‘n Dag van stilte 3

‘A fall from grace is never a pretty sight’. Dit het ek ook al gehoor mense sê, maar wat ek nou voel is sekerlik die ergste in ‘n leeftyd se bestaan. Die weerspreking van jou woorde het my aan flarde geruk. Ons het gepraat oor die foon so tien minute terug, en wat jy vir my gesê het het my van voor af vertrap, gebreek en in stukke laat spat.

Ek sal nie sê waaroor ons gepraat het nie, maar jy het gesê dat dit die laaste kontak is wat ons met mekaar sal hê. In my hart in my hele wese en in my hele bestaan weet ek dat jy hierdie keer vir my die dinge gesê het omdat jy moes. Ons al twee weet dat jy dit al van tevore vir my gesê het, en kyk wat het intussen gebeur.

Ek dink dit is goed dat ek nou skryf, want dit is in tye soos die wat ek die eerlikste is, jy weet mos. Ons is almal geneig om nou en dan te jok.

Daar is tye wat jy gejok het, oor kontak met my, vir hom gejok het. En ek weet dat jy nie vir hom sal jok as jy dit nie wil wegsteek nie. Ek weet ook dat jy hom nie sal sê al vra hy jou om hom te vertel nie want dan is jou huwelik verby. Dit is die dag wat ek vir jou oor die foon van vertel het wat sal kom. Die dag wat jy so seer gaan hê en die dag wat jy so ongelukkig gaan wees oor die feit dat ek en jy tog kontak gehad het intussen.

Die ander moontlikheid is dat hy jou tog weer gaan verneuk. As ‘n mens dit eers een keer kon regkry raak dit volgende keer net makliker. Ons al twee weet dit. Ek weet ook dat jy dit nie wil hê nie alhoewel dit gaan gebeur, hy sal dit net beter wegsteek die keer. Ek weet want ek is ‘n man, en sommige mans doen dit. Ek bid net dat dit nie met jou moet gebeur nie, want dan is jou wêreld soos myne nou is; op sy kop gekeer, rondgeskud en dan verwag ander mense dat die lewe net moet aangaan.

Het ‘n mens nie juis dan bietjie tyd nodig om als weer in plek te kry nie? Gelukkig was ek waar jy nou is, daar waar ‘n mens moet besluit waar jy jou nou bevind en waarheen volgende. In jou geval, sê jy, is dit soveel moeiliker om te besluit omdat jy getroud is en omdat Micaella ook nou daar is, en ek begryp en verstaan dat jy nie graag wil hê dat sy jou op ‘n dag moet verwyt omdat jy nie haar pa nog ‘n kans gegee het om dinge te probeer uitwerk nie. Soms kom daar net ‘n dag wat jy ‘n lyn moet trek en sê: “genoeg is nou genoeg”. Dink jy nie daai dag het al aangebreek vir jou nie?

Om die eerlike waarheid te praat dink ek daai dag was ses jaar terug meer van belang. Die dag wat jou pa gesê het dat ek jou nie meer mag sien nie en dat hy my gaan doodskiet as hy my weer by julle huis vang by jou kuier. Ek dink daai dag moes jy vir hom gesê het dat dit nie oor sy geluk gaan nie, maar oor joune. Ek weet dat dit wat gebeur het dat jy getrou het nie nou sou wees nie sou jy daardie dag vir hom gesê het. En ja, dan sou Michaella nie nou daar gewees het om jou lewe op te vrolik wanneer jy dit die nodigste het nie, maar tog sou daar ander dinge in jou lewe gebeur het wat jou soos ‘n koningin sou laat voel het.

Dan dink ek dringend terug aan die dag wat ons ‘n jaar lank uitgegaan het. Ek het die huis se sleutel by jou ma gekry die dag tevore, en ek het my oor ‘n mik gewerk met die voorbereiding van ons sjampanje ontbyt. Ek het ‘n pizza bord gevat en aarbei, appels, pere, lemoene, druiwe, roosterbrood, marmite, koemkwats en klein ‘cocktail’ tamaties daarop gepak. Die sjampanje wou nie ook op gepas het nie en ek het dit toe maar in my hande moes dra. Tot vandag toe weet ek nog nie hoekom nie, maar jy het in jou ma-hulle se bed geslaap die vorige aand. Ek het gewag totdat jou ma werk toe gery het voor ek soontoe was. Ek het saggies aangery gekom met die kar om seker te maak jy slaap nog wanneer ek binnekom.

Dit was tot op daardie datum die rustigste wat ek jou nog ooit gesien slaap het, so vredevol, so gelukkig. So asof niks jou pla nie en asof die wêreld die beste plek was waar ‘n mens kon wees. Met jou hare so sag en effens deurmekaar, jou mooi oë rustig gesluit vir die nag se rus. Jou bene naby aan mekaar maar tog nie op mekaar nie en jou hande al twee onder jou kussing saamgevoeg, asof jy besig was om te bid. Ek het jou wakker gesoen daai oggend, sag en teer op jou wang. Jy het eers diep asemgehaal en breed geglimlag sonder om jou oë oop te maak asof jy geweet het dit is ek wat by jou is. Daarna het jy my omhels en ek het langs jou gelê… net vir ‘n rukkie. En jy het jou groot oë oopgemaak en gesê: “goeiemôre” so asof jy iets in gedagte het om te doen. Ek het toe opgestaan en vir jou gesê om net daar te wag tot ek terugkom. Ek het gou die sjampanje in die glase gegooi, op die skinkbord gesit en kamer toe gedra.

Ek onthou hoe jy gehuil het van verbasing.

Op dae soos vandag wil ek net sit en terugdink aan die dae wat ons gedeel het, en ek wil saam met jou sit en kuier daaroor, jy weet, die goeie tye. Al daardie dae wat ons so saam gedeel het. Die vreugde, die heerlikheid, die liefde, die trane van geluk en die trane van hartseer omdat ons so goed bymekaar pas en op so ‘n wrede manier uitmekaar geskeur is, weg van jou. Daar is baie ander dinge en dae waaraan ek ook dink, private dinge tussen jou en my. Nou sal hulle net onthou bly en nooit weer wees nie.

Nou het jy my laat weet dat daar nooit weer… nooit weer ‘n dag van stilte sal wees nie.

Hierdie gedagtes skryf ek vir jou, sodat jy ook nooit sal vergeet nie en altyd sal terug kan dink aan ons dag van stilte …

skrywer: Spook

Hoofstuk 1 | Hoofstuk 2

Lewer kommentaar

Leave a Reply