‘n Dag van stilte 2

Wel heelwat tyd het verloop tussen laas wat ek geskryf het en nou. So hier is ‘n paar gedagtes van die tyd wat verloop het tot nou toe:

Ek het toe my antwoord gekry en ek is tevrede om te hoor dat jy toe wel werk gekry het. Dit is effens van ‘n swaar pilletjie om te sluk en dit breek my so bietjie om te weet dat ek nog moet wag om jou weer in my arms te hê, maar die Engelse het nog ‘n spreekwoord wat nou van toepassing is: “ Good things come to those who wait” en ek glo dit met als wat in my is. Ek weet net tyd kan ons almal vertel wat gaan gebeur, en een of ander tyd sal ons beter verstaan dat daar tog ‘n doel is daarmee, die vraag is net, wanneer gaan al die dinge tog tot ‘n punt kom en finaal verby wees?

Ek dink baie keer aan hoe ‘n belangrike rol vriende in ‘n mens se lewe kan speel. Soms is dit goed om net te weet dat daar wel iemand is om mee te praat, maak nie saak waaroor nie, sommer net chat. Ander kere voel jy dat jy net met die een vriend kan gesels oor ‘n sekere saak wat opduik in jou lewe, gewoonlik baie onverwags, omdat dit die enigste persoon is wat regtig sal verstaan hoe jy voel en ook die enigste een na wie se raad jy sal luister.

Ek wil graag in die hoofstuk bietjie hulde bring aan goeie vriende van my. Hulle is ‘n getroude paartjie, hulle bly op die stadium regoorkant ons in die huis waar julle eers gebly het. Hulle is Wouter & Wendy Hornsby. Geen ander persoon kan vriende hê soos hulle nie, en ek bedoel niemand. Ek hoop van harte dat ons twee sommer gou saam by hulle sal kan gaan kuier! Wendy kan natuurlik nie wag om die ‘wonderwerk vrou wat vir Leon getem het’ te ontmoet nie, elke nou en dan vra sy vir my of jy nie al terug is vir my nie. Werklikwaar twee fantastiese mense. Ek ken vir Wouter van kleins af omdat hy en sy ouers saam met ons in die kerk is. In ons jonger jare het ons nie eintlik regtig baie gesels of gekuier nie, en toe op ‘n dag het ons net ‘gekliek’. Van daardie dag af het ons ‘n vriendskap begin bou en daar is vandag bitter min dinge wat ons vriendskap sal verbreek. Wendie het intussen bygekom in sy lewe, hulle het getrou en nou het ek twee goeie vriende.

Daar is regtig heelwat ander mense wat ek ook seker kan noem wat regtig vir my goeie vriende was en op wie se knoppie ek soms nog druk wanneer ek baie alleen voel of iemand nodig het om mee te gesels, byvoorbeeld Hans Peens vir wie jy al ontmoet het, en natuurlik Andro. Glo dit of nie maar die mannetjie gaan dalk een van die dae trou!? Dit wil nou gedoen wees. Dat ek die een was wat altyd gesê het dat ek eerste gan trou, en daar trou hy nou voor my, wil jy nou meer.

Hierdie vriende wat ek hier noem is die uitnemendste vriende uit my vriendekring. Ek noem graag hulle name want ek dink werklik dat wanneer ‘n mens sulke vriende het niemand ooit vir jou ‘n vyand kan wees nie.

Nou wil ek bietjie praat oor ons vriendskap, jy weet mos, die soort vriend met wie ‘n mens vir ewig mee wil vriende wees. Daar is ‘n liedjie wat sê: ‘How can we be lovers if we can’t be friends’. Ek weet vir ‘n feit dat daar geen ander twee mense op die aarde is of was of ooit sal wees wat sulke goeie vriende en maats kan wees, mekaar soveel ondersteun en onderskraag, liefhet, help, leer of mekaar emosioneel so gelukkig kan maak soos ons twee nie, NIEMAND!!!

Daar is geen beter maatjie wat my lewe kan makliker maak, gelukkiger maak of voller van vreugde maak as wat jy dit kan doen nie, dis ‘n feit en dit sal vir ewig die waarheid wees. Sou ek ‘n vriend soos jy verloor in die lewe sal my lewe leeg wees, my dae sal bestaan uit gedagtes van wat kon gewees het en al die maniere wat ek eerder moes probeer om jou vriendskap te sou behou. Ek wil jou nooit verloor as my beste maatjie, vriendin, verkose huweliksmaat en sielsgenoot nie. Ek sal my arms stomp baklei, tot ek my laaste asem moet uitblaas as di sou beteken dat ek jou glimlag weer een keer kan sien, weer een keer in jou arms kan wees of jou selfs net op ‘n afstand sien glimlag.

Wanner ek terug dink aan die dae wat ons op die stoep gekuier het tot wie-weet-watse-tyd in die nag dan is dit die gedagtes wat ek graag saam met my wil graf toe vat wanneer God besluit dat dit tyd geword het vir my om die lewe te verlaat. Tot en met daardie dag sal jy my beste mens volgens my wees wat bestaan in die lewe en sal die enigste een wees vir wie ek my lewe sal gee.

skrywer: Spook

Hoofstuk 1 | Hoofstuk 3

Lewer kommentaar

Leave a Reply