As ons kuier is dit lekker om oor die alledaagse te praat. Op die keper beskou is ons gesprekke ongelukkig baie vlak en as ons van `n geselligheid huis se kant toe staan, voel `n mens leeg en onvergenoeg omdat jy jou tyd so kon mors. Soms is daar probleme of verskille (nog nie geskille nie) wat deurgepraat moet word. Dan het ek en jy ‘n keuse om dit te laat verbygaan en maak asof die probleem nie bestaan nie of die persoon in die oë te kyk en jou sê te sê! Paulus moes ‘n "moeilike" man gewees het – ‘n in-die-oë-kyk man. Petrus skryf dat hy soms moeilik is om te verstaan (2 Pet 3:16) en dan was daar die skrobbering wat Sefas eers in Jerusalem (Hand 15) en weer in Antiogieë (Gal 2:11) gekry het. Geen wonder hy is so ‘n bietjie sku teenoor die mede-apostel is nie! (My gedagtes dwaal na die storie van die proponent wat op die plattelandse dorpie kom preek het. Hy was nou nogal vurig. Na die diens het "eerlike Elsa" hom vanuit die hoogte voor die konsistorie se trappies geroskam met: "Jy is nog nie eens ‘n peperment nie en jy gedra jou al soos ‘n ekstra strong.")
Was Paulus ‘n "ekstra strong" of was hy `n ekstra strong as daar genoegsame rede daarvoor was? Wat maak dat ons nie optree soos `n Wilsons XXX strong-peperment. Petrus het sommer goed deurgeloop onder Paulus se pen. Lees gerus weer Gal 2:11ev. Dit gaan oor oorgelewerde gebruike wat nou belangriker word as die Evangelie self. Of het dit? Paulus vat Petrus aan oor twee dinge naamlik sy teologie en sy huigelary. Sy gevolgtrekking is dat deur hul gehuigelary hulle van die "reguit pad van die Evangeliese waarheid" afgewyk het deur te sê dat die genade aangevul moet word deur die onderhouding van die Joodse tradisies soos bv die besnydenis. Dat een bloedbroer ‘n ander bloedbroer van huigelary moes beskuldig, het eerder gegaan oor "sterk evangelie" wat nie plek had vir kompromieë nie! En moenie dink dat hy dit nie goed bedoel het, soos eerlike Elsa nie.
1 500 jaar later weerklink Martin Luther se hamerslae op die hoofdeure van die kerk in Wittenburg deur Duitse grondgebied en ook die res van die beskaafde wêreld teen die alewige byvoeging deur die mens van eie dade / verdienste by die Here se genade, pleks van "Genade alleen …."! ‘n Sterk evangelie het mos nie plek vir kompromieë nie!
Watter nut ‘n gehuigelary sou dien, weet ek nie so mooi nie? Trots, selfgelding, maak nie saak wat die sielkundiges sou sê nie – Petrus se optrede en sy standpunt was en bly ‘n aantasting van die Boodskap van die Evangelie! Dit kan net sy oorsprong hê in die brousels van die duiwel om mense te verlei – weg van die ware Lig na die ewige duisternis.
Goddank vir "ekstra strong" Paulus want sy woorde het die hele Christendom geraak en in die ware gelowiges se lewens die verskil gemaak. Ja, ook joune en myne!
Ons hoef nie vandag briewe teen die kerk se deur vas te kap om God se "ekstra sterkes" te wees nie. ‘n Briefie op die kopkussing of in die e-possak kan ‘n wêreldse, nee hemelsbreë, verskil maak! Of nog beter, wees jy die brief van Christus (2 Kor 3) waartoe Hy jou geroep het. Solank jy net vashou aan God se "ekstra sterk" Evangelie en "ekstra sterk" genade – alleen! Wanneer laas was jy "ekstra strong" ter wille van die Evangelie en ook ter wille van mense (gelowiges?) wat voor die suurtjies van die duiwel gebuig het. Daar is net een ekstra Sterke in die wêreld, `n peperment met `n geur tot die lewe …
skrywer: Emile de Villiers
