"Siena, Sienaaaaaaa!!!"Dis nog donker en Oom Hansie brom verwoed terwyl hy op die saaidboard tussen al die ongeopende rekeningkoeverte rondkrap, op soek na die Peugeot bakkie se sleutels. Vlekkie handhaaf ´n waaksame afstand, gereed om dekking te slaan by die eerste teken van moeilikheid.
"Nee magtag, wat sou sy nou met die verdomde sleutels gemaak het? Die mense raak deesdae al hoe meer onbehulpsaam."
"More meneer" begroet die tandelose gesig hom onverwags van agter. Oom Hansie en Vlekkie leviteer momenteel.
"Hygent hert der jagt ontkomen… Kwits Siena, het jy nie respekte vir ´n mens nie? Waars die bakkie se sleutels?"
Toe Oom Hansie met sy kenmerkende stofwolk wegtrek van die werf, gloei sy ore steeds. Pleks hy eers in die bakkie gekyk het voor hy vir Siena gevra het.
"Jy moet vashou Vlekkie, die baas is haastig" skreeu hy dan agtertoe om sy verleentheid te verberg. Vlekkie is egter goed geskool en is al besig om deur die agterruit te klouter op pad na veiliger oorde.
By die lisensiekantore op Rayton hou Oom Hansie stil. Daardie stofwolk wat hom so onvermoeid volg kry egter nie betyds gebriek nie, en sweef oor die lang tou mense voor die toe deure. Die gekug en kwaai kyke gaan by Oom Hansie verby, want hy is besig om sy rugbykouse netjies op te trek voor hy by die ry aansluit.
Die Oom groet die onbeskofte nek voor hom vriendelik "More neef en hoe voer u die van?"
So met die omdraaislag prewel die man voor Oom Hansie iets soos Haanseklou of Pansegrouw of iets.
"Wel neef, hoe lank dink jy gaan ons vandag hier staan?" vra die Oom. "Ek het spesiaal vroemore diekant toe gery, want ek hoor die toue daar in my geweste is bietjie lank."
"Ek weet nie Oom, ek het maar sopas hier aangekom, maar hierdie ry is heelwat langer as die een met die afspraakmense in."
Oom Hansie skuif sy hoed reg op sy kop. "Afspraakmense?"
"Ja Oom, daardie paar mense daar voor het blykbaar afsprake of iets" "Se gat!" bulder die Oom. Heelparty van die ander in die lang tou knik instemmend en rek hulle nekke nuuskierig toe die Oom vorentoe begin beur. Swanger vroue en klein kindertjies ervaar onmiddellik die spanning as ondraaglik.
By die trappe staan so ´n stuk of ses mense, duidelik selfvoldaan in die wete dat hulle onderskei word van die groter trop deur meer as insig.
"Wie van julle het afsprake?" Al ses steek met selfvertroue hul hande in die lug.
"Dit doen my leed aan om julle mee te deel dat alle afsprake gekanselleer is tot verdere kennisgewing. Val maar agter in die ry."
Die meeste gemoedere het gekalmeer eers lank nadat die polisie op die toneel opgedaag het, die meeste hiervan in ´n gees van samewerking na die gebruik van traangas. Gelukig en tot almal se verligting begin die ry beweeg en Oom Hansie kon voor donker weer onder die peerboom op die werf stilhou, sy nuwe liksensaansoek ingedien en ingesleutel op rekenaar.
Dit was eers twee dae later dat Oom Hansie in die Beeld lees van die Rayton Munisipaliteit se onbetaalde rekeninge en dat die Balju genoodsaak was om die munisipaliteit se goedere op te skryf en te verwyder, die lisensiekantore se rekenaars inkluis …
skrywer: Bert van der Walt
