat sy gaan slaap. Hierdie keer het jy anders gereageer. Jy het op die dubbelbank gaan sit naaste aan die radio, en ek het ook nie op my laat wag om langs jou te gaan sit nie want ek het geweet dat jy my graag daar sal wil hê, daar langs jou. Alhoewel jy gesê het dat jy jou man mis het ek geweet dat jy graag eerder sou wou gehad het dat ek jou man moes wees. Ek kon die verlange na my so diep in jou siel sien en ervaar dit was ongelooflik. Die gevoel wat ek gehad het wanneer ek in jou oë ingekyk het was asof ek my kop in jou gesig indruk, fisies binne in, en dat ek rond kan kyk binne in jou, en elke keer wanneer jy iets onthou wat ons gedeel het, het jou hart gebloei. Die bloed het daaruit geloop, hoe sterker die gevoel en varser die gedagte hoe meer bloed het geloop.
Tot vandag toe, na ses jaar wat ons uit is, is die gevoel nog steeds netso sterk indien nie sterker nie. Ek sit vandag hier en dink aan die ‘deal’ wat ons daardie dag gemaak het. Jy sou die week daarna Johannesburg toe gegaan het om werk te gaan soek, sodat Michaella naby haar pa kan wees en sy nie hoef groot te word soos jy dit gestel het: “ Sonder ‘n pa soos ek” nie.
Die ooreenkoms wat ons aangegaan het is dat ons geen kontak sal hê totdat jy terug is van daar af nie. Geen smse, geen oproepe, geen kuier by jou ma en sy vertel jou ek was daar nie, absoluut geen kontak nie, tot en met die Sondag daarna. Wel dit is nou die Donderdag ‘n week nadat ons die ooreenkoms gemaak het, en ek hou goed uit, maar ek belowe jou dat dit ongelooflik moeilik is vir my om te wag op die antwoord. Elke dag wil ek net die telefoon optel en bel om te hoor of jy toe al werk gekry het of nie.
Want ek weet dat sou jy gaan en werk kry dat jy nooit weer sal terugkom nie. Jy sal net ‘n naweek of wat in ‘n maand dalk vir jou ma kom kuier, AS die finansies dit toelaat. Aan die anderkant weet ek dat sou jy gaan en nie werk kry nie dat jy terugkom…. vir my!! Dit is hoekom dit seker so moeilik is om nie te weet wat aangaan nie.
Dis vandag darm al Saterdag, en ek kan nie vir jou beskryf hoe moeilik dit is om nie aan jou te dink nie. Ek sit eerlikwaar hier met ‘n groot verwagting en dit is dat jy sal terugkom môre en vir my sal sê dat jy terug is om ‘n lewe saam met my te begin.
Vandag was regtig vir my ‘n baie rustige luilekker dag alleen by die huis. My ma-hulle was na my oom Chris se verjaardag partytjie toe en ek het bietjie tyd gehad om alleen te wees vir die dag. Ek het vanoggend begin deur uit die boek te lees wat jy vir my verjaardag vir my gegee het te lees en glo my, daarna het ek gebid soos lanklaas. In teendeel, ek bid al die hele week so! Ek dink net ouens wat hul meisies vra om verloof te raak kan so bid soos ek die afgelope week al gebid het vir dinge tussen ons om vir ewig te kan uitwerk.
Ek het ook vanoggend my derde vak geskryf van die tekenaarkursus wat ek besig is om te voltooi. Ek het my kar gewas, en bietjie lekker hotdogs vir myself gemaak. Ek gaan bieg en sê dat ek ook na vier vanmiddag drie keer verby julle huis gery het om te sien of jy nie al dalk by die huis is nie. Na dit het ek huis toe gekom en bietjie sport gekyk en ook ‘n dokumentêre program oor seekatte en inkvisse, nogal interessant. Deur dit als kon ek maar net nie ophou om aan jou te dink nie. Dit wil vir my voorkom asof ek weer op my ou treintjie is, jy weet mos, die een waar ek weer van voor af verlief is op jou en net eenvoudig niks kan doen of regkry wat my gedagtes van jou af kan aflei nie.
Toe my pa-hulle by die huis kom na die partytjie het ons redelik vinnig vasgehaak op ‘n punt waaroor ons nie kan saamstem nie en ek is na my kamer toe, musiek kliphard. Jy weet mos dis my weghardloop styl daai. Gelukkig weet ek dat hulle werklik verkeerd is die keer, so ek gaan my nie eers steur aan wat hulle te sê het nie.
Nou sit ek by my rekenaar en tik. Weereens dink ek aan jou en wens dat jy net hier kon wees, met jou kalmerende hande en sagte stem wat alles sommer met een woord kan red en regmaak. Snaaks dat ek nou ‘n gedagte skenk aan die dag wat jou ma so kwaad was vir my omdat ek na Charmaine se werk toe was oor – jy weet watse saak – Ek was briesend daardie dag oor wat gebeur het en ek en jou ma het harde woorde gehad, en ek weet dat sy my nooit by julle sou wegjaag nie, maar as sy darem moet weet hoekom ek daai dag so briesend kwaad was dink ek sou sy moord gepleeg het. Uit respek vir jou sal ek dit nêrens in die boek ophaal nie, ek belowe.
So gepraat van beloftes, Marna ons ontvangsdame by die werk was in die begin na ek jou weer gesien het vreeslik geïnteresseerd om te weet wie jy is en wat tussen ons gebeur het dat ons eintlik toe uit mekaar gedryf is. Later het ek haar seker geïrriteer of iets want sy het my gemaak belowe dat ek nie weer oor jou sal praat tot en met Maandag wat kom nie. Gelukkig hou ek my belofte sovêr aan haar. Ek het vir haar gesê dat ek glo dat as ek my belofte aan haar kan hou dan sal jy terugkom met ‘n JA vir my.
Wel dis nou agt uur die aand en ek hoop dat ek teen die tyd môre sal weet wat die antwoord is. Orraait kom ons maak dit half nege. Hoe vinniger hoe beter, eerlik gesê. Ek dink nie jy weet werklik watter heerlikheid jy in my hart kan gee sou die antwoord ja wees nie. Ek gaan gou die CD’s skryf wat ek jou belowe het vir die Dinsdag wat ons mekaar laas gesien het en ek hulle vergeet het. Dit mag dalk nie noodwendig die musiek wees wat ons altyd gedeel het nie maar ek glo dat die woorde van die liedjies jou ‘n duidelike verstaanbaarheid sal kan gee oor hoe ek verander het in die laaste ses jaar en ook hoe ek nou en nog altyd oor jou gevoel het en steeds voel en altyd sal voel, net soos God is my liefde vir jou steeds onveranderlik, indien nie sterker nie.
skrywer: Spook
