Uit verdienste

Hy verdien beter!
Beter as ´n vrou wat moedswillig die belangrikste aand van sy loopbaan – néé, sy léwe wil ruïneer.
"Wat bedoel jy, jy gaan nie saam nie?" ´n Donker frons verjaag die opgewonde liggies uit Paul se oë en hy haal ´n slag diep asem.
"Ek gaan nie saam nie. Ek is moeg om soos ´n perd op ´n skou te voel, wat jy net uithaal wanneer jy jou kliënte wil beïndruk! Paul, ek is jou vróú. Wanneer laas was ons alleen saam? Ek sien jou nooit, behalwe as ek aan jou sy moet wees vir ´n funksie. Aand na aand eet ek alleen, wag ek alleen, gaan slaap ek alleen. Ek is bly hulle maak jou vennoot, maar wat van my? Wat van ons? Dus, jy kan kies: ´n aand saam met my, of ´n aand saam met jou nuwe vennote – sonder my."
Haar oë ontmoet syne, maar hy verstaan nie haar blik nie.
"Lief. Kan ons dit nie liewers alleen vier nie, net ek en jy? Hier by die huis? Hierdie kan ´n nuwe begin wees – dis nog nie te laat nie." Haar hande glip onder sy hemp in en vir ´n oomblik is haar asem warm teen sy oor, haar tong klam om die skulp gevou. "Ons steek ´n paar kerse aan, maak ´n lekker bottel wyn oop en dan wys ek jou die satyn goedjies wat ek vanmiddag gekoop het."
Woedend vee Paul die vaas vol blomme voor hom van die koffietafel af.
Lucille gee ´n paar treë terug wanneer die kristal aan ´n duisend stukke spat en die water oor die marmervloer begin kruip, roosblare gekneus tussen die skerwe.
"O, so my geld is goed genoeg om uit te gee, maar jy kan nie van jou kosbare tyd afknyp vir ´n geleentheid wat régtig vir my belangrik is nie? Jou selfsugtige." Hy byt die heftige woorde net betyds af, stoot haar ru uit sy pad en storm by die voordeur uit.Dit verg konsentrasie om op die besigheidskaartjie tussen sy vingers te fokus.
Dalk is dit nog nie te laat nie. Die funksie het reeds begin, maar hy ís immers die eregas, dis sy groot aand!
Eregas sonder sy beeldskone vrou aan sy sy. Sy vrou na wie almal altyd uit vra, met wie almal altyd wil gesels, komplimenteer… Om haar draai die mans soos bye. Dit bied Paul geleentheid om naby die invloedryke spelers te kom en van blote kennisse vriende te maak. Oor die laaste jaar het hy só ´n kontakte netwerk opgebou wat meer as een keer reeds vrugte afgewerp het. Soos nou met die Van Tonder kontrak.
Hugo van Tonder is by verre die grootste kliënt wat Paul se firma nóg gewen het. Die kontrak is meer as vyf miljoen Rand werd en Paul se gevolglike aanstelling as jongste vennoot bloot net ´n formaliteit. Alles te danke aan Lucille. Lucille wat vanaand van alle aande dwarstrek en hom verwyt. Hoe kan sy weier om saam met Hugo en sy ander sakekennisse ´n glasie te gaan klink op sy bevordering!
Paul neem nog ´n groot sluk whisky en skud sy kop. Nee, dit is te laat. Hy kan immers nie alleen gaan nie. die vernedering is nét te erg. Dan maar liewers sy sukses in ´n hotelkamer vier. Met sjampanje en… Hy tel weer die besigheidskaartjie op.
Desiré.
Johnny agter die vyfster kroegtoonbank het belowe sy is presies wat hy nodig het. Nie régtig ´n hoer nie, net. baie eksklusiewe geselskap vir sy eensame groot aand. ´n Sensitiewe, pragtige vrou wat wél verstaan hoe om ´n belangrike man te waardeer. Te ondersteun. Saam met hom bly te wees dat dit wat hy so lank voor gewerk het uiteindelik sy kant toe kom. Om hom die aandag en erkenning te gee wat hy verdien.
Die klop aan die hotelkamer deur vang hom onkant, al verwag hy haar. Hy sluk vinnig die laaste van die mini-bar whiskey.
Sy staan met haar rug na hom toe, in ´n roosrooi aandrok laag gesny agter en sy oë trek onwillekeurig na onder waar die gleufie tussen haar rondings tergend vir hom loer. Bandjies van fyn kristalkrale skitter oor haar kaal rug en hy huiwer onseker, ´n roering van herkenning diep onder die drank begrawe.
Skerwe op ´n marmervloer.
"Desiré?"
Sy draai om. Haar grimering is swaarder as wat hy gewoond is, die lang blonde hare in krulle uitgeblaas en haar oë dood, maar dis onmiskenbaar sy.
Lucille.
Sy vrou wat hy so trots met elke man deel.

skrywer: Louié Schoeman

Lewer kommentaar

Leave a Reply